Landbou

Laer oeste vir inmaakvrugte

Daar sal na verwagting 7% minder perskes vanjaar geoes word weens slegs weer én die verlies van 500 ha se perskes.Foto: iSTOCK
Daar sal na verwagting 7% minder perskes vanjaar geoes word weens slegs weer én die verlies van 500 ha se perskes.Foto: iSTOCK

Ongewenste weerstoestande en die verlies van perskebome die laaste paar jaar is van die faktore wat bygedra het tot 'n swakker oesskatting vir inmaakvrugte vanjaar.

Luidens 'n mediaverklaring deur die Inmaakvrugte-produsentevereniging is die oeste vir perskes en appelkose vanjaar ondergemiddeld.

Ná goeie produksievolumes die afgelope drie, vier jaar is die skatting dat die buitefaktore beslis 'n invloed op die oessyfers sal hê.

"Terugvoering uit die streke is dat produsente se damme vol is ná die natste winter in jare en dit is veral die Klein-Karoo se boere wat weer kan glimlag.

"Rypskade het streekgewys voorgekom en dit is veral die Calitzdorp-, Ladismith- en Keisie- Koo-produsente wat deurgeloop het. Sterk, koue wind met reën was nie gunstig gedurende die blomtydperk nie en daar is baie min vrugte op die Keisie-taaipitperskes, met vrugte in die Breërivier-, die Wolseley- en die Tulbagh-area wat die ergste geraak word.

"Die impak van weersomstandighede verskil van streek tot streek. In die laerliggende dele is grond nog baie nat en is perskebome dood weens versuipte toestande," lui die verklaring.

Hiermee 'n blik op die projeksies vir 2023-'24.

Bulida-appelkose

Vanjaar se appelkoosoes behoort ondergemiddeld te wees.

Die meeste appelkose word in die Robertson- en die Klein-Karoo-area verbou.

Faktore soos ryp, koue- en windskade sal beslis 'n invloed op die oes hê en terugvoering uit die streke dui daarop dat die oes 10% tot 20% ligter kan wees. Die totale Bulida-appelkoosoes word op 26 623 ton geraam (18% minder as verlede jaar).

Die meeste appelkoosboorde is wel ouer as 18 jaar en dit is 'n bron van kommer, want produksie neig in ouer boorde om meer wisselvallig te word.

Perskes

Ook die perske-oes vir die komende jaar word as ondergemiddeld gereken.

Veral die vroeë kultivars het deurgeloop onder ongunstige weerstoestande gedurende blomtyd en verliese is tot 70% op sommige plase in die Breërivier-, die Wolseley- en die Tulbagh-area in Keisieboorde.

Die huidige projeksie dui op 'n totale perske-oes van 139 063 ton (7% minder as verlede jaar), maar dit is nog te vroeg in die seisoen om seker oor die skatting te wees.

Faktore wat die laer oes beïnvloed het, is onder meer die groot vloedskade onlangs naby Robertson. In die Klein-Karoo was daar weer wind en ryp.

Die onsekerheid en lae winsgewendheid van inmaakperskes het ook tot gevolg gehad dat daar die afgelope twee jaar 500 ha se boorde verloor is.

Bon Chretien-pere

Hoewel dit nog effe vroeg is om 'n akkurate skatting vir Bon Chretien-pere te kan doen, lyk dit tans belowend.

Volgens Peet du Plessis van Prince Alfred Hamlet in die Ceres­-omgewing lyk die Early Bon Chretien goed, met die bome­ wat van blomme oortrek is. Uit ander streke kom soort­gelyke terugvoering­ en die tota-le Bon Chretien-oes word op 94 124 ton geraam (2% minder as laas jaar).

Volgens Bennie van Rensburg lyk die vraag na vars pere vir die uitvoermark goed en produsente sal so veel moontlik vrugte vir die varsmark voorberei.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM