Landbou

Kenners bespreek voordele van virusvrye wingerde

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n Groot probleem in wingerde is dikwels die voorkoms van rolblaarvirus - iets wat eintlik baie maklik voorkombaar is met die regte ingryping.

Die wynlandgoed Vergelegen by Somerset-Wes het onlangs 'n inligtingsdag gehou waartydens hy die lesse wat hy oor dié virus geleer het met wynprodusente en bedryfsbelanghebbendes gedeel het. Vergelegen is 'n leier as dit kom by die voorkoming van rolblaarvirus.

Die sprekers op Vergelegen se rolblaarvirus-inligtingsdag was (van links) Brahm Jonker, Ruan Erasmus, Rudolf Kriel, Gert Pietersen, prof. Gerhard Pietersen, Maritza van Rensburg en Francois Viljoen.Foto: VERSKAF
Die sprekers op Vergelegen se rolblaarvirus-inligtingsdag was (van links) Brahm Jonker, Ruan Erasmus, Rudolf Kriel, Gert Pietersen, prof. Gerhard Pietersen, Maritza van Rensburg en Francois Viljoen.Foto: VERSKAF

Hierdie virus, wat oral in die Kaapse Wynland voorkom en deur witluis versprei word, het 'n negatiewe impak op die kleur van die druiwe, die druif se suikerinhoud en sy geur.

Benewens die algehele gehalte van die druif wat swakker is, is dit ook 'n groot ekonomiese gatslag om dié wingerde te vervang.

Vergelegen het reeds 20 jaar gelede 'n program begin om van rolblaarvirus in sy wingerde ontslae te raak, en nou spog hy met van die oudste witwyndruiwe ter wêreld wat so te sê virusvry is.

Só is rolblaar uitgeroei

Rudolf Kriel, Vergelegen se wingerdboukundige, sê die landgoed se program om van die virus ontslae te raak word in drie verskillende fases in werking gestel: die plant van nuwe wingerdstokke op grond wat voorheen sitrusboorde was; die uithaal en vervanging van rooiwynwingerde wat erg deur die virus besmet is; en die toets van witwyndruifsoorte wat, buiten chardonnay en semillon, nie maklik die uitwerking van die virus wys nie.

Prof. Gerhard Pietersen, hoofnavorser by Patho Solutions, het sedert die begin van die projek baie nou saam met Vergelegen gewerk. Hy het die "verstommende resultate" toegeskryf aan die landgoed se omvattende benadering en gesê dat slegs 3% van Suid-Afrikaanse wynprodusente die program so deeglik toepas. Volgens hom is kleiner produsente geneig om wingerde bietjie vir bietjie te vervang - grootliks weens kostebeperkings, en met min koördinasie tussen produsente.

'n Voorbeeld wat hy op die dag gegee het, is van 30 wynprodusente in Nieu-Seeland - 'n hele streek - wat stelsel­matig hul wingerde met nuwe aanplantings vervang het. "Dit was merkwaardig hoe die rolblaarvirus in die hele gebied afgeneem het," sê hy.

In Suid-Afrika is die gebruik van wingerdplantmateriaal wat as virusvry gesertifiseer is vrywillig. Daarteenoor oorweeg wynstreke soos Kalifornië dit om die gebruik van virusvrye plantmateriaal verpligtend te maak én gaan die owerhede dalk kwekers subsidieer wat hul wingerde herplant.

Aangesien die virusinfeksievlakke op Vergelegen tot uiters laag bestuur is, plaas die landgoed nou sy fokus op die biologiese beheer van witluise - die draer­ van die rolblaarvirus.

Kriel werk saam met SkyBugs om roofinsekte met behulp van hommeltuie op die regte plekke in die wingerde vry te laat. In die eerste fase laat hulle roofperdebye in die wingerde vry wat aangetrokke is tot die feromone van die vroulike witluise. Daarna word liewenheersbesies vrygelaat om die witluis te vreet.

Van die ander sprekers op die dag was die wingerdboukunde-konsultant Francois Viljoen; die direkteur van Patho­ Solutions, Gert Pietersen; Vergelegen se laboratorium navorser Maritza van Rensburg; FieldBUGS se tegniese ondersteuningspesialis Ruan Erasmus; en FieldBUGS se tegniese direkteur, Brahm Jonker.

Volgens Viljoen was die rolblaarvirus 'n groot uitdaging in Suid-Afrika, maar as die herplante wingerde vir 30 jaar (in plaas van 20) in produksie is en beter gehalte druiwe teen hoër pryse produseer, sal al die harde werk die moeite werd wees.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM