Landbou

Eierkrisis: Bedryf vrees vrot eiers uit Brasilië

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Reuters
Foto: Reuters

Terwyl Suid-Afrikaners veral in die noordelike provinsies sukkel om eiers op winkelrakke te kry, is daar nou 'n eiergooiery oor die oplossing - en van dié eiers is dalk vrot.

Die plaaslike eierbedryf is ten sterkste gekant teen 'n voorstel dat regulasies verander word sodat eiers ouer as 40 dae in Suid-Afrika verkoop word.

'n Groot kosinvoerder sê die eiertekort kan opgelos word as eiers van Brasilië ingevoer kan word, maar geen invoerder gaan die risiko waag dat eiers hier gaan aanland wat te oud is vir winkelrakke nie.

Die ergste uitbreking van voëlgriep tot dusver in Suid-Afrika het gelei tot eiertekorte, veral in die noorde van die land.

Volgens dr. Abongile Balarane, hoof van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) se eierorganisasie, het die eierbedryf onder normale omstandighede nagenoeg 27 miljoen lêhenne wat daagliks eiers lê. Tot op hede is 6 miljoen van dié henne van kant gemaak en nog 3 miljoen is moontlik met voëlgriep besmet.

Sapa reken eiers kan uit buurlande soos Zimbabwe, Namibië, Angola en Malawi, wat almal voëlgriepvry is, ingevoer word.

"Ongelukkig is swak, vrot eiers tydens die vorige voëlgriepuitbreking, in 2017, in Suid-Afrika gestort vanuit Suid-Amerika. Dit het ons bedryf se reputasie skade berokken omdat verbruikers ontevrede was met die produk."

Dit was juis dié epidemie wat gelei het tot regulasie 345, wat bepaal eiers ouer as 40 dae mag nie in Suid-Afrika verkoop word nie. Dit sluit plaaslik geproduseerde, sowel as ingevoerde eiers in.

Die bedryf ondersteun glad nie die beroep van Hume International dat regulasies verander word sodat eiers ouer as 40 dae ingevoer kan word nie. Balarane sê almal moet by die reëls van die land hou.

Sy doen 'n beroep op die departement om vinniger te beweeg om invoer van buurlande moontlik te maak.

Jonathan Katz van Hume International meen eiers wat reg verkoel is, kan tot ses maande nadat hulle gelê is, veilig geëet word.

Maar Balarane sê die eiers word tydens verskeping verkoel, maar dan aan Suid-Afrikaanse omgewingstemperatuur blootgestel, wat dit vinnig laat afgaan.

Katz het onlangs in 'n verklaring 'n beroep gedoen dat perke op die invoer van eiers tydelik verlaag word om die krisis op te los - en dat die regulasies hersien word om 'n volgende krisis te vermy.

Katz sê in 'n ideale wêreld duur dit net twee weke om eiers van Suid-Amerika na Suid-Afrika te verskeep. Oponthoude verleng egter gereeld die proses, wat beteken invoerders het geen waarborg dat die 40-dag-limiet gehaal sal word nie - dus wil hulle ook nie die finansiële risiko neem dat 'n hele verskepingshouer vol eiers afgeskryf moet word nie. Dit kos in die omgewing van R1 miljoen.

Balarane sê op haar beurt: "As 'n bedryf het ons ten volle ingestem om eier in poeier- en vloeibare vorm op groot skaal in te voer wat hoofsaaklik in kosproduksie gebruik word sodat al die beskikbare vars tafeleiers na verbruikers gekanaliseer kan word.

"Dit sal ons help terwyl ons ons broeisels herbou en wag dat inentings in Suid-Afrika goedgekeur word."

Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het onlangs aangekondig sy sal die invoer van bevrugte eiers, asook eierprodukte, versnel, wat Balarane beskryf as "goeie stappe om 'n bedryf tydens dié krisis by te staan".

Poeier- en vloeibare eier word veral vir die vervaardiging van souse soos mayonnaise en ander verwerkte kos gebruik.

Katz merk op dat Suid-Afrikaners eiers met 'n bruin dop verkies weens wanpersepsies oor gehalte. "Die waarheid is, wit en bruin eiers is presies dieselfde en ons moet die plaaslike mark aanmoedig om wit eiers te aanvaar, wat makliker is om van lande soos Brasilië in te voer."

Hanlie Stadler

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM