Nes klein jakkalsies wat die wingerd kan verwoes, kan 'n klein spuitstuk 'n groot invloed hê op die opbrengs wat jou lande lewer.
Spuitstukke wat gebruik word om gewasbeskermingsprodukte toe te dien is ook baie belangrike instrumente in die strewe na volhoubare landbou. Hierdie spuitstukke dien as die onderdele van die voertuig wat gewasbeskermingsprodukte vanaf die tenk na die teiken kry.
"Dit is hoe ons meestal oor spuitstukke dink, wat verklaar waarom dit algemeen as 'n griefaankoop beskou word," sê Andries Duvenhage, wat Syngenta Suid-Afrika se bemarking vir kleingraan, sagtevrugte en groente lei.
"As mens dit egter as 'n presisie-instrument beskou wat terselfdertyd tot jou boerdery se winsgewendheid bydra en omgewingsimpak verlaag, verander die prentjie heeltemal."
Voordele van spuitstukke
As dit kom by landbou se uitwerking op die omgewing, tree spuitstukke na vore as 'n kragtige manier om ekologiese balans en hulpbronbewaring te bevorder.
Presisie-spuitstukke se doel is om elke druppel van die spuitmengsel op presies die regte plek neer te sit. Dit verminder wegdrywing en verhinder dat produkte in omliggende ekosisteme beland waar waterbronne en wild aangetas kan word. Met die spuitstukke wat keer op keer die teiken tref, kry produsente hoër opbrengste met minder insette.
Spuitstukke wat goed ontwerp en van goeie gehalte is, help ook om die saampersing van grond en die vrystelling van koolstofdioksied te verminder, want die trekkers en spuiters ry minder deur jou lande.
Nog 'n belangrike voordeel is dat die behoorlike en gefokusde toediening weerstand help opbou deur onderdosering te verhinder - wat belangrik is vir die bydrae wat chemiese gewasbeskerming tot volhoubare landbou lewer.
Geen ekstra uitgawes
Bykans elke plaas werk reeds met spuitstukke; dus is geen nuwe belegging in tegnologie nodig nie. Al wat produsente moet doen, is om meer aandag aan hul spuitstukke te gee en versigtig te kies wanneer dit nodig is om dit te vervang.
"Die wegspringplek is kalibrasie, nie net van die spuitbalk as geheel nie, maar ook elke spuitstuk op sy eie," verduidelik Jack Pickering, toedieningstegnologie-spesialis by Syngenta.
Net een spuitstuk wat meer en 'n ander wat minder as spesifikasie lewer, het 'n geweldige invloed op doeltreffende toediening. Dit beïnvloed die geld wat 'n produsent aan die produk en die mengwater bestee - om nie eens te praat van die verlies aan opbrengs omdat die gewas nie doeltreffend beskerm word nie.
"Verslete spuitstukke het 'n ernstige uitwerking op jou bedryfskoste en die potensiële verliese regverdig lag-lag die prys van 'n nuwe stel," sê Pickering.
'n Holistiese benadering is die beste wanneer jy besluit watter spuitstuk om te koop. Syngenta sê hul 3D 90 is besonder goed daarmee om digte lower, soos aartappelblare en kanola, te penetreer én vir die toediening van voor-opkoms-onkruiddoders vanweë die invalshoek van 55 grade en afwisselende plasing van spuitstukke op die spuitbalk. Dit is ook meer doeltreffend in winderige toestande en kan teen 15 km/h nog gebruik word, wat produktiwiteit verhoog.
"Kommersiële produsente is onontbeerlik in die strewe om kos op die groeiende bevolking se tafels te sit sonder om die planeet te knou," sê Duvenhage.
"Syngenta doen moeite om die boodskap van spuitstuktegnologie wyd en syd te verkondig omdat ons glo dat doeltreffende landboupraktyke en omgewingsgesondheid hand aan hand kan en moet gaan."
- Hierdie berig is verwerk uit 'n artikel deur Syngenta.





















