Landbou

Hoe hommeltuie jou bord kos beïnvloed

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Om die verwantskap tussen hommeltuie en jou bord kos te besef, is nie noodwendig maklik nie, maar dié onbemande vaartuie is moontlik 'n sleutel om Suid-Afrika se voedselsekerheid te verbeter.

Hommeltuie word ooglopend meer in die plaaslike landboubedryf aangewend omdat dit boere veral met presisieboerdery kan help.

Presisieboerdery is 'n wetenskaplike tegniek om die beskikbare (en beperkte) hulpbronne op die mees optimale wyse aan te wend om oeste te maksimaliseer.

Kopano Tholo, 'n kenner van hommeltuie by iTOO Special Risks, sê daar was aansienlike belangstelling in die gebruik van hommeltuie onder boere op die Nampo-oesdag in Mei.

"Spoed en noukeurigheid is baie belangrik in moderne landbou. Baie nuwe plaastoerusting word vervaardig om presisieboerdery aan te moedig."

Suid-Afrikaanse landbou verkeer onder groot druk om sy hulpbronne beter te bestuur weens die taai ekonomiese omgewing.

Hommeltuie word toenemend meer gebruik om doeltreffender te boer. Foto: Getty
Hommeltuie word toenemend meer gebruik om doeltreffender te boer. Foto: Getty

Middelsomer se droogte, wat deur die El Niño-weerverskynsel meegebring is en die land se somergraanoes na verwagting beduidend sal beïnvloed, is 'n tydige wekroep in dié verband.

Boonop was daar die laaste tyd verskeie aanwysers wat toon Suid-Afrikaners bestee minder geld aan kos weens inflasiedruk.

PwC sê in sy jongste verslag oor ekonomiese vooruitsigte dat die land se voedselsekerheid reeds wankelrig is en onder verdere druk gaan verkeer omdat 4 miljoen meer monde teen 2030 gevoer sal moet word.

Presisieboerdery word as een van die ingrypings uitgewys om voedselsekerheid (en laer pryse) te bewerkstellig.

Daar is verskeie maniere hoe hommeltuie gebruik kan word om boere te ondersteun. Dit word onder meer gebruik om grondmonsters te versamel, oesontledings te doen en selfs te plant. Wanneer kameras aan hommeltuie monteer word, kan die beeldmateriaal help om topografie te ontleed en inligting oor die gesondheid van gewasse in te samel.

Tholo sê hommeltuie word ook al hoe meer gebruik om onkruiddoders te bespuit.

" 'n Hommeltuig kan nader aan gewasse vlieg, wat akkuraatheid verbeter, en (lei ook daartoe) dat bykans 100% van 'n veld bespuit kan word omdat dit oor 'n moeilike terrein kan vlieg.

"Plaaslike landbou is besig om homself te herskep en boere ondersoek toenemend digitale oplossings om tradisionele uitdagings te takel. Hommeltuie kan groot geleenthede ontsluit om produktiwiteit te verbeter en voedselsekerheid verbeter."

Die aanvanklike koste is duur, maar Tholo meen op lang termyn is dit die moeite werd.

Daar is ook versekeringsprodukte om vir enige ongelukke met 'n hommeltuig voorsiening te maak.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM