Landbou

Nampo Kaap: Van klein begin tot reusesukses

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Met 'n terugblik op die Nampo Kaap-ekspo's van die laaste paar jaar kan ons terugkyk op 'n ware suksesverhaal. Hierdie sukses het egter glad nie sonder harde werk, min slaap en baie stres gepaard gegaan nie.

Die droom wat ek, Niel Giliomee, Henk Aggenbach en Dirk Hanekom gekoester het in November 2017 het toe gestalte gekry in September 2018.

My eerste opdrag was om ons idee te gaan "verkoop" aan Jannie de Villiers, destyds die uitvoerende hoof van Graan SA. Die doel was om 'n vennootskap aan te gaan met Graan SA, wat reeds stelsels in werking het vir 'n landbou-ekspo, en dan die beoogde ekspo te koppel aan die bemarkingsnaam van Nampo.

In Maart 2018 kry ons werkkomitee die groen lig van Graan SA om die eerste Nampo Kaap by Bredasdorp Park te hou.

Om so iets in vyf maande te reël was nie 'n grap nie, maar weer eens 'n bewys dat enigiets moontlik is saam met mense wat dieselfde visie deel.

In 2023 maak 35000 besoekers hul opwagting.

So begeester was die groep Bredasdorp-boere, onder leiding van oom Niel, dat van hulle Nampo in Mei 2018 besoek het om 'n idee te kry van wat om te doen en om nie te doen nie. Dit was hartseer om te moes afskeid neem van oom Niel, wat in 2018 op die Nampo-terrein in Bothaville oorlede is.

Dit het ons net meer gemotiveer om 'n sukses te maak van ons groot droom, al het ons terugslae beleef soos borge en uitstallers wat reeds kontrakte geteken het vir 'n ander skou op dieselfde datum. As ek so terugdink, is dit wonderlik dat 'n groot groep uitstallers, borge, vennote en diensverskaffers ook in ons droom ingekoop het, en beslis bygedra het tot die sukses tot op hede. Hulle is almal vandag nog deel van Nampo Kaap. Die ekspo lok in die eerste jaar 7 000 besoekers, oorleef Covid-19 en in 2023 maak 35 000 besoekers hul opwagting.

Nóg nuwe uitstalruimtes, beter parkeergebiede, meer toegangshekke en meer badkamers is net 'n paar goed wat die laaste paar jaar op Bredasdorp Park aangebring is. Iets wat nie moontlik sou gewees het as Overberg Agri nie ook so passievol was om Nampo Kaap in 'n suksesverhaal te omskep nie.

Die geskiedenis van die tyd van meganisasie wat 30 jaar gelede in Bredasdorp posgevat het en later met Nampo Kaap vervang is, word gedokumenteer en sal volgende jaar in boekvorm verskyn.

Die tyd het aangebreek vir my om die aflosstokkie aan te gee en ek doen ek dit met groot vrymoedigheid en dankbaarheid.

  • Wessels is een van Nampo Kaap se organiseerders.
Toit Wessels

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM