Uniondale het op 11 Oktober Wêreldvoedseldag op die dorp gevier en hierdie dag het 'n boodskap van hoop vir die gemeenskappe van dié dorp en die omgewing gebring.
Vanjaar se tema vir Wêreldvoedseldag, wat wêreldwyd op 16 Oktober gevier word, is "Die reg op voedsel vir 'n beter lewe en toekoms". Dit is veral van toepassing op die arm gemeenskappe van Uniondale en omstreke waar uiteenlopende omstandighede die lewe vir duisende mense onhoudbaar moeilik maak.
Wêreldvoedseldag het die hoop op ontvlugting van die hongersnood deur middel van kostuine vir die gemeenskappe van Uniondale en die dorpies Haarlem, Avontuur en De Vlugt, almal binne 'n 30 km-radius van die dorp, gebring.
Die gebied val onder die George-munisipaliteit en dus ook onder die sambreel van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit. Die twee munisipaliteite snoer kragte saam met die Wes-Kaapse landboudepartement om 'n helpende hand na die oorwegend werklose, arm en ongeletterde gemeenskappe uit te reik.
Hartseer van 'n gemeenskap
Om die lot van die gemeenskappe beter te verstaan is dit belangrik om 'n kykie in die hart van die gemeenskap te kry.
Jitesh Naidoo van Gauteng het in 2016 "per ongeluk" in Uniondale beland en gebly. Met sy agtergrond in boekhou, belasting en inligtingstegnologie het hy deur middel van sy konsultasiewerk in 2018 by Uniep (Uniondale Integrated Empowerment Projects) betrokke geraak en in die hoedanigheid navorsing gedoen oor die gemeenskap.
Die man met 'n hart vir die gemeenskap skets 'n hartroerende prentjie van die gemeenskappe se omstandighede. Volgens hom is die gemeenskappe van Uniondale en omgewing 85% bruin, van wie 76% van staatstoelaes afhanklik is. Die ander 24% is in diens van die staat.
"Uit 'n maatskaplike oogpunt is Uniondale 'n nagmerrie. Sewe uit elke 10 mense het 'n drankprobleem en van die sewe is vier ook verslaaf aan dwelms soos dagga of tik."
Hy meen die Wes-Kaapse regering is blind vir die feit dat dwelms die provinsie doodwurg.
"As 'n individu probeer ek 'n verskil maak, maar in my hart weet ek die stryd is verlore. Weens die verslawing neem geboortedefekte toe.
"Op die oog af lyk Uniondale na 'n idilliese, rustige dorpie, maar armoede, dwelms en alkoholmisbruik maak die dorp dood. Politici se beloftes ter wille van stemme is leeg, daar kom niks van nie.
"Uniep het sedert 2005 onverpoosd gewerk om die werkers te help, maar gedurende Covid het finansiering opgedroog en die organisasie wat soveel gedoen het, is tegnies bankrot."
Sedert Julie vanjaar hou hy Uniep met sy eie geld aan die gang: "Deur die genade van die Vader het hy voorsien."

Nuwe projekte, nuwe hoop
Die George-munisipaliteit, Tuinroete-distriksmunisipaliteit en die Wes-Kaapse departement van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme het nuwe projekte in die Uniondale-gebied ontwikkel wat kort voor Kersfees 'n tikkie hoop vir die gemeenskappe bring, wat uit altesaam sowat 9 000 mense bestaan.
Volgens die jongste amptelike opname is minstens die helfte van hulle werkloos.
"Die program vir gemeenskaps-, huis- en skooltuine word die afgelope 20 jaar voortdurend oor die provinsie heen van stapel gestuur en ons sal daarmee voortgaan," sê Willem Burger, bestuurder van die Wes-Kaapse landboudepartement se landbou-ondersteunings-en-ontwikkelingsdiens in die Klein-Karoo.
Die groentetuine wat deur die program tot stand gebring is, lewer 'n bydrae tot huishoudelike kos; en enige ekstra groente wat produseer word, word aan behoeftiges in die gemeenskap geskenk.
Stortingsterreine word tuine
Volgens Jackie von Brandis, die uitvoerende burgemeester van die groter George- munisipale gebied, ly tot 30% van die inwoners in die gebied honger ten spyte van meer as 120 voedingsentrums in die munisipale gebied.
Daar word in die vooruitsig gestel dat gemeenskapstuine op onwettige stortingsterreine in dorpsgebiede aangelê sal word.
Verskeie stortingsterreine word tans ondersoek en die grond getoets om te verseker dat dit vir groenteverbouing geskik is. Sodra die terreine identifiseer is, sal dit omhein en van water voorsien word sodat dit in gemeenskapstuine omskep kan word. Dan sal begunstigdes uit die gemeenskappe aangewys word.
Volgens Burger word gemeenskapstuine op gemeenskaplike grond wat nie van munisipale water afhanklik is nie, ook ondersteun. Gemeenskapslede wat verantwoordelikheid aanvaar vir die tuinwerk en instandhouding moet na vore tree.
Die munisipaliteit stel die grond beskikbaar indien dit beveilig kan word, daarom die heinings, sê Burger. "Diefstal van groente uit die tuine is 'n groot probleem."
Huistuine
Dr. Mogale Sebopetsa, hoof van landbou in die Wes-Kaap, het gedurende die geleentheid aangekondig dat 100 huishoudelike tuine - 34 in Haarlem en 64 in Uniondale - ontwikkel sal word. 'n Verdere 78 tuine by huishoudings word in die vooruitsig gestel.
Volgens Burger word huishoudings wat op die George-munisipaliteit se deernislys is of deur die landboudepartement as hulpbehoewend geïdentifiseer word, ondersteun met huistuine.
Die huishoudings moet 'n inkomste van minder as R5 600 per maand kry en moet reeds 'n poging aangewend het om 'n tuin te maak. Hulle kan by die Wes-Kaapse landboudepartement om hulp aansoek doen.
"Die mense wat met huistuine gehelp word, het gewoonlik reeds tuine. Die landboudepartement help deur watertenks te verskaf vir die gebruik van reënwater wat opgevang word. Ons moedig die huishouding ook aan om gryswater te gebruik."
Gereedskap, soos 'n tuinvurk, graaf, hark en besproeiingspype word voorsien.
Die departement verskaf ook saad en saailinge en bied basiese opleiding aan sodat mense die beginsels van hoe 'n groentetuin aangelê, bewerk en onderhou word, kan leer.
Voorts word ook kunsmis verskaf en die huishouding word die basiese beginsels van herlewingslandbou geleer, soos hoe om die grond op die regte manier te bewerk, tussengewasse te plant en plantmateriaal op die grond te los om die voedingstowwe in die grond terug te sit, die tekstuur van die grond te verbeter, waterhouvermoë te verbeter, verdamping te bekamp en gronderosie teen te werk.
Hulle word ook geleer hoe om kompos en wurmtee te maak, waarvoor 'n erdwurmplaas verskaf word.
Die inwoners word ook geleer hoe om groente wat nie opgebruik of uitgedeel word nie in te maak of te droog sodat niks verlore gaan nie.
Hulp vir skole
Navorsing toon dat die warm maaltyd wat kinders by die skool kry dikwels hulle enigste gebalanseerde maaltyd van die dag is. Skole se voedingsprogramme word deur dié kostuine ondersteun.
Die kostuine by die Haarlem Sekondêre Skool en die Avontuur Primêre Skool het onder meer heiningmateriaal, tuingereedskap en besproeiingstelsels ontvang, asook produksie-insette soos kompos en 'n wurmplaas.
Kostuine is ook by Mina Moo-kleuterskool en die Chris Nissen-kleuterskool op Uniondale begin. Die twee kleuterskole het plantbokse, saailinge, tuingereedskap en gieters, asook 'n waterherwinningstelsel vir gryswater ontvang.
Skole wat vir 'n kostuin op die skoolterrein in aanmerking wil kom, moet oor hulle eie water beskik sodat hulle nie munisipale water hoef te gebruik nie. Daar moet ook 'n persoon by die skool wees wat aanspreeklikheid vir die tuin aanvaar en wat in die tuin werk. Volgens Burger stel die departement soms werkers aan om hand by te sit.
