Ná vier goeie seisoene het die afgelope inmaakseisoen se syfers 'n totale afname van meer as 25 000 ton taaipitperskes getoon.
Die uiterse seisoen met sy ongunstige weerstoestande gedurende blomtyd het tot gevolg gehad dat die totale taaipitperske-oes op 112 884 ton geraam word.
Met inmaakseisoen wat nou amptelik afgehandel is en met die vrugte in die blik het die Inmaakvrugte-produsentevereniging (IPV) sy jongste syfers uitgereik.
Volgens die IPV het die ‘Keisie'-taaipitperskes, die grootste taaipitperske-kultivar, die ergste deurgeloop.
Sommige streke het tot 40% minder vrugte aan hul bome gehad.
Daar was die afgelope seisoen veral 'n afname in die verwerking van sap en puree. Volgens die IPV kan hierdie afname toegeskryf word aan die oes se gehalte wat baie goed was en hoofsaaklik vir inmaakdoeleindes aangewend is.
Laastens het gedroogde perskes 'n afname van 137 ton getoon en vars perskes 'n afname van 6 000 ton. Die rede vir die afname in vars perskes is omdat daar minder vrugte beskikbaar was om aan die varsmark te lewer.
"Dit was 'n droë en warm laatsomer met min koue en reën in die eerste helfte van die winter. Alles dui dus op 'n laat winter vanjaar.
"Damvlakke was laas jaar baie goed aangevul en die Klein-Karoo het 'n goeie seisoen gehad met bome wat begin herstel het ná die droogte. Produsente is egter nog versigtig om te plant met die afwesigheid van 'n positiewe langtermyn-oplossing vir die L&AF fabriek op Ashton," sê die IPV.
Só lyk die syfers vir taaipitperskes
Vir ingemaakte perskes was die finale getal 66 263 ton vir 2023/2024 - 'n afname van 17,6 persentasiepunte van die vorige jaar se 80 448 ton.
Sap en puree het die afgelope jaar altesaam 16 609 ton gelewer, teenoor 2022-'23 se 22 740 ton. Die totaal van hierdie twee verwerkings vir die 2023-'24-seisoen was 82 872 ton.
Die produksie van vars en gedroogde perskes het 'n effense afname getoon tot onderskeidelik 29 000 ton en 1 012 ton.
Die totale produksie van taaipitperskes (vars, gedroog, ingemaak, sap en puree) was die afgelope seisoen 112 884 ton. In 2022-'23 was dit 139 337 ton en in 2021-'22 was dit 151 801 ton.















