Landbou

Kaapse hawe loop teikens mis: Sitrusuitvoer in gedrang

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Uitsig op Transnet Port Terminals se veeldoelige kaai in die Kaapse hawe in die voorgrond, met die houerkaai in die agtergrond. Foto: TPT
’n Uitsig op Transnet Port Terminals se veeldoelige kaai in die Kaapse hawe in die voorgrond, met die houerkaai in die agtergrond. Foto: TPT

Die feit dat die Transnet Port Terminals (TPT)-houerkaai in die Kaapse hawe in al vier die eerste maande van vanjaar sy eie prestasieteikens misgeloop het, wek kommer oor die impak daarvan op die ekonomie.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, en Mireille Wenger, LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, sê in 'n gesamentlike verklaring hulle is gefrustreerd dat 'n kritieke oesseisoen - die sitrusseisoen - weer eens in gevaar is ondanks beloftes deur Transnet en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, sedert begin verlede jaar.

Die nuwe sitrusuitvoerseisoen sal teen einde Mei ernstig begin optel, en 'n verwagte ekstra 16,6 miljoen kartonne vrugte sal deur verskeie hawens, insluitend Kaapstad, uitgevoer moet word.

Maar die Kaapse houerkaai se gemiddelde houerverskuiwings per skip per uur staan op 25 teenoor die teiken van 30.

In Januarie was die teiken 26, maar net 22,5 skuiwe per uur is behaal.

In Februarie was die teiken 27, maar net 23,4 skuiwe is behaal.

In Maart was die teiken 28 en net 24,5 houerverskuiwings per uur is behaal.

Syfers vir April sluit ook in dat die gemiddelde omdraaityd vir vragskepe in April 8,9 dae was teenoor die teiken van 4 dae.

Die gemiddelde tyd by die kaai was 4,3 dae pleks van 3, en die gemiddelde wagtyd om vasmeerplek te kry was 4,6 dae pleks van 'n dag.

Wenger sê die syfers wys die huidige prestasie by die houerkaai sal nie voldoende wees om die vragvolumes te kan hanteer wat tydens die komende sitrusuitvoerseisoen verwag word nie.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap. Foto: Jaco Marais
Alan Winde, premier van die Wes-Kaap. Foto: Jaco Marais

'n Dringende hersiening van die teikens in TPT se verbeteringsplan is dus nodig sodat dit "funksioneel, geloofwaardig, betroubaar en haalbaar" is en sodat uitvoerders vertroue kan hê in die beloftes wat gemaak is. Hulle moet betyds alternatiewe reëlings kan tref as dit nodig sou word, vra Wenger.

Die kommer laai op oor die hawe se vermoë om die uitvoergoedere doeltreffend te verskeep.

Volgens die DA se ramings kan 'n behoorlik toegeruste houerkaai wat doeltreffend funksioneer, help om R6 miljard se ekstra uitvoer te genereer, wat 20 000 ekstra werkgeleenthede en meer as R1,6 miljard se bykomende belasting teen 2026 kan meebring.

Dit sal egter aansienlike investering in belangrike infrastruktuur vereis. Daarom moet die private sektor betrek word om doeltreffendheid te verbeter.

TPT het in April aangevoer hy is reg vir 'n suksesvolle sitrusuitvoerseisoen en dat groei van 15% in volumes verwag word.

Sitrus word benewens deur Kaapstad ook deur Durban en die hawens by Gqeberha uitgevoer. Volgens TPT word 200 bykomende hawewerkers en vragkoördineerders oor die komende sewe maande gewerf, en is nuwe toerusting vir van die vrageindpunte verkry. Alle kragpunte by die werwe waar koelhouers opgestapel word, word getoets en in stand gehou.

Meer as 50% van die vrugte wat in Suid-Afrika verbou word, is sitrus, en die land tel onder die drie grootste sitrusuitvoerders. Die meeste van die Suid-Afrikaanse sitrus gaan na Nederland, China, Brittanje, Rusland en die Verenigde Arabiese Emirate.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM