Landbou

Pampoene pronk op die plaas

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Daar pronk ’n indrukwekkende versameling pampoene in die Pofadder-uitstalruimte.Foto: VERSKAF
Daar pronk ’n indrukwekkende versameling pampoene in die Pofadder-uitstalruimte.Foto: VERSKAF

Babylonstoren ruk sy pampoene reg om binnekort die eerste Pampoenpretnaweek aan te bied.

Hierdie naweek, nes dit aandui in die naam, gaan 'n prettige affêre wees waar­tydens besoekers kan kerf, saag en proe in die tuine van dié plaas op die Simondiumpad net buite die Paarl.

Bring jou innerlike pampoenboer van Vrydag 1 Maart tot Sondag 3 Maart na vore deur die plaas te besoek en deel te neem aan een van die vele aktiwiteite.

Jy kan volgende naweek uitsien na onder meer pampoen-gewigstoot, pampoenkerf en pit-spoeg, en daar gaan verskeie pampoenlekkernye wees om te geniet.

Die Pofadder-uitstalruimte gaan weer pronk met die mooiste pampoene, en daar gaan 'n spesiale fotohoekie ingerig wees om die naweek mee vas te vang. Daar gaan selfs 'n pampoen-voëlverskrikker wees om saam met jou op jou foto's te pronk!

Daar word meer as 30 pampoen- en kalbasvariëteite op Babylonstoren verbou. Die variëteite wissel van kleintjies soos "Daisy", "Autumn Wings" en "Gremlin Gourd" tot die groot menere genaamd "Cinderella" en "Atlantic Giant". Daar is ook die "Turk se turban" - hierdie ferm en soet dubbeldekker is 'n gunsteling op die plaas met sy veelkleurige skil. Dit sal een van die pampoene wees wat in die uitstalruimte te sien sal wees.

Die naweek se hoogtepunt is beslis die sport-ekstravaganza wat Sondag plaasvind. In die Skaduhuis gaan daar pampoen-geïnspireerde lekkernye verkoop word en by die Glaskas-restaurant kan gaste aansit by 'n oestafel wat deur die pampoene in die herfs geïnspireer is.

By die Roomys-kas kan soettande die hele naweek die plaas se Carla Hills, gelato-koningin, se nuwe gelato gemaak met botterskorsie en karamel proe.

"Ons pampoen-dames het 'n streng velsorgroetine om te sorg vir gesonde, streelsagte wangetjies. Eers moet ons die vrugtevlieë weglok sodat hulle nie die jong pampoene steek en vratjies agterlaat nie. Wanneer hulle volgroeid is, kan die somerhitte weer skade aanrig, so ons bedek hulle met strooi om hulle te beskerm tot hulle gereed is om te pluk," sê Tenecia Stevens, goentetuinier by Babylonstoren.

Vir gesinne is daar ook die Pampoenpret-werkswinkels wat insluit 'n skattejag - oor en weer deur die tuin en onderdeur die toegerankte Slak waaraan pampoene en kalbassies van allerhande kleure en vorms hang - en die familie kan saam hul eie kunswerke uit pampoene sny en kerf.

  • Besoek babylonstoren.com om te bespreek vir die Pampoenpret op 1 Maart (in Afrikaans aangebied) en Pumpkin Fun op 2 Maart (in Engels aangebied). Bespreking hiervoor is noodsaaklik.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM