Deur verskeie geleenthede aan te bied waar kennis gedeel word, maak die Suid-Afrikaanse wynbedryf se professionele liggaam (SAWIPB) die bevordering van professionele ontwikkeling en vaardigheidsverbetering moontlik.
Hierdie liggaam het sedert Augustus verskeie geleenthede aangebied waar die deel van kennis (Knowledge Donation Days) die fokuspunt was.
In die interaktiewe sessies verskaf hulle aan mense in die bedryf 'n waardevolle platform waar kundigheid gedeel kan word én mense meer kan leer.
Die eerste sessie het gefokus op die bemagtiging van jongmense in primêre produksie en gehandel oor wat dit behels om 'n loopbaan in die wynbedryf te bou.
Die sessie het onder meer 'n wingerdsnoeikompetisie ingesluit, met verteenwoordigers en studente van die Universiteit Stellenbosch, Elsenburg-landboukollege en die Kaapse Skiereiland-Universiteit van Tegnologie se Wellington-kampus.
In die tweede sessie is op sekondêre produksie gefokus waar die belangrikheid van gehaltebeheer beklemtoon is.
Deelnemers, onder wie gehaltebestuurders, het die behoefte beklemtoon aan lewenslange leer om relevant te bly en deurlopend 'n hoë peil te handhaaf.
"Die kennisdeeldag skep by elkeen van ons by Nederburg 'n bewustheid oor hoe ons as 'n besigheid kan verbeter.
"Ek is al 13 jaar in die bedryf, maar dit is altyd goed om weer herinner te word en jou kennis te slyp. Ek sal beslis hierdie insigte met ons personeel deel," sê Bronwyn Langeveldt van Nederburg.
Volgens die SAWIPB is hierdie dae as 'n "belangrike belegging in die toekoms van wynmaak en die bevordering van 'n nuwe geslag van bekwame, passievolle mense wat innovasie en volhoubaarheid in die wynbedryf sal bevorder".
Hulle deel dat die dae ook 'n geleentheid vir jongmense in die bedryf bied om met kundiges te skakel, praktiese ondervinding op te doen, en komende neigings te verken wat die wêreldwye wynlandskap beïnvloed.
Volgens Kachné Ross, mense- en vaardigheidsontwikkelingsbestuurder by die SAWIPB wat betrokke is by die projek, help die sessies om te verseker dat selfs kenners se vaardighede voortdurend geslyp word.
Die SAWIPB se wyntoerisme-en-bemarkingsraad het ook Dinsdag 'n sessie aangebied waarin hulle op junior proelokaal-ambassadeurs gefokus het.
- Bron: SAWPIB














