Landbou

Formula One stel rekord op

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die boerbokram Formula One het pas gewys dat hy nommer een is deur die hoogste prys te behaal.

VEA Stud Breeders, 'n nuwe toetreder van Bonnievale tot die boerbokbedryf, het onlangs die hoogste prys van R1 050 000 vir Formula One, van die Lukas Burger-boer­bokstoet, betaal.

Dit oortref die vorige hoogste prys van R300 000 wat VEA in Maart vir Coke, ook 'n Lukas Burger-boerbokram, op die elite Black Tie Blue Blood-veiling in Bloemfontein betaal het.

Slegs 10 telers wie se bokke die meeste punte op die Boerbok-wêreldskou behaal het, en die vyf telers wie se diere die hoogste gemiddelde pryse op die jaarlikse nasionale veiling gekry het, mag aan dié prestigeryke veiling deelneem.

Op dieselfde eksklusiewe veiling het VEA ook die twee duurste ooie gekoop van onderskeidelik Salmon van Huyssteen vir R260 000 en van Gerrie Ferreira van Karoo Livestock Exports vir R225 000.

Formula One, 'n boerbokram uit die Lukas Burger-boerbokstoet van Griekwastad, waarvoor VEA Stud Breeders, 'n nuwe toetreder tot die boerbokbedryf in Suid-Afrika, meer as 'n miljoen rand betaal het.
Formula One, 'n boerbokram uit die Lukas Burger-boerbokstoet van Griekwastad, waarvoor VEA Stud Breeders, 'n nuwe toetreder tot die boerbokbedryf in Suid-Afrika, meer as 'n miljoen rand betaal het.

Presteer is in sy bloed

Formula One, 'n beproefde stoetvaar op Burger se plaas Rietfontein by Griekwastad, kon nie verlede jaar aan die wêreldskou deelneem nie omdat Burger se seun Abraham een van die drie beoordelaars van die boerbokafdeling was.

Maar hierdie bielie van 'n bokram spog op 85 kg met die titel as reserwe- oorgewig kampioen-ramlam op die Noord-Kaapse kam­pioenskappe in 2022, en die Noord-Kaapse agttandkampioen/reserwe- senior kampioen en reser­we- groot kampioenram in 2024.

Formula One sal na raming aan die einde van die huidige lamseisoen meer as 300 lammers vir Burger gelewer het sedert hulle hom in 2022 begin gebruik het.

Sy nageslag volg in hul vaar se bokspore en presteer ook goed. Sy een seun (762-23-133) is vanjaar op die Noord-Kaapse kampioenskappe aangewys as junior kampioen- ramlam, en sy een dogter (762-23-538) op die Sentraal-Binnelandse streekskou by Vryburg as die junior kampioen-ooilam.

Formula One kom uit 'n roemryke voorgeslag. Sy pa is die beproefde stoetvaar Maserati, wat in 2021 die wêreld- groot kam­pioenram was en op sy tyd vir 'n Suid-Afrikaanse rekordprys verkoop is. Sy ma, Demi Lee (762-17-284), spog met die titels reserwe- senior kampioenooi en reserwe- groot kampioenooi op die Noord-Kaapse kampioenskappe in 2019, 'n derde plek in die sestandklas op die wêreldskou van 2019, asook 'n sesde plek in die agttandklas twee jaar later as 'n jong volbek-ooi op die wêreldskou van 2021.

Demi Lee was ook die ma van Volvo, nog 'n stoetvaar uit die Burger-boerbokstoet wat spog met 'n nageslag van 576 lammers in die stoet - duidelik 'n getuigskrif van die rol wat 'n ongeloof­like ooi in 'n stoetery kan speel.

Formula One is tans by GeneCo Repro, waar sy semen gevries word vir uitvoer en gebruik deur VEA Stud Breeders. Wanneer die proses afgehandel is, sal hy na sy nuwe bestemming by Bonnievale vertrek.

"Die Lukas Burger-boerbokstoet glo dat Formula One vir VEA Stud Breeders 'n ongeloof­like tipe, kapasiteit, balans en algehele korrektheid sal oordra soos wat hy vir ons gedoen het," sê Abraham Burger.

"Ons heet ook graag VEA Stud Breeders baie welkom in die boerbokbedryf. Ná 'n onlangse besoek aan Bonnievale kon ons sien dat hulle baie hoë doelwitte stel en hulle sal vir seker in die toekoms 'n sleutelrol in die bedryf speel en 'n ambassadeur wees vir die ras waarvoor ons so lief is."

William Smit (links) van VEA Stud Breeders van Bonnievale en Gerrie Ferreira van Karoo Livestock Exports op Chandelier met die bokke wat VEA op vanjaar se Black Tie Blue Blood-veiling in Bloemfontein gekoop het. Foto's: VERSKAF
William Smit (links) van VEA Stud Breeders van Bonnievale en Gerrie Ferreira van Karoo Livestock Exports op Chandelier met die bokke wat VEA op vanjaar se Black Tie Blue Blood-veiling in Bloemfontein gekoop het. Foto's: VERSKAF

Nuwe toetreders

VEA Stud Breeders behoort aan VEA Group Holdings (Edms.) Bpk. Die maatskappy het sowat 10 jaar gelede tot stand gekom, maar die boerbokke is 'n nuwe onderneming wat hulle aanpak.

VEA beplan om die nuwe stoet op 'n plaas tussen Bonnievale en Stormsvlei te vestig.

Volgens William Smit, finan­siële adviseur en woordvoerder, is die plaas 1 665 ha groot. Sowat 500 ha daarvan is ou landerye wat voortaan vir die saai en baal van lusern, hawer, bitter-lupine en droëland-lusern as voer vir die boerbokke gebruik sal word.

Die boerdery sal uit twee af­delings bestaan, naamlik die stoetery, met sowat 500 ooie wat semi-intensief bestuur sal word, en 'n kommersiële kudde van sowat 2 000 ooie wat ekstensief bedryf sal word.

"VEA Stud Breeders staan vir die teling van uitnemendheid," sê hy. "Ons visie is om een van die beste stoettelers te wees wat topklasdiere teel wat oral ter wêreld in aanvraag is. Ons beplan om binne die volgende twee jaar 500 stoetooie en uitstekende stoetramme hê, en die topstoetdiere wat ons tot dusver vanjaar aangekoop het, sal daartoe bydra.

"Formula One se bydrae sal van onskatbare waarde wees, veral as 'n mens sy prestasie tot op hede in ag neem. Ek wil seker maak ons bekom die korrekte bloedlyne en koester ons verhouding met ander telers en buitelandse kliënte."

Die uiteindelike doel met die kommersiële boerbokboerdery is om vleis aan die plaaslike mark en toenemend aan die buitelandse mark te lewer.

"Daar is tans wêreldwyd 'n groot tekort in die vleismark en VEA Stud Breeders voel ons kan 'n verskil maak met diere van 'n hoë peil. Die inheemse Suid-Afrikaans veredelde boerbok se vleis is van die gesondste rooivleis beskikbaar en ons sien die geleentheid om daartoe by te dra dat in die markaanvraag voorsien word," sê Smit.

Ferreira se mentorskap

Volgens Smit het hulle alles wat hulle van boerbokke weet by Gerrie Ferreira geleer, wie se mentorskap tot dusver 'n groot rol in hul besluitneming gespeel het.

"Ons het Gerrie verlede jaar op Nampo in Bredasdorp ontmoet," vertel hy. "Hy het van sy mooiste diere daar kom wys en dit het dadelik ons oog getref. Ons het met Ockie Nel, Gerrie se skoonseun, begin gesels."

Vroeër vanjaar het Smit en Kobus van der Merwe, VEA se plaasbestuurder, Ferreira se eerste 2024- junior boerbokkursus op Chandelier bygewoon. As geakkrediteerde beoordelaar by die SA Boerboktelervereniging en met jare se ondervinding in die boerbokstoetery- en kommersiële bedryf, is hy bekwaam om die kursus aan te bied.

"Ná die kursus stap 'n mens regtig daar weg met groot opgewondenheid, 'n tevrede hart en ongelooflike kennis. Ons het nog baie om by hom en ander telers te leer," sê Smit.

Ferreira sê Van der Merwe was die dux-student in die kursus. "Dit is net nog 'n bewys van die VEA-groep se toewyding tot die boerbokbedryf."

Getalle nog nie reg

Dit is algemene kennis dat boerbokvleis skaars is en selde in die vleisafdeling van supermarkte aangetref word.

"Ons het in 'n stadium probeer om boerbokvleis op 'n gereelde grondslag aan 'n supermarkgroep te lewer, maar daar is te min boerbokvleis beskikbaar om dit volhoubaar te doen," sê Ferreira.

Volgens hom word die slagbokke wat beskikbaar is uit die hand vir kontant verkoop en die bokke word lewend na hoofsaaklik KwaZulu-Natal geneem, waar die plaaslike bevolking dit opraap.

Die bokke in die omgewing word na Chandelier gebring, van waar agente dit na KwaZulu-Natal vervoer.

"Die vraag is groot vir wit bokke met rooi koppe, maar ook toenemend vir suiwer wit bokke, wat die savannas bevoordeel. Dié bokke word volgens tradisie vir doeleindes gebruik wat eie aan die inheemse gemeenskappe se geloof is," sê Ferreira.

Volgens hom beteken dit dat die bokke 'n sekere deel van die jaar goeie pryse behaal, maar oor die algemeen verdien hulle heelwat minder as in die piektye.

"Vir die gehalte van die vleis behoort ons 'n premie te kry, maar omdat daar te min bokke beskikbaar is om op groot skaal te slag, is dit nie tans moontlik om die vleis volhoubaar te bemark nie."

Ferreira glo baie meer kan gedoen word om plaaslike bokke met die veredelde boerbok te kruisteel om meer vleis te lewer, maar dit is nie 'n maklike proses nie.

"Bokboere glo oor die algemeen hul bokke is meer gehard en hulle wil nie met daardie eienskap peuter nie. Hulle besef nie hoe verstommend vinnig die boerbok­gene baie meer vleis kan produseer nie, maar nou ja."

Volgens Ferreira gebeur dit ook dat baie boerbokboere ter wille van finansiële oorlewing aanteelooitjies laat slag.

"As hulle 'n premieprys vir hierdie diere kan kry, sal dit nie nodig wees om gehalte-aanteel­diere te laat slag nie. Dit het 'n enorme nadelige uitwerking op die bokvleismark, want ons kan nie die getalle opstoot as boere gedwing word om aanteeldiere vir kontant te verkoop nie," meen hy.

Uitvoere winsgewender

Ferreira, wat die afgelope 28 jaar SA boerbokke, savannas en Kalahari Reds na 53 lande uitvoer, sê hy kry hy baie meer geld vir sy bokke in die buiteland as plaaslik.

"In die buiteland is die bokke hoog in aanvraag, want die mense is bewus van die waarde van goeie genetika vir kruisteling van rasse en 'n hoëgehalte-vleis.

"Hulle sien die waarde van ons bokke wat plaaslik misgekyk word. Hulle koop ons beste bokke en hulle betaal goeie geld wat meer is as die Suid-Afrikaanse markprys vir stoet- en kommer­siële diere. Ons verdien dus meer in die buiteland vir ons bokke en die Suid-Afrikaanse verbruiker loop dié geleentheid mis.

"As die verbruikers bereid is om meer vir boerbokvleis te betaal, sal meer bokke geslag kan word; dis 'n kwessie van vraag en aanbod."

Hy meen dis 'n jammerte dat veeboere prysnemers geword het. "Boere gee nie insette van wat die pryse van voerkrale en slagpale, en selfs die wol- en sybokhaarmark behoort te wees nie. Hulle moet maar noodgedwonge die pryse aanvaar wat aangebied word. In die buiteland kan ek self 'n mededingende prys volgens die standaard van die diere beding. Dis hoekom ek uitvoer, al is dit nie maklik nie," sê hy.

Tisha Steyn

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM