Landbou

Rovic Syncro­seed: Nuwe reeks planters pas aan by boer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Geen twee boerderye is eenders nie en daarom is keuses belangrik as dit kom by die koop van implemente - selfs beter as jy dit kan kies om by jou behoeftes te pas.

Rovic Leers se nuwe Syncro­seed is onlangs by Nexus se Graanprodusentedag in Durbanville bekend gestel en dié planter bied aan boere 'n hele rits modelle om van te kies.

Rovic Leers se Syncroseed is 100% aanpasbaar om in jou spesifieke behoeftes te kan voorsien. Foto's: VERSKAF
Rovic Leers se Syncroseed is 100% aanpasbaar om in jou spesifieke behoeftes te kan voorsien. Foto's: VERSKAF

Die grootste voordeel van die Syncroseed-graanplanter is dat bykans alles aanpasbaar is by die boer se behoeftes. Sodoende kan jy die planter van jou drome bou om aan te pas by wat jy wil doen.

Carel Steyn, produksiebestuurder van Rovic Leers, het op die dag meer vertel oor hul nuwe generasie masjinerie en wat dit alles bied.

20: Dit is die getal modelle wat jy met die ses verskillende rame van die Syncroseed kan bou.

Verskillende modelle

Die Syncroseed is beskikbaar in tien verskillende modelle wat wissel ten opsigte van die getal tande: van 21 tande tot 43 tande.

Dié opsies is dan ook beskikbaar in spasiëring van 285 mm of 300 mm.

"In die reeks het ons ses verskillende rame vervaardig waarmee ons op die ou einde vir jou 20 verskillende modelle kan bou wat hopelik in jou boerderypraktyk kan inpas," sê Steyn.

Die modelle met 21 tot 39 tande is enkelvlerkmasjiene en dié met 41 en 43 tande is dubbelvlerkvou.

Verder verskil die kraglewering, wydte en hoogte afhangende van die model.

Nog 'n keuse wat deur die boer gemaak kan word, is watter tenk hulle op die planter wil plaas. Daar is drie opsies om van te kies.

Syncroseed het 'n dubbelsaadlepel wat meer spasie bied om die saad te plant en sodoende kan saad beter ontkiem en vinniger groei.
Syncroseed het 'n dubbelsaadlepel wat meer spasie bied om die saad te plant en sodoende kan saad beter ontkiem en vinniger groei.

Die twee standaard-trekstangtenke het drie of vier tenks. Die opsie met drie tenks se groottes is 2 350 liter, 1 800 liter en 2 350 liter vir 'n totaal van 6 500 liter en die tenks kan droë produkte of vloeistof bevat.

Die opsie met vier tenks se groottes is 2 350 liter, twee van 1 800 liter en 2 270 liter vir 'n totaal van 8 220 liter waarvan almal nat of droë inhoud kan bevat, behalwe die laaste tenk, wat slegs vloeistof kan bevat.

Op die derde tenk-opsie kan 'n uitmeter opgesit word en dit het ook vier tenks wat insluit groottes van 2 350 liter, twee van 1 800 liter en 2 350 liter tenks wat in totaal 8 300 liter is.

Hierdie tenks kan ook droë produkte of vloeistof bevat.

"In die verlede het ons metaaltenks gebruik, maar ons het 'n paar jaar terug begin deur sekere masjiene met plastiektenks toe te rus.

"Die groot voordeel van plastiektenks is dat vloeistof of droë produkte in dieselfde tenk gebruik word," deel hy.

Nog eienskappe

Saam met die plastiektenks het hulle ook die afgelope paar jaar veranderings tot die uitmeters aangebring wat vir die Syncroseed gebruik is.

"Volgens my is die uitmeters die hart van die masjien, want dit is waar dinge goed kan gaan of baie skeef kan loop. Met baie insette van die tegniese span en produsente het ons agtergekom waar ons kan verbeter.

"Die hidrouliese motor is nou geïntegreer met die uitmeter en hulle is aan mekaar vas. Dit maak dinge makliker onder die planter se pens sodat dit meer sinvol en kompak is.

"Rondom die as wat die materiaal uitmeet, het ons baie moeite gedoen om die area reg rondom die as dieselfde grootte te hou sodat daar geen vernouing is nie.

"Die skeiding tussen die verskillende seksies van die uitmeter is regdeur van voor tot agter. Daar is dus nie meer die kans dat as jy teen 'n skuinste werk die saad of kunsmis kan oorloop na die naburige seksie nie," vertel Steyn.

Die roer-as is ook meer aggressief gemaak om egalige vloei na die as te verseker, maar dit sal nie die saad stukkend maak of skade aan produkte aanrig nie.

Nog 'n voordeel is die nuwe roller wat die uitmeetwerk doen wat nou in seksies verdeel word sodat jy slegs die seksies wat beskadig is kan vervang - en nie die hele roller hoef te vervang nie. Dit is dus meer prakties en koste-effektief.

Die konneksie tussen die tenk en uitmeter was ook baie belangrik met die ontwerp van die planter, vertel Steyn. Die opening van die tenk en die uitmeter het nou dieselfde deursnee sodat daar nie plek is vir materiaal om te gaan lê en onbruikbaar te word nie.

Die planter het ook 'n ry-eenheid waar die silinder vir wegbreek meer vertikaal is en dus beter teen skuinstes werk met 'n wegbreek van 600 kg teen 90 bar.

"Laas jaar het ons begin om die saadlepel en -buis van mekaar te skei sodat jy een kan vervang indien nodig en nie albei nie.

"Ons dubbelsaadlepel word gebruik om vir elke pit 'n bietjie meer spasie te gee om sy ding te doen. Elke plant het dan ewe veel spasie om te groei.

"Met toetse van die dubbelsaadlepel het ons gevind dat die meer spasie help om die pitte vinniger te laat ontkiem én groei."

Verder bied Syncroseed ook 'n Crary-waaier met 'n hoë kapasiteit en 'n spoed van 6 000 r/min.

"Die waaier het 'n baie effektiewe gebuigde spilsuiermotor met 95% effektiwiteit en kan tot 144 liter per minuut se olievloei hanteer. Hierdie motor help om die produk by die tand te kry sonder enige probleme," sê Steyn.

Die planter se Hydac-koeler is ontwerp met stowwerige toestande in gedagte.

Die openings tussenin is so gemaak dat makliker lugvloei toegelaat word.

Dit help om die olietemperatuur met 10 °C te laat afneem.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM