Landbou

Landboukenners lug allerlei menings

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Appels word al meer met pere vergelyk. Dít is die slotsom waartoe 'n mens kom as van die drakoniese nakoming-vereistes waaraan Suid-Afrikaanse landbouers vir die uitvoermark moet voldoen, onder die loep geneem word.

Die afgelope dekade het duur en gedupliseerde hekwag-stelsels onder die vaandel van die wêreldwye omhelsde en versnellende konsepte van omgewingsvolhoubaarheid, billike arbeidspraktyke en die modewoord van klimaatsverandering al meer internasionale nakoming-groepe - wat hoofsaaklik in Eerstewêreldmarkte gebaseer is - in staat gestel om kort-kort die doelpale te verskuif.

Hoe affekteer dit die bedryf?

Anton Rabe, uitvoerende direkteur van Hortgro, sê dit voel soms of "slim mense" in die wêreld­handel iewers in 'n glashuis sit en probeer om met die mees buitengewone dinge vorendag te kom om hulself van hul mededingers te onderskei, met geen begrip nie van die implikasies van hul "wenslysie" op plase of pakhuise, die werkers en landelike gemeenskappe.

"Dit is hoog tyd dat verbruikers begin verstaan hoe dele van die handel optree - deurdat van hulle kamtig voorgee om ‘etiese handel te bevorder' onder die sambreel van arbeidswette en omgewingstandaarde - maar agter daardie gordyn probeer hulle in wese om hulself skaamteloos te onderskei ten koste van die produsente, werkers en gemeenskappe. Hul optrede is nie meer bekostigbaar of volhoubaar nie.

"Dit wil ook voorkom asof Suid-Afrika en die land se produsente anders hanteer word as ander lande in die Suidelike Halfrond. Die doelpale word deurlopend verskuif - soms met absoluut geen impak of verbetering nie. Bloot die bykomende koste wat oploop.

"Die wêreldhandel het al die vereistes wat tot groot koste op plaas/pakhuis-vlak lei, maar op die ou end gaan dit vir hulle net oor die laagste moontlike prys. Dit is bloot oneties om nakoming van handel- en omgewingsvereistes te verwag, maar die handel self tree nie eties op nie. Ons het geen probleem met nakoming en die vereistes nie - dit moet net nie voortdurend verander en tot duplikasie en kumulatiewe koste lei wat op die ou end geen verskil aan voedselveiligheid, die omgewing of die omstandighede van werkers maak nie. Trouens, soos dit nou gaan, is dit presies die teenoorgestelde wat bereik word," het Rabe gesê.

Dit hou ernstige gevolge vir die plaaslike landboubedryf in. Klaarblyklik is 'n streep nou in die sand getrek, met die Suid-Afrikaanse landboubedryf wat diplomaties sy stem begin dik maak, met FruitSA wat die voortou neem.

Op soek na oplossings

Onlangs het 'n afvaardiging van FruitSA onder leiding van Fhumulani Ratshitanga, uitvoerende hoof, met verskeie Britse en Duitse rolspelers vergader om die impak van "nakoming" te bespreek. Die stemmingmakery is gedoen sodat daar 'n beter begrip kan wees van die koste- en tyd-implikasies op plase en pakhuise.

Dit volg ná 'n onafhanklike studie deur SourceConsult (Julie 2022) wat die impak van die voortdurend veranderende standaarde ondersoek het. FruitSA verteenwoordig ses vrugteverenigings in die land, naamlik Berries ZA, die Sitruskwekersvereniging (CGA), Hortgro (kern- en steenvrugte), Suid-Afrikaanse Subtropiese Kwekersvereniging (Subtrop), die Vars­produkte-uitvoerdersforum (FPEF), en die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf (SATI).

Vier groepe - CGA, Hortgro, Subtrop en SATI - het formeel versoek dat 'n studie onderneem word om die koste en tyd bestee aan nakoming, soos onder meer deur die nakomingsgroepe GLOBALG.A.P. en Suid-Afrika se Sustainability Institute (SIZA) vereis word, te ontleed.

Die fokus van die studie was om te onderskei tussen die regstreekse en nie-regstreekse koste van nakoming by die plaashek op klein, medium en groot produsente. FruitSA noem dat die verskillende standaarde wat kleinhandelaars in die buiteland stel, 'n uitdaging bly.

Daarom beveel Ratshitanga aan dat 'n FruitSA-afvaardiging (bestaande uit drie mense uit die onderskeie bedryf-groepe op 'n rotasiebasis) 'n jaarlikse besoek onderneem om prioriteitskwessies met oorsese kleinhandelaars te bespreek. Virtuele vergaderings asook stemming­makery by ander platforms, soos groot handelskoue, moet ook gedoen word.

"FruitSA het in alle vergaderings gesê die doel van die ontmoeting was om volhoubaarheid te bespreek, duplisering te verminder en die koste van nakoming uit te lig, om sodoende 'n doeltreffende voorsieningsketting te verseker. Suid-Afrika se verbintenis tot volhoubaarheid en die nakoming van vereistes is beklemtoon, maar kleinhandelaars moet die land se unieke omgewing in ag neem.

"Ook dat daar vroegtydig met produsente geskakel word oor die stel van vereistes en dat SIZA ten volle erken moet word," sê sy.

Só word dit elders gedoen

In Brittanje is kleinhandelaars gevra om met Linking Environment and Farming (LEAF) te skakel om te verseker dat LEAF wel ten volle vir SIZA erken as nakoming-standaard, juis omdat aansienlike beleggings die afgelope 15 jaar in SIZA gemaak is.

"Daar is ook verwys na die FruitSA-studie oor die koste van nakoming en ons het die jongste nuus gedeel oor die privatisering van die bedrywighede by Durban se kaai 2-houerterminaal en die Johannesburg/Durban-spoorlyn."

Ratshitanga sê die besoek was suksesvol, want dit het waardevolle insigte aan rolspelers in daardie markte verskaf en het die kommunikasiekanale met die kleinhandelaars en ander rolspelers daar oopgemaak.

Daarbenewens het FruitSA die plaaslike vrugtebedryf se perspektief oor volhoubaarheid duidelik gestel en hoe nakoming benader moet word om produsente se koste te verminder en die doeltreffendheid van die voorsieningsketting te verbeter.

Daar is verder voorgestel dat daar 'n ten volle erkenning van SIZA, wat daar as hoogs betroubaar beskou word, moet wees sodat groter doeltreffendheid bereik word.

"Kleinhandelaars, veral in Brittanje, was in die algemeen ontvanklik vir die vermindering van vermorsing en ondoeltreffendheid wat veroorsaak word deur die duplisering van oudits, en het gereelde kommunikasie met ons vrugtebedryf verwelkom.

"In Duitsland kan 'n skuif na 'n gemeenskaplike standaard egter nie gou gerealiseer word nie, want kleinhandelaars daar gebruik nakoming-standaarde as 'n mededingende instrument.

"Sommige sleutelboodskappe waaruit die plaaslike bedryf moet munt slaan, is die belangrikheid van Suid-Afrika as 'n bron van vrugte in Brittanje en Duitsland, wat die plaaslike bedryf dus in 'n magtige posisie plaas.

"Om daardie rede moet Suid-Afrika se vrugtebedryf sy spasie in die oorsese mark opeis en aktief sy agenda bestuur. Om ten volle hieruit voordeel te trek, moet die hawens en energie-uitdagings wat Suid-Afrika moet hanteer, daadwerklik getakel word," het Ratshitanga gesê.

Maatstawwe vir SIZA se maatskaplike en omgewingstandaarde word gereeld teenoor verskeie globale programme en plaaslike wetgewing gemeet. Die standaarde ondergaan ook elke drie jaar 'n omvattende hersiening, wat insette van produsente, tegniese kundiges, ouditeure, kopers en regsadviseurs oor die land heen, insluit, om sodoende volle deelname te verseker, noem SIZA.

Intussen het SIZA gesê dat sy lidmaatskap sedert 2015 aansienlik toegeneem het, wat dui op die inkoop van verskaffers in nakomingsvereistes. 'n Merkwaardige toename van 578% is sigbaar (met 742 in 2015 en 3 549 nou). Die toename in agt jaar spreek van die sukses van die program, maar ook die aanvaarding van die program onder verskaffers, markte en die landboubedryf.

Derdeparty­oudits

Sedert 2015 is 'n totaal van 4498 derdeparty-oudits gedoen. Uit die totale derde­party-oudits wat van 2015 tot 2023 uitgevoer is, is 46023 bevindinge tydens die oudits geopper. Uit hierdie totale bevindinge is 44022 (96%) ten volle deur die verskaffer reggestel, wat werklik deurlopende verbetering is, sê SIZA.

Hoewel die ouditproses deur sommige verskaffers as 'n bykomende las beskou word, wat ook duur en tydrowend is, het baie lede lof vir die voordele wat hulle ontvang deur 'n lid van SIZA te wees. Ingeligte rolspelers wys daarop dat SIZA juis sy eie status asook die van sy lede kan verhoog deur sy veerkragtige intellektuele eiendom optimaal te gebruik om ook die uitsonderlike sterk punte van verskeie van sy lede regstreeks op die wêreldmark ten toon te stel, hetsy dit hul sosiale opheffing of omgewingsprestasies is.

Bedryfskenners sê groter eenstemmigheid is nodig tussen FruitSA, wat die maatstawwe vir nakomings­oudits moet standaardiseer; die uitvoeragente, wat ook sal moet bydra tot die nakoming-

verantwoordelikheid; en "konsultante" (van kleinhandelaars en nakomingsgroepe) wat die reëls van die dag lukraak probeer verander deur die doelpale te skuif.

Jacques Dommisse

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM