Die belangrike rol wat landbouskoue speel, is onlangs op die Agri-Expo-ledeskoukongres bespreek.
Hierdie kongres het op 25 en 26 Julie by Houw Hoek buite Grabouw plaasgevind en fokus jaarliks op opleiding vir verteenwoordigers van landbouskoue.
Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, het op die kongres gesê dat volhoubare landbouskoue 'n belangrike rol speel op die platteland om landbou te bevorder en plaaslike ekonomiese ontwikkeling te stimuleer.

Volgens Milford het vanjaar se kongres weer eens 'n geleentheid vir 80 afgevaardigdes van die Wes- en Noord-Kaap gebied om hulself te meet en met nuwe denke na hul onderskeie skoue terug te keer.
"Vanjaar het ons program gefokus op die vermoë van skoue om aan te pas in 'n veranderende omgewing, relevant te bly in uitdagende tye en sodoende 'n volhoubare voortbestaan te verseker," sê hy.
Oor die twee dae het verskeie sprekers oor landbou gesels. Louis Wessels, Agri Wes-Kaap se regsverteenwoordiger, het op die belangrikheid van grondwetlike verpligtinge gefokus, asook hoe om bates van skoue te beskerm.
Dr. Noluvuyo Magadla, direkteur van dieregesondheid van die Wes-Kaapse landboudepartement, het die bek-en-klouseer-uitbreking in detail bespreek.

Andries Wiese van Hollard het klem gelê op die belangrikheid van vennootskappe tussen skoue en borge.
Corné Botha van die George-landbouskou het raad gegee oor die optimale benutting van skouterreine.
Corné Nel van BKB het as borg van die geleentheid gepraat.
Daar is ook 'n ereprys aan Ian Koch oorhandig vir sy lewenslange bydrae tot die skoubedryf van Suid-Afrika.
Koch is sinoniem met die Swartland-skou in Moorreesburg, waar hy ongeveer 50 jaar betrokke was. Hy was ook by die destydse Kaapse skou betrokke en het jare lank in die Agri-Expo-raad gedien.
Op die kongres het Agri-Expo verskeie pryse oorhandig aan skoue wat in die volgende kategorieë uitgeblink het:
- Prys vir innovasie: Swartland-skou;
- Prys vir jeugontwikkeling: Riversdal-skou;
- Prys vir nuwe toetreder in ontwikkeling: Clanwilliam-skou;
- Prys vir gehalte-aanbieding: Swellendam-skou; en
- Prys vir gemeenskapsbetrokkenheid: Williston-skou.
- Besoek www.agriexpo.co.za vir meer inligting oor Agri-Expo se ledeskoue.