Die sukses van die kostuine is vir die landboudepartement baie belangrik en landboubeamptes besoek die skool- en gemeenskapstuine gereeld. Indien nodig word nog opleiding verskaf.
"Weens 'n gebrek aan genoeg personeel word huistuine nie weer besoek nie, tensy daar probleme ervaar word," sê Burger. "Ons besoek ook die tuine wanneer ons kompetisies hou sodat die tuine beoordeel kan word."
Volgens dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, ly mense honger ten spyte daarvan dat genoeg kos in die land geproduseer word om die gemeenskappe te voed.
"Ons ondersteun alle pogings om honger te verlig en voedselsekerheid te bewerkstellig. Hierdie projekte is 'n bewys van ons gesamentlike pogings en 'n bron van hoop en ondersteuning in die toekoms. Ons wil werksgeleenthede skep wat mense uit armoede sal verlos en vooruitgang verseker en bowenal vir hulle waardigheid skep."
Heuningbostee
Nog 'n projek wat hoop skep, is 'n verwerkingsaanleg vir heuningbostee wat werk sal skep en bowenal vir kleinboere toegang tot die produk se waardeketting sal gee.
Andrew Stroebel, uitvoerende burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, meen voedselsekerheid gaan ook oor waardigheid, ekonomiese ontwikkeling en bemagtiging.
"Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit is daartoe verbind om 'n model van weerstandigheid te ontwikkel waar alle inwoners toegang tot gesonde kos het. Landbou kan die hoeksteen van volhoubare ontwikkeling in die Tuinroete-distrik wees," sê Stroebel.
Volgens hom is die belowendste projek tans die totstandkoming van 'n verwerkingsaanleg vir heuningbostee wat sal werk skep en kleinskaalse heuningbosboere toegang tot die bedryf se waardeketting sal gee.
Werner Thomas, die eienaar van Eden Honeybush Tea in George, bedryf 'n klein verwerkingsaanleg waar sowat twee ton heuningbostee per jaar verwerk en verpak word.
Thomas is besig om in samewerking met ander opkomende instellings die heuningbos wat kleinskaalse heuningbosboere oes, te verwerk. Die boere het permitte om tot twee ton heuningbos van natuurlike stande in 'n gebied van sowat 20 ha in die omgewing van George en Kaap Agulhas te oes. In die Oos-Kaap word permitte vir tot drie ton uitgereik.
Ander instellings wat by die projek betrokke is, is Raoul du Toit van Phezukomkhono Training Services, Zinzi Ntimane van Eden Agri Hub, Jackie Joseph van Khoisan Doepa, oom Eddie (van nie bekend nie) van Honeybush & Timbers en Mirl Cunningham van Thornham Heuningbos.
"Ons snoer kragte saam om die projek met of sonder finansiële ondersteuning te laat werk," sê Thomas.
Hy vertel meer van die bedryf wat volgens hom bitter harde werk is wat min inkomste lewer.
Volgens Thomas is daar twee groepe heuningbosteeboere, naamlik die kommersiële boere wat grootskaals tee aan gevestigde verwerkers en uitvoerders van gevestigde handelsmerke lewer, en inheemse kleinskaalse boere wat kwekerye bedryf of een of twee hektaar heuningbostee aanplant.
Intussen word tot 80% van die heuningbostee tans wild geoes. "Hulle loop kilometers ver in die moeilik begaanbare bergagtige terrein om die takkies te sny. Die takkies word met toue in bondels van drie tot vyf kilogram gebind en op die kop na die naaste voertuig, hetsy 'n viertrek-bakkie of 'n trekker en sleepwa aangedra. Vir elke kilogram word hulle maar met sowat R10 beloon."
Volgens Thomas moet voldoen word aan baie streng regulasies wat moet voorkom dat te veel heuningbostee geoes word.
"Daar is 'n biodiversiteitsbestuursplan in werking en die mense wat wildetee oes, word gereeld ingelig oor die vereistes.
"Cape Nature en die landboudepartement is verantwoordelik vir die handhawing van die bestuursplan."





















