Landbou

GEBORG: ‘Só kry ons jonges betrokke’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die landboujeug van Suid-Afrika is 'n hooffokuspunt vir die oudste landbougenootskap in Suid-Afrika, die Kaap die Goeie Hoop-landbougenootskap - wat as Agri-Expo handel dryf - en hulle is by talle projekte en inisiatiewe betrokke om 'n liefde vir landbou onder jong mense te bevorder. Samantha van den Berg het meer gaan uitvind.

Die toekoms van landbou op eie bodem lê onder meer in die betrek van die jeug by hierdie florerende sektor, en om geleenthede te skep vir jong mense om uit te styg en die bedryf op hul beurt weer verder uit te bou.

Benewens die gevestigde landbouskole in Suid-Afrika is daar talle skole wat deesdae landbouvakke aanbied. Daarmee saam doen projekte soos die Wes-Kaapse Jeugskou - waarby Agri-Expo regstreeks betrokke is - en ander landbougeleenthede en -kompetisies vir jong mense veel om leerlinge positief oor landbou te maak en 'n loopbaan in die landboubedryf te oorweeg.

Maritjie Cornelissen van die Elsenburg Landbou-opleidingsinstituut saam met deelnemers tydens 'n vorige Agri-Expo Wes-Kaap Jeugskou-kampioenskap by die Augsburg-landbougimnasium. Van links staan Anke van Zyl, Karla-Mari Basson, Cormari Brink, FC Lambrechts en Andrean Klaase.
Maritjie Cornelissen van die Elsenburg Landbou-opleidingsinstituut saam met deelnemers tydens 'n vorige Agri-Expo Wes-Kaap Jeugskou-kampioenskap by die Augsburg-landbougimnasium. Van links staan Anke van Zyl, Karla-Mari Basson, Cormari Brink, FC Lambrechts en Andrean Klaase.

Agri-Expo is sinoniem met jeugskou in die Wes-Kaap, wat onlangs weer by die Hoër Landbouskool Boland gevestig is en uitstekend groei.

Die skoolhoof, Kobus Hartman, verduidelik dat die jeugskou vir seker vir 'n ander dinamika in die skool sorg. "Waar ons verlede jaar ongeveer agt seuns gehad het wat aan die jeugskou deelgeneem het [die jaar voor dit was daar geen], is daar vanjaar bykans 50 seuns wat op 'n gereelde basis daaraan deelneem.

"Van daardie seuns is ongeveer die helfte na die Wes-Kaapse kampioenskap genooi. Daar het by ons ook agt seuns vanjaar gekwalifiseer om in Oktober aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap deel te neem. Verlede week het ons die goeie nuus ontvang dat 'n verdere ses genomineer is!"

Hoenders, konyne net waar jy kyk

Hartman vertel waar daar vroeër leë hokke op die skoolterrein gestaan het, wemel dit deesdae van hoenders en konyne.

"Dit is dan ook heerlik om die seuns reeds vroegoggend voordat skool begin te sien terugstap van die plaas af waar hulle gaan seker maak het hul diere is versorg. In die middae is daar dan ook 'n heerlike gees onder op die plaas - met jong manne wat kliphard werk om die brahman-kalwers en dohnemerino-lammers mak te maak om mee te kan skou.

"Ons is baie dank verskuldig aan Agri-Expo en spesifiek Breyton Milford [hoofbestuurder], wat gereeld tyd maak om plaas toe te kom om die seuns met oefeninge en opleiding te help. Dit is vir my as skoolhoof baie belangrik dat 'n seun wat Boland Landbouskool toe kom, op álle terreine optimaal ontwikkel word - en maksimum geleentheid kry om deel te neem.

"Seuns wat 'n liefde vir diere het en ook hul talente op jeugskou-arenas wil uitstal, moet die kans kry. Almal is nie noodwendig top-sportmanne nie, maar kry hier die kans om vir provinsiale en selfs nasionale kleure te werk. Daar is ook moontlikhede om oorsee te kan gaan met die vertakkings wat die jeugskou bied - skaapskeer en afslaerskompetisies is natuurlik ook deel hiervan."

Daarmee saam is Agri-Expo ook oor baie jare al by die landboujeug betrokke in die vorm van beurstoekennings, sowel as die aanwys van die Agri-Expo-dux-student jaarliks. Dit is 'n unieke en ryke tradisie en volgens Hartman is daar 'n groot waardering vir hierdie bydrae.

"In vandag se tye, waar dit ekonomies swaar gaan met die grootste gedeelte van ons samelewing en tersiêre instansies se koste baie hoog is, is dit natuurlik 'n groot aansporing vir enige leerling om akademies beter te presteer indien daar 'n finansiële beloning daarvoor is.

"Ons ouergemeenskap het ook groot waardering daarvoor en dus is daar van hulle kant af ook motivering na hul seuns om akademies beter te presteer.

"Die dux-student se naam word jaarliks op 'n ererol in ons skoolsaal aangebring - iets wat baie waarde het vir die leerling wat die prys wen."

Vrugte later gepluk

Leerlinge wat op skool by die jeugskou en ander landbouaktiwiteite betrokke is, leer nie net talle vaardighede en 'n liefde vir die landboubedryf aan nie, maar die sektor as geheel pluk later die vrugte van hierdie bydrae.

Volgens Christi van den Heever, 'n sagtevrugte-wingerd-en-beesboer van die Koue Bokkeveld, het sy loopbaan in die landboubedryf by die jeugskou begin. Van den Heever was in 2001 een van die eerste Wes-Kaapse deelnemers en is vroeër vandeesmaand as Agri Wes-Kaap en Santam Landbou se Jongboer van die Jaar aangewys.

"My loopbaan en die liefde wat ek vir diere het, het eintlik maar by die jeugskou begin. Die saadjie is by die jeugskou geplant, en van daar het ons gegroei en gebou. Die jeugskou het 'n enorme bydrae gemaak tot my sukses in die landboubedryf en waar ek vandag is. Dit het eintlik alles maar by die jeugskou begin."

Die Wes-Kaap Jeugskou is vanjaar gasheer vir die Nasionale Jeugskou-kampioenskap. Dit word van 1 tot 4 Oktober by die Augsburg-landbougimnasium op Clanwilliam gehou.

Dit is slegs die vierde keer dat hierdie kampioenskap in die Wes-Kaap aangebied word. Vir meer inligting oor die Wes-Kaap Jeugskou se bedrywighede besoek hul webwerf by youngfarmers.co.za.

Van links is Hope Swart, Dirk Duits en Jaco van Deventer tydens die 2023 Agri-Expo Wes-Kaap Jeugskou-kampioenskappe.
Van links is Hope Swart, Dirk Duits en Jaco van Deventer tydens die 2023 Agri-Expo Wes-Kaap Jeugskou-kampioenskappe.

Verdere betrokkenheid

Nog 'n opwindende projek vir die landboujeug waarby Agri-Expo betrokke is, is die Agri-Expo Stockman-kompetisie, wat in samewerking met Agri Malmes­bury se Skaapstudiegroep aangebied word. Agri-Expo is vanjaar Agri Malmesbury se amptelike vennoot.

Volgens Milford is dit 'n spesiale projek wat hulle graag verder wil sien groei.

Volgens John Dürr, die kompetisie-organiseerder en voorsitter van die studiegroep, dateer die kompetisie van 2009. Dit val saam met die jaarlikse Skaapkuddedag en het ten doel om die jeug se belangstelling in skaapboerdery te prikkel.

Dit word gedoen deur middel van drie lesings oor onderskeidelik dieresiektes by skape, karkasgradering-klassifikasie en die wolbedryf.

Die leerlinge skryf daarna 'n klein eksamen van 20 punte en so word die koring van die kaf geskei, verduidelik Dürr.

"Daarna bied ons vir hulle 'n lesing aan oor die hantering van 'n skaap, insluitend hoe jy 'n skaap vir jeugskou aanbied of aan 'n voornemende koper ten toon stel. Aan die einde van die dag ken ons vyf pryse toe en ons is baie gelukkig dat ons elke jaar vir vyf kinders kontant in die hand kan stop.

"Daarbenewens het ons ook 'n wisseltrofee wat ons die Stockman-trofee noem."

Volgens hom verwys stockman na 'n veeboer of iemand wat diere ken en met enige plaasdier of voël kan boer. "In ons volksmond is dit iemand wat nogal skaars is; dit is iemand wat 'n liefde en aanvoeling vir diere het."

Daar is jaarliks vier skole wat deelneem, naamlik die Augsberg-landbougimnasium, die Hoër Landbouskool Boland sowel as die hoërskole Swartland en Porterville. Volgens Dürr wissel die deelname jaarliks tussen 50 en 60 leerlinge.

Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, maak leerlinge van die Hoër Landbouskool Boland touwys oor hoe om op jeugskoustandaard met skape te werk.
Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, maak leerlinge van die Hoër Landbouskool Boland touwys oor hoe om op jeugskoustandaard met skape te werk.

"Uit hierdie groepe het daar oor die jare leerlinge gekom wat in baie goeie jeugskou-deelnemers ontluik het. Een van hulle is Kaylie de Jager. Sy het in die Stockman-kompetisie vir die eerste keer met 'n skaap te doen gekry en so lief daarvoor geword dat sy 'n skaapskeerkursus gaan doen het. Sy het daarna op provinsiale vlak aan skaapskeerkompetisies deelgeneem en beoefen dit vandag as 'n beroep."

Hy voeg by dat Agri-Expo hulle nog altyd oor die jare heen bygestaan het met die Stockman-kompetisiedag.

"Ons het nog nooit getwyfel daarin dat ons nie van hul insette gebruik wil maak nie. As die gogga byt, het baie van hierdie leerlinge uiteindelik in Agri-Expo se hande beland as hulle begin skape hanteer en aan die jeugskou deelneem.

"Agri-Expo speel dus 'n baie groot rol om ons landboujeug verder te neem nadat ons hulle die geleenthede by ons verskillende skole gegee het."

Die Agri-Expo Stockman-kompetisie vind vanjaar plaas op 18 Augustus by die Malmesbury-skouterrein.

Laaste sê

Volgens Milford is die jeug vir Agri-Expo van kardinale belang en moet daar te alle tye gepoog word om iets vir die jong mense van Suid-Afrika na te laat.

"Ná Agri-Expo se herskikking einde verlede jaar het die raad die jeug herprioritiseer en dit is vir my as hoofbestuurder 'n riem onder die hart om te sien hoe die raad omgee en nog meer vir ons landboujeug wil doen.

"Agri-Expo het lank reeds besef dat die jeug belangrik is en het daarom verskeie inisiatiewe van stapel gestuur om meer jong mense by die landboubedryf betrokke te kry.

"Agri-Expo is positief oor ons landbou en oor die jeug en glo dat hierdie nuwe tydvak wat ons betree nog meer geleenthede vir ons jeug sal inhou."

  • Hierdie artikel vorm deel van 'n reeks oor Agri-Expo se betrokkenheid by landbou in die Wes-Kaap.
  • Agri-Expo het vir hierdie artikel betaal.

Vir meer inligting, besoek die webwerf hier.

Samantha van den Berg

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM