'n Noodsaaklike vereiste vir appels, pere en meeste steenvrugte is kruisbestuiwing deur heuningbye. Hoewel daar geen resep is vir perfekte bestuiwing nie, kan produsente hul resultate verbeter deur die volgende 10 wenke toe te pas:
1. Kruisbestuiwers: Appels, pere en die meeste steenvrugte vereis bestuiwing van 'n ander kultivar vir bevrugting en om vrugte te dra. Kruisbestuiwing verbeter die vrug se vorm en gee beter opbrengste. Ongeveer 10% ander stuifmeel word benodig om die hoofkultivar in die boord doeltreffend te bestuif. Bye werk af eerder as oor die ry bome.
Kruisbestuiwers werk die beste as hulle in 'n ry geplaas word eerder as alternatiewe rye van die kruisbestuiwers en die hoofkultivar.
2. Kry die regte bye: Heuningbye is die enigste betekenisvolle bestuiwers in kommersiële boorde in Suid-Afrika en produsente kan op bestuurde korwe staatmaak vir bestuiwing.
Daar word wetlik van produsente vereis om geregistreerde byeboere te gebruik en elke korf moet 'n identifiseringskode hê. Alle byekolonies is nie dieselfde nie en byeboere maak seker dat hul korwe gepas is vir bestuiwing.
Die Wes-Kaapse Byebedryfsvereniging raai hul lede aan om bestuiwings-kontrakte met produsente te sluit en hulle het ook 'n minimum standaard vir bestuiwingskorwe.
3. Getal korwe: Daar is geen vaste reëls nie - die getal korwe moet aangepas word volgens die vrugsoort en kultivar.
'n Praktiese riglyn is ongeveer twee tot vier korwe per hektaar vir appels, ses tot agt korwe per hektaar vir pere, en enigiets van twee tot 12 korwe per hektaar vir pruime. Sommige kultivars is moeilik om te bestuif en benodig meer korwe.
Meer korwe word ook benodig as die bestuiwingsomstandighede suboptimaal is, soos baie warm, droog, koud of nat; of as die hoofgewas met meer aanloklike blomme moet meeding. Bestuiwing onder nette trek ook voordeel uit meer korwe.
4. Ideale tyd vir korwe: Wanneer sowat 35% van blomme se bloeisels oop is, kan korwe ingebring word. 'n Tweede stel korwe kan ingebring word, indien nodig, as 85% van die bloeisels oop is. Bring jy die bye te vroeg in, sal hulle dalk na ander plante aanbeweeg. Die bye kan verwyder word as 90% van die bloeisels oop is.
5. Tyd vir aflewering van korwe: Bye raak meer ontsteld en geïrriteerd wanneer korwe gedurende die dag geskuif word. Die beste tyd om bye te laat aflewer is dus in die nag.
Bye mag ook voordeel trek as hulle in koeler weer aan die gebied bekend gestel word.
6. Binne of buite: Bye vaar beter buite as onder beskermende nette. Byekolonies verloor ongeveer die helfte van hul krag binne sewe tot 10 dae onder nette.
In omgewings met slegte weer en waar nette noodsaaklik is, kan produsente 'n stukkie net direk bo die korwe verwyder, of die korwe buite die nette plaas as die kante van die boorde nie deur nette toegemaak is nie.
7. Beste plekke vir korwe: Bye hou van warmte en beskutting, en korwe moet dus in droë plekke uit die wind geplaas word, maar nie in die skaduwee nie. Bye sal vinniger aan die gang kom as korwe oggendson kry. As die korwe hoër geplaas word, sal die bye ook wyer uitsprei.
Hou korwe weg van voertuie en mense, want bye hou nie van geraas en versteuring nie. Moet ook nie gras gedurende bestuiwing sny nie, want bye hou nie van die stof, geraas of vars gesnyde plante nie.
Korwe kan tot 500 meter van die boorde geplaas word as daar nie mededingende blomme naby is nie. Deur korwe in groepe van vier tot agt te plaas, sal bye verder en na meer bome versprei. Maak ook seker daar is geen versperrings tussen die bye en boorde nie.
8. Mededingende blomme: Bye sal maklik vier tot vyf kilometer vlieg na aanloklike blomme. Dit kan 'n uitdaging wees om hulle op die minder aantreklike bloeisels van pere en pruime gefokus te hou. Verwyder dus mededingende plante voordat die bye kom.
Jy kan ook byekorwe in sarsies inbring om die neiging van bye om naby aan die korwe kos te soek, uit te buit. Die tweede groep kom in wanneer die eerste groep die teikengewas verlaat het.
9. Verskaf water: Jy moet altyd, veral as dit warm is en die bye onder nette is, vir die bye water naby plaas. Dit beteken hulle bestee minder tyd om water te soek en meer tyd aan bestuiwing.
10. Vermy spuittoedienings: Die spuit van enige vloeistof, selfs water, is sleg vir bye. 'n Nat by is 'n dooie by.)Dié artikel is 'n verwerking wat oorspronklik in die jongste uitgawe van Fresh Quarterly, Hortgro se gratis tegniese publikasie, verskyn het. Besoek www. freshquarterly.co.za/latest-issue/ vir meer artikels oor die heuningby.















