As 'n vyfdegeslag Basson op die plaas Uilenkraal, sowat 20 km van Darling, floreer die jong suiwelboer Coenraad Basson op uitdagings.
Hy boer saam met sy oom Paul Basson en sy neefs Coen, Henko en Paul. Sy pa, Willem, was deel van die boerdery totdat hy aan die begin van 2023 oorlede is.
"Jy kan my in 'n wip vang met 'n probleem wat opgelos moet word: ek floreer op georganiseerde chaos. En ek is lief vir melk en probeer om die proses te vervolmaak," sê hy.
Op die plaas van 5 000 ha, waarvan sowat die helfte bewerkbaar is, word tussen 60 en 80 ha aartappels geplant, asook koring, kanola en veral hawer vir kuilvoer vir die 1 800 holsteinkoeie in 'n volvoerstelsel.
"Ons het die haweraanplantings uitgebrei vir meer standvastigheid omdat 'n mens met beperkte reën nie altyd op 'n koringoes kan reken nie," sê Basson.
Op die voorpunt van suiwel
Basson is bykans 'n dekade op die plaas en bestuur die afgelope vyf jaar die melkery, wat 70% van die boerderybesigheid uitmaak.
Die tyd wat hy verlede jaar op Don Bennink se North Florida Holsteins-suiwelplaas in die VSA deurgebring het, het hom nuut laat dink oor die melkery en hy pas die vernuwende beginsels met groot sukses toe.
"Ek het altyd die melkerybedryf gesien as harde werk en vuil. Maar toe het ek my hele siening verander: jy moet die melkery sien vir wat dit kán wees. Dan begin jy belê, jy begin vorentoe gaan, jy begin goed in plek stel, jy begin trots voel oor wat jy gedoen het. En dan gaan jy nooit stop nie, jy gaan van daar af net vorentoe."
Hy is die eerste melkboer in Suid-Afrika wat die beginsels van genomika, wat hy by Don geleer het, in sy melkery toepas.
"Ons is nog nie waar ons wil wees nie en omdat omstandighede, kennis en kundigheid heeltyd verander, sal ons dalk nooit daar wees nie," sê Basson.
Hy meet sy volvoerstelsel aan dié van Amerikaanse suiwelboere, want hier het hy nie 'n eweknie nie.
Die bestuur van die kudde berus op die beginsel dat die koeie se genetika, gesondheid en gerief die belangrikste komponente van die melkery is. Hy het eers deeglik navorsing gedoen voor hy die beginsels begin toepas het.
"Baie boere was skepties en het geglo ek mors geld wat op 'n ander manier op die plaas gebruik kon word. Dit was 'n ‘Noag het 'n ark gebou'-situasie, maar ek wou 'n bloudruk vir ander suiwelboere skep. Ons doen drie keer per jaar genomika-oudits wat bewys dat ons gesonder kalwers teel wat minder siek of mank raak, wat meer vrugbaar is en wat langer leef," deel hy.
Suksesresep so behaal
Basson kry die waarde van die voer wat die koei vreet dubbel en dwars terug, want dit word gemeet aan hoeveel melk 'n mens per uur uit die melkstal kry. "Dit gaan oor koeie wat baie melk het en wat vinnig melk."
Hy maak in die boerdery slegs gebruik van koeie wat op die plaas geteel is.
"Van die dag wat die kalf gebore word totdat sy twee jaar later in melk kom, is sy jou verantwoordelikheid. As jy 'n fout maak, gaan jy daarvoor betaal, maar as jy iets reg doen, gaan jy eers oor twee jaar die vrugte pluk," sê Basson.
Volgens hom is genetiese vordering met hul metode vier keer vinniger as konvensionele gebruike. Die semen is uitgesoek vir die eienskappe van wat hulle van 'n bul verlang en hulle kon sien hoe die voorkoms van diere van goeie gehalte drasties verbeter.
"Goeie genetika en die manier hoe vervangingsdiere grootgemaak word, is die toekoms van die suiwelbedryf."
Tegnologie word in die boerdery ingespan vir die verkoeling van die melk, wat binne vyf minute van liggaamstemperatuur tot minder as 5 °C in die melktenk verkoel word om bakterieë te inhibeer.
Van die tegnologie sluit in sluit harde- en sagteware wat hulle só verfyn het dat hulle per uur byna 50 koeie meer melk.
'n Databasis met inligting van moniteringstoestelle op koeie se nekke kan met 'n oogopslag op 'n selfoon of tablet wys hoeveel keer 'n koei herkou, hoeveel sy eet, hoe aktief sy is, of sy op hitte is, op soek is na 'n bul of siek is.
Vir hom bevorder tegnologie volhoubaarheid, en hy meen 'n boerdery wat nie volhoubaar is nie, is nie winsgewend nie.
Oplossings vir alles
Ten spyte daarvan dat hy die beste verse teel, is daar steeds ongewenste diere onder hulle. Dit is waar Basson met nog 'n briljante idee vorendag gekom het.
Hy melk die koeie steeds, maar laat hulle deur angus-bulle dek. Die angus-beesras het 'n goeie vleiskarkas en groei vinnig, wat hulle meer bedingingsmag met abattoirs gee.
Hy maak die osse self groot tot hy hulle ook direk aan abattoirs lewer. "Dit is my 13de tjek."
Die mis van die koeie wat onderdak staan - sowat 80% van al die mis op die plaas - word opgevang en gaan deur 'n bioverteerder wat metaangas opwek. Twee enjins wek saam sowat 400 kW se krag op wat deur die plaas se netwerk gebruik word. Die kompos wat agterbly word gebruik vir die koeie om op te slaap. "Dis 'n geslote stelsel en ons benut alles op die plaas.
"Melkpryse is feitlik altyd onder druk, insetkoste kom nie af nie, kommoditeitspryse bly hoog, en in 'n volvoerstelsel moet jy al hoe fyner bestuur.
"Jou veearts moet eintlik meer van 'n konsultant wees eerder as om elke keer in sy bakkie te moet klim om na jou siek diere te kom kyk, want dis te duur. Die grootste uitdaging is om die kosteknyptang te bestuur," sê Basson.





















