Landbou

Groep met ’n SA tak brei uit

Van Fall Creek se tonnels in hul kwekery.Foto’s: VERSKAF
Van Fall Creek se tonnels in hul kwekery.Foto’s: VERSKAF

Die internasionale bloubessiekwekery Fall Creek, wat ook 'n Suid-Afrikaanse tak in die Paarl het, het onlangs verder uitgebrei deur grond vir 'n nuwe ontwikkeling te koop.

Hierdie 50 ha in Moara Vlasiei in Roemenië is aangekoop as deel van hul groeistrategie binne die Europese mark.

Fall Creek beplan om hierdie grond te gebruik om 'n moderne en tegnologie-gedrewe kwekery op te rig. Hierdie kwekery gaan die sentrale punt vir innovasie in die produksie van bloubessievoorraad word.

Luidens 'n verklaring van Fall Creek sal hierdie geleentheid die vermoë van hul waardeketting versterk. Dit sal ook verseker dat kwekers oor Europa heen van gehaltebloubessieplante gebruik kan maak vir produksie.

Hulle beplan ook om meer navorsing in Roemenië te doen.

Hierdie "Luna Blue"-bloubessies is een van die variëteite wat in Roemenië ontwikkel en nagevors sal word.
Hierdie "Luna Blue"-bloubessies is een van die variëteite wat in Roemenië ontwikkel en nagevors sal word.

Fall Creek se navorsing-en-ontwikkelingspan is besig met 'n inisiatief om 'n navorsingsplaas in die land te ontwikkel. Hierdie projek sal daarop fokus om die ontwikkeling van nuwe bloubessievariëteite te versnel.

Daar sal ook 'n fokus op meganiese oes vir die varsmark, aanpassing tot die klimaat, en die verbetering van groeitegnieke wees.

"Die verkryging van hierdie grond in Moara Vlasiei is 'n belangrike deel van ons groeistrategie. Ons is opgewonde om ons kundigheid na Europa te neem en by te dra tot die streek se landbou," sê Burgert van Dyk, Fall Creek se streekdirekteur vir Europa, die Midde-Ooste en Afrika.

Volgens Fall Creek is hierdie uitbreiding deel van hul verbintenis om seker te maak dat die hele bedryf in Roemenië en omliggende areas, van die kwekers tot verbruikers, voordeel trek daaruit. Dit sal ook aansienlike voordele vir die plaaslike gemeenskap bied. Tans het hulle twee werknemers in die land, maar daar sal nog werkgeleenthede in die toekoms geskep word.

Benewens Fall Creek se kwekery in die Paarl, het hulle ook kwekerye en navorsing-en-ontwikkelingsentrums in die VSA, Mexiko, Peru, Chili, Spanje, Nederland en China.

Landbou-Redaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM