Landbou

Kuier saam by vanjaar se Boere Brekfis!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sluit aan by vanjaar se Boere Brekfis in Heidelberg vir ’n interessante gesprek oor landbou.Foto: AMELIA UYS
Sluit aan by vanjaar se Boere Brekfis in Heidelberg vir ’n interessante gesprek oor landbou.Foto: AMELIA UYS

Besoekers aan hierdie jaar se Hessequa Harmonie in Heidelberg moenie die kans misloop om 'n interessante gesprek oor landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme op 'n ontbyt-oggend by te woon nie.

In hierdie dorp op die Tuinroete van die Wes-Kaap is landbou 'n belangrike deel van die ekonomie en daarom is die jaarlikse Boere Brekfis een van die fees se hoogtepunte.

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, is vanjaar die gasspreker tydens die ontbyt, wat op Dinsdag 17 September van 09:00 by Die Skeerhok Padstal net buite Heidelberg plaasvind.

Die Burger se Samantha van den Berg gaan die gesprekleier wees en met Meyer gesels oor landbousake, toerisme en die ekonomiese ontwikkeling van plattelandse gemeenskappe. Gaste van die ontbyt sal ook vrae kan vra en deelneem aan die gesprek.

Hessequa Harmonie is 'n klassieke-musiek-en-kunstefees en vind vanjaar van 17 tot 21 September in Heidelberg plaas. Ná die Boere Brekfis kan mense dus by die fees aansluit en kunsuitstallings, kunswerkwinkels, boekbesprekings, toneelstukke en musiekkonserte geniet.

Kaartjies vir die Boere Brekfis kos R250 en is beskikbaar by Webtickets en Pick n Pay of jy kan dit by Karee Tree in Heidelberg (slegs kontant) koop. Dit sluit in 'n plaasontbyt en koffie.

Besoek hessequaharmonie.co.za vir die volledige program. - Landbouredaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM