Landbou

Goedgedacht lewer vanjaar 150 t. olywe

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Goedgedacht Trust in Riebeek-Kasteel het vanjaar ’n rekord-volume olyfolie geproduseer danksy ’n goeie oes.
Goedgedacht Trust in Riebeek-Kasteel het vanjaar ’n rekord-volume olyfolie geproduseer danksy ’n goeie oes.

Die Goedgedacht Trust in Riebeek-Kasteel het vanjaar sy naasgrootste olyfoes behaal met 'n totaal van 150 ton.

Goedgedacht aan die voet van die Kasteelberg pluk die vrugte, of in die geval die olywe, van goeie oeste nadat hulle vier jaar gelede herlewingsboerdery op die plaas begin toepas het.

Pieter Brand, Goedgedacht se plaas­bestuurder, sê hierdie skuif het hul olyfboorde 'n goeie hupstoot gegee.

"Ons bome vertoon beter, stres nie so maklik in die hitte nie, terwyl ons ook minder probleme met peste het.

"Ons olyfgehalte het verbeter en ons kry deurlopend 'n hoër opbrengs as toe ons kommersieel geboer het," sê hy.

Die Goedgedacht Trust boer al 30 jaar op hierdie grond en vanjaar se oes van 150 ton olywe het 27 000 liter ekstra suiwer, koudgeparste olyfolie gelewer. Volgens Brand was dit ook hul hoogste gemiddelde oesopbrengs teen 17% per blok. Hulle verwerk 36 ha se olyfbome van hoofsaaklik Frantoio- en Mission-kultivars.

Die span verantwoordelik vir Goedgedacht se olyfboorde is (van links) Cobed Swarts, algemene werker; Jonathan Meloy, plaasvoorman; en Pieter Brand, plaasbestuurder.Foto: NATALIE GABRIELS PHOTOGRAPHY
Die span verantwoordelik vir Goedgedacht se olyfboorde is (van links) Cobed Swarts, algemene werker; Jonathan Meloy, plaasvoorman; en Pieter Brand, plaasbestuurder.Foto: NATALIE GABRIELS PHOTOGRAPHY

Sukses lê in die grond

Voor hierdie jaar se uitstekende opbrengste was Goedgedacht se gemiddelde oes per jaar 72 ton. Die vorige uitstekende oes was 185 ton in 2022.

Die eindproduk van die volume olyfolie vanjaar was hoër met 27 000 liter teenoor 25 000 liter in 2022.

Brand sê hoewel oesopbrengste tussen die streke wissel, is sowat 10 ton olywe per hektaar 'n goeie standaardgemiddelde.

"Waar ons twee tot drie ton olywe per hektaar gekry het, het ons vanjaar vyf tot sewe ton geoes. Sommige produsente oes 12 tot 15 ton, dus is daar vir ons nog baie groeipotensiaal,"sê Brand.

"Ons 17% gemiddelde oesopbrengs per blok is 'n goeie verbetering op ons vorige gemiddelde van 14% tot 15%. Som­mige blokke het tot 22% gelewer, en gevolglik mik ons vir 18% tot 25% in die toekoms," sê hy.

Nuwe kultivars soos Koroneiki en Arbequina word tans op Goedgedacht aangeplant. Hierdie twee olyfkultivars is kleiner as die ander, maar die olywe het 'n baie hoë olie-inhoud.

Ten opsigte van die grond maak hulle gebruik van kartonbokse, strooi en ou olyfpulp as deklaag, wat help om die grondgesondheid te aktiveer, die humus­inhoud te verhoog en grondvog te beskerm.

Dexter-koeie, Loman-hoenders en tarentale boer ook saam op die grond.

Hoëgehalte-olie

Op Goedgedacht word daar sedert 1998 olywe gepars, maar hulle het in 2022 begin om die olywe aan die Willow Creek-olyflandgoed toe te vertrou, wat alle sertifisering hanteer en die Suid-Afrikaanse en die internasionale mark bedien.

Eleanor Stoker, die uitvoerende hoof van Willow Creek, is opgewonde oor die herlewingslandboupraktyk wat Goedgedacht toepas.

"Die opbrengs is indrukwekkend, waaronder die hoeveelheid vrugte aan die olyfbome en die volume wat Goedgedacht kan lewer.

"Daarom het ons besluit om Goedgedacht se olywe nie saam met van die ander klein produsente te pars nie en as topgehalte- koudgeparste ekstra suiwer olyfolie onder Willow Creek se handelsmerk te bemark," sê Stoker.

'n Beperkte volume olyfolie word ook direk op die plaas verkoop.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM