Die Stellenbosse landgoed Kanonkop het die leer geklim en is vanjaar as die 12de "mees bewonderde wynhandelsmerk ter wêreld" aangewys.
Die peiling vir dié lys word jaarliks deur die toonaangewende wynpublikasie Drinks International gedoen.

Kanonkop is die enigste Suid-Afrikaanse wynplaas wat op vanjaar se glansryke top-50-lys verskyn, en is ook as die beste handelsmerk in Afrika en die Midde-Ooste benoem.
Vanjaar is die 14de verskyning van die internasionale wynbedryf se mees gesaghebbende ranglys, soos verkies deur Drinks International se "akademie van kundiges" oor die wêreld heen, onder wie sommeliers, kopers, groothandelaars en skrywers.
Kanonkop is ook as die "hoogste klimmer" op vanjaar se top-50-lys benoem, en is met sy 12de plek 'n allemintige 31 plekke bo wat dit op verlede jaar se lys was.
Johann Krige, mede-eienaar van Kanonkop, sê hierdie erkenning is 'n eer en 'n voorreg.
"Die eer is om erken te word vir ons wyngehalte en die status van die Kanonkop-handelsmerk deur 'n paneel kundiges wat uit die beste wynplase oor die groot wynlande heen moes kies, soos Frankryk, Italië, Spanje, Amerika en Australië.
"Die voorreg is om jou eie handelsmerk op die top-50-lys langs internasionale ikone soos Chateau Margaux en Domaine de la Romanée Conti van Frankryk, die legendes van Spanje, Vega Sicilia en Torres, en Penfold's van Australië te sien, en om die enigste Suid-Afrikaanse wynhandelsmerk op dié lys te wees," sê Krige.
50 jaar van sukses
Hierdie top-50-erkenning kom een jaar nadat Kanonkop sy 50ste bestaansjaar as 'n wynhandelsmerk gevier het, met sy eerste gebottelde wyne - cabernet sauvignon en pinotage - van die 1973-oes.
In sy halfeeu as Suid-Afrika se voorste wynhandelsmerk het Kanonkop verskeie internasionale lofbetuigings ontvang, soos om vier keer die trofee vir beste wynmaker ter wêreld in die Internasionale Wyn-en-spiritualieëkompetisie te verower.
Geen koste word ontsien om te verseker dat die wyne in die beste hout verouder word nie, en ten spyte van ons geskiedenis van sukses, probeer ons steeds elke dag dink hoe Kanonkop steeds die gehalte van sy wyn kan verbeter.
Krige sê fokus en 'n besef van die belangrikheid om by basiese wingerdbou- en wynmaakbeginsels te bly was die sleutels tot Kanonkop se sukses.
"Ons Simonsberg-terroir bied die grondslag en lê aan die hart van alles wat ons hier doen," sê hy.
" 'n Uitsluitlike fokus op rooi variëteite wat hulself as die mees geskikte vir ons terroir bewys het, tesame met presisie-wingerdbou, stel ons in staat om die beste gebruik te maak van die terrein wat aan ons gegee is.
"En in die kelder bly Kanonkop verbind tot die tradisionele wynmaakmetodes van druiwefermentasie in oop sementkuipe wat met 'n afdrukker van hout met die hand deurgedruk word," vertel Krige.
"Geen koste word ontsien om te verseker dat die wyne in die beste hout verouder word nie, en ten spyte van ons geskiedenis van sukses, probeer ons steeds elke dag dink hoe Kanonkop steeds die gehalte van sy wyn kan verbeter."
Krige sê Kanonkop het nog nooit erkenning, toekennings of plekke op die lys van topwêreldwynplase nagejaag nie.
"Ek glo hierdie [eerbetoning] het op ons pad gekom omdat ons deur ons geskiedenis heen nooit van hierdie toewyding tot uitnemendheid afgewyk het nie, en omdat ons getrou bly aan die erfenis en waardes van Kanonkop se wyn-etos."
Die Spaanse wynprodusent Torres is vanjaar eerste op die lys van die "mees bewonderde wynhandelsmerke ter wêreld".




















