Landbou

Landbou in syfers

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

13%

Die verkope van Pink Lady-appels in Brittanje het oor die afgelope jaar met 13% gegroei, volgens die vrugte-uitvoerder Tru-Cape.

Sowat 5 miljoen kartonne Pink Lady-appels word tans jaarliks deur Suid-Afrika geproduseer, met Tru-Cape wat sowat 20% van die mark vir dié appels hanteer. Brittanje voer die meeste, sowat 2,1 miljoen kartonne, van die appels in, gevolg deur Europa en die res van Afrika met 1 miljoen kartonne elk.

2,21c

Dit is die huidige suikerbelasting per gram.

Suikerbelasting het volgens die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging en die Suid-Afrikaanse Boere-ontwikkelingsvereniging sedert die bekendstelling daarvan 'n "verwoestende uitwerking" op die bedryf gehad en tot die verlies van meer as 13 000 werksgeleenthede gelei.

Hulle het 'n pleidooi aan pres. Cyril Ramaphosa gerig om suikerbelasting te skrap of tot minstens 2030 'n moratorium op die verhoging daarvan te plaas.

12,801 miljoen ton

Dit is die verwagte kommersiële mielieoes vanjaar volgens die nasionale oesskattingskomitee se jongste maandverslag. Dit is 1,98%, oftewel 258 750 ton minder as die vorige skatting van 13,060 miljoen ton en is 22%, oftewel 3,629 miljoen ton minder as die 2023-oes. Dit is Suid-Afrika se laagste mielie-oesskatting in vyf jaar.

Die komitee het ook die oesskatting vir sonneblomsaad met 2% van die vorige maand verlaag, die sojaboon-oesskatting is met 1,8% op 'n maandgrondslag verhoog, en die grondboontjie-oesskatting is 1,7% laer as verlede maand se skatting. Die skatting vir sorghum en droë bone is onveranderd.

4%

Die uitvoer van Cap Classique na China het in 2023 met hierdie persentasie gestyg.

Die vraag na Suid-Afrikaanse witwyn in China het toegeneem ondanks 'n daling in oorhoofse wynuitvoer.

Witwyne soos Cap Classique en chenin blanc is veral gewild.

Ofskoon Suid-Afrikaanse wynuitvoer na China in 2023 getaan het, blyk daardie mark 'n lewenskragtige groeigebied vir die plaaslike wynbedryf te wees met sy markaandeel wat sedert 2019 groei, lui 'n verklaring van Standard Bank.

94,4%

Dit is die gemiddelde damvlak van die Wes-Kaap soos op 7 Oktober aangeteken.

Damvlakke oor die meeste dele van die Wes-Kaap het die afgelope week net effens gedaal, met al hoe meer damme waarvan die vlakke laer is as in 2023.

Verlede jaar hierdie tyd was die gemiddelde damvlak 94,5%.

Kaapstad se gemiddelde damvlak het egter van 99,8% tot 100,1% gestyg, teenoor 102,8% dié tyd verlede jaar en die vlak van die Theewaterskloofdam, die grootste opgaardam in die provinsie, het van 100,8% tot 101,4% gestyg en was 104,2% 'n jaar gelede.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM