As daar een ding is wat die landboubedryf moet onthou, is dit dat nakoming nie net oor wetgewing gaan nie - dit is 'n strategiese, etiese én omgewingsverantwoordelikheid.
Só meen die span van InteliGro, verskaffer van geïntegreerde gewasoplossings, wat doelgerig is om bewustheid van nakoming regdeur die landbousektor te bevorder.
"InteliGro wil die standaard stel vir verantwoordelike, toekomsgerigte boerdery. Daarom belê ons in opleiding en gesprekke oor wat nakoming werklik beteken en waarom dit saak maak," sê Stefan van Dyk, hoofbestuurder van InteliGro-Noord.
Volgens hom behels nakoming nie net reëls en regulasies nie, maar gaan daaroor om te doen wat reg is.
Hy sê dat elke aspek van nakoming in landbou, van produkhantering en -berging tot werkersveiligheid en omgewingsbestuur, gereguleer moet word om mense en die omgewing te beskerm.
"Nakoming kan kompleks wees, maar wanneer dit gaan oor voedselveiligheid, omgewingsbewaring en die welsyn van werkers én verbruikers is dit nie 'n luukse nie, maar 'n noodsaaklike vereiste. Nakoming behels die bou van 'n stelsel wat elke rolspeler betrek, van gewasadviseurs en vervaardigers tot verspreiders en veral die boer en sy span op die plaas."
Bou 'n kultuur van nakoming
InteliGro werk saam met CropLife Suid-Afrika en ander wetgewende instellings om te verseker dat hul praktyke ooreenstem met kernwetgewing soos:
• Die Wet op Misstowwe, Veevoere, Landbou- en Veemiddels (wet 36 van 1947);
• Die Wet op Gevaarlike Stowwe (wet 15 van 1973);
• Die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid (wet 85 van 1993); en
• Relevante omgewingswetgewing, insluitend Sans 10206, wat handel oor die veilige hantering en wegdoening van plaagdoders.
Janet Lawless, nasionale bemarkingsbestuurder van InteliGro, sê dat hul gewasadviseurs op plaasvlak betrokke is en die nodige ondersteuning en leiding bied.
Hul gestruktureerde risiko- en nakomingsondersteuning voorsien onder meer regulerende leiding en opleiding, rentmeesterskapopleiding, afvalbestuur, dokumentasie- en oudit-ondersteuning.
Die belang van die saak
As nakoming nie gevolg word nie, kan 'n maatskappy of eenheid deur regsimplikasies, skade aan reputasie, onderbreking in produksie en verhoogde omgewingsrisiko's in die gesig gestaar word.
Deur nakoming ernstig op te neem, kan jy jouself as betroubare, vooruitdenkende en veerkragtige leier in die landbousektor vestig.
"Nakoming weerspieël 'n belangrike deel van jou onderneming. Dit beïnvloed hoe jy mense en hulpbronne bestuur, asook hoe jou handelsmerk deur die publiek beskou word.
"Dit is dus 'n belegging in jou besigheid én in die toekoms," sê Lawless.
Dit is belangrik vir almal in die landboubedryf om bewus te wees van alle wetgewing en hoe dit voortdurend verander om aan 'n volhoubare, mededingende landbousektor te bou.
"Die boodskap is eenvoudig: Nakoming is nie 'n las nie - dit is 'n geleentheid. Dit gaan oor die beskerming van mense, die bewaring van ons omgewing, en die voortbestaan van 'n verantwoordelike landbousektor waarop toekomstige geslagte kan bou," sê Van Dyk.
Die belangrikste wetgewing om van kennis te neem, is die volgende (verskaf deur CropLife Suid-Afrika):
• Wet op Misstowwe, Veevoere, Landbou- en Veemiddels (wet 36 van 1947);
• Wet op Gevaarlike Stowwe (wet 15 van 1973);
• Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid (wet 85 van 1993);
• Sans 10206: Die hantering, berging en wegdoening van plaagdoders;
• Wet op Nasionale Omgewingsbestuur (wet 107 van 1998);
• Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Afvalbestuur (wet 59 van 2008); en
• Wet op Padverkeersbestuur, (wet 93 van 1996).





















