Landbou

GRAAN JOU WEL: Graan SA, lede kyk vorentoe

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die jaarlikse kongres van Graan SA het weer vele hoogtepunte opgelewer. Foto: VERSKAF
Die jaarlikse kongres van Graan SA het weer vele hoogtepunte opgelewer. Foto: VERSKAF

Met die fokus verlede maand op hoe uitdagend die landboubedryf en omgewing kan wees, en watter uitdagings plaaslike produsente moet aanpak en oorkom om hul bestaan te maak, verskuif die kollig na die positiewe, en die fokus op die lig in die landbou-tonnel.

Kongres begin met ‘bang'

So pak 40 graanprodusente van die Wes-Kaap middel-Maart die roete van Kaapstad na Lanseria aan. Met middagete by 'n restaurant op pad na Nampo Park buite Bothaville is almal heel warm (of is dit nou koud?) verwelkom deur 'n benoude "slang"-kreet wat nog in die lug eggo toe vyf produsente soos wafferse ballerinas vanuit hul tafel skuif.

Wragtig! Daar onder die tafel lê 'n groot rinkhals. So kom die bestuurder, sekerlik gewoond aan die verskynsels in sy geweste, met 'n sak om die slang te vang. Nodeloos om te sê, ná een kyk onder die tafel en die meneer van 'n rinkhals, het hy op sy hakke omgedraai en met 'n geweersak teruggekom. So drom die produsente, ook darem aan sulke klein oponthoude gewoond, saam, wagtende vir die moontlike windbuks of dalk 'n .22-skoot.

Die volgende oomblik klap die skoot van 'n 12-boor-haelgeweer soos die bestuurder die slang onder die tafel doodskiet.

Die een produsent vertel so ewe hy het iets teen sy been gevoel toe hy gaan sit met die gedagte dat dit die tafeldoek is, maar toe hy die tafeldoek weer voel - wat 'n nadere inspeksie regverdig - lê die rinkhals tussen sy bene.

Hoe vyf produsente blitsvinnig vanuit die tafelhokkie gespring het, sonder selfs om 'n enkele glas op die tafel om te stamp, is dalk onverklaarbaar, maar het die hoogtepunt geword van dié ondervinding. Benewens 'n paar bleek manne en ander wat ietsie sterker moes bestel om die senuwees te kalmeer, het dankbaarheid dat niemand gepik is nie, en almal heel ongeskonde by die kongres kon aansluit, geseëvier. Ek is wel vas oortuig dat daar nog nie voorheen 'n kongres was wat met so 'n bang begin het nie.

Die jaar se kongres, wat op 13 en 14 Maart plaasgevind het, het pertinent die vraag "Wat laat produsente snags wakker lê?" gevra, onder die tema "Produsente is planmakers".

Altesame 550 individue, insluitende produsentelede, landbourolspelers en gaste, het bymekaargekom vir dié hoogtepunt op die Graan SA-kalender.

Uitdagings stuit nie landbou

Die kanolasaad-probleem, of altans die tekort aan saad, was hoog op die agenda. Ná afloop van die uiters suksesvolle besoek van 'n Graan SA-span aan Australië, waar saadtelers kanola vermeerder, is die kongres verseker dat daar nie vanjaar 'n tekort sal wees nie.

Goeie en sterk netwerke en verhoudings is tydens die besoek opgebou, en al mag al die kultivars dalk nie noodwendig beskikbaar wees nie, behoort daar genoeg kanolasaad van ander kultivars plaaslik beskikbaar te wees vir die plantseisoen.

Goeie nuus vir sojaboonprodusente is die bekendmaking van 67 nuwe variëteite tesame met nuwe planttegnologie sedert die instelling van die teling- en tegnologieheffing. Om oorskot te vermy is die mark na China bevestig en oopgemaak en daar is reeds ongeveer 600 000 ton sojabone van Suid-Afrika uitgevoer.

Nuwe markte vir mielie-uitvoer is ook bevestig.

Wat die statutêre aanstelling van Leaf-dienste betref, het Graan SA die R4,00 p/t-heffing en die inspeksiedienste bevraagteken.

Die ekonomie-span het bereken dat Graan SA-produsente ongeveer R500 miljoen tot hede gespaar het deur te verseker dat hierdie diens op goeie waarde-beginsels gelewer moet word, en sedert aanvanklike aankondigings nog nie geïmplementeer is nie.

Die voorlegging deur die Argentynse graanprodusent David Hughes was weer 'n bewys dat produsente planmakers is - maak nie saak wat of waar die uitdaging is nie.

Die geleentheid doen hom egter nou voor om te kyk waar die diens wel werklik waarde tot die bedryf kan toevoeg, eerder as om net bestaande funksies te dupliseer.

David Hughes, 'n Argentynse graanprodusent en gasspreker, het sy ervarings en uitdagings van graanproduksie in Argentinië gedeel. Dit was van meet af aan duidelik dat Suid-Afrika nie die enigste land met uitdagings is nie, en produsente was skielik dankbaar dat van hul uitdagings nie hier ervaar word nie.

By uitstek sukkel Argentynse graanprodusente met finansiële ondersteuning van hul kommersiële banke en gekoppel met hoë inflasie het hulle die volgende benadering: Ongeveer 30% van insetkoste word deur die bank gedek, 30% deur 'n aandeelhouer soos 'n dokter of prokureur en die res word deur die produsent self gedek. Weer 'n bewys dat produsente planmakers is - maak nie saak wat of waar die uitdaging is nie.

'n Interessante paneelbespreking met Hughes, Kallie Schoeman en Koos Blanckenberg het uit 'n produsente-oogpunt verduidelik hoe hulle plaaslike uitdagings benader en oorkom.

Wintergraan bespreek

Die wintergraan-wegbreeksessie is sekerlik een van die hoogtepunte waarna produsente van die Wes-Kaap uitsien tydens die kongres.

Met die bespreking van graaninvoer was die koringinvoer-intensies en invoertarief in die kollig. Die doel van die invoer-intensies is om in- en uitvoer-inten­sies van graan agt weke vooruit te bekom om deursigtigheid te verseker. Die doel van die invoertarief is om plaaslike produsente se kommoditeitspryse te beskerm teen goedkoop gesubsidieerde ingevoerde graan.

Groot vordering is ook met die liggingsdifferensiaal gemaak.

'n Alternatiewe model vir sojabone is op die tafel geplaas en word vir twee jaar getoets. Indien die alternatief slaag, sal die model vir koring en ander grane ook getoets word.

Dié model kan die winsgewendheid van plaaslike koringprodusente beïnvloed, en vir produsente handel dit oor die versekering dat lede, wat die eienaars van die organisasie is, winsgewend en volhoubaar op hul plase kan produseer.

Vrywillige Graan SA- heffings

Weens die ekonomiese druk van die vorige seisoen het produsente tydens die kongres voorgestel dat die vrywillige Graan SA-heffings per ton op graan nie verhoog moet word nie, en dat die huidige heffing steeds moet geld.

Die afgevaardigde produsente het die voorstel ingestem, en die voorstel is deur die kongres goedgekeur. 'n Duidelike aanduiding dat Graan SA 'n produsenteorganisasie is wat optree in die belange van ons land se produsente sodat hulle ekonomies en volhoubaar kan produseer.

Die heffings van toepassing op die Wes-Kaapse produsente vir die 2024-'25-seisoen is dus R4,70 p/t vir koring, gars en hawer; en R6,40 p/t vir kanola.

Nampo Bothaville

Ná afloop van die kongres is die park en personeel reeds in volle gang ter voorbereiding van die jaar se Nampo-oesdag.

Nampo vind plaas van 14 tot 17 Mei op Nampo Park, buite Bothaville.

Graan SA sien uit om weer produsente sowel as lesers daar te verwelkom.

Die hoop beskaam nie

Dit was hartseer om te hoor en sien hoe swaar van die mielieprodusente in die Noorde weens hul droogte kry.

Die somergraan-produsente is in ons gedagtes en gebede.

Produsente in die Wes-Kaap het egter begin Maart hul eerste bietjie reën ontvang en van die eerste hawer en kanola is al vroeër die maand in die Suid-Kaap geplant. Met April om die draai gaan die planters al hoe meer op die lande begin loop.

Ek wil afsluit deur om vir elke produsent sterkte toe te wens vir hul plantseisoen en dankie te sê vir die bydra wat gemaak word tot die voedselsekerheid in die land.

Mj Swart, Graan Sa

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM