Landbou

Sitrus-uitvoer veel minder as verwag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Daar is vanjaar veel minder lemoene uitgevoer as wat verwag is.  Foto: Unsplash
Daar is vanjaar veel minder lemoene uitgevoer as wat verwag is. Foto: Unsplash

Indien die probleme met kragvoorsiening, hoë insetkoste, logistiek en onredelike handelsregulasies opgelos word, kan die sitrusbedryf in Suid-Afrika "maklik" nog 100 000 werksgeleenthede skep.

Dit sal die bedryf in staat stel om teen 2032 jaarliks 'n bykomde R20 miljard se inkomste te genereer, sê die Sitruskwekersvereniging.

Soos sake nou staan, lyk die prentjie egter nie so rooskleurig nie.

In vanjaar se uitvoerseisoen het plaaslike sitrusprodusente 165,1 miljoen 15 kg-houers verpak en uitgevoer.

Hoewel dit 800 000 houers meer is as 'n jaar gelede, is dit steeds 500 000 minder as wat aan die begin van die jaar voorspel is.

Dit is ook aansienlik minder as die verwagte groei in die bedryf, sê die vereniging.

So het die verskeie kultivars vanjaar presteer:

• Daar is vanjaar 14,8 miljoen houers pomelo's verpak om uitgevoer te word. Dit is 1,9 miljoen minder as verlede jaar, maar 400 000 meer as wat aan die begin van die seisoen verwag is. In 2021 is daar 20,3 miljoen houers verpak om versend te word.

• Die uitvoer van mandaryne neem wel aansienlik toe. Die afgelope seisoen is 37,9 miljoen houers verpak, 'n toename van 6,1 miljoen vergeleke met 2022. Dit is 3,8 miljoen meer as wat aan die begin van die seisoen verwag is.

• Suurlemoene het ook 'n toename getoon. Daar is 'n totaal van 35,6 miljoen houers verpak. Dit is 900 000 meer as verlede jaar, maar 1,3 miljoen minder as wat daar aan die begin van die jaar verwag is.

• Lemoene het 'n algehele afname getoon. Vanjaar is 24,7 miljoen houers met nawels verpak. Dit is 3,1 miljoen minder as verlede jaar en effens onder die voorspelling aan die begin van die jaar. Valencias het ook 'n afname getoon. Daarvan is 52,1 miljoen houers verpak, 1,7 miljoen minder as verlede jaar en 2,4 miljoen minder as wat verwag is.

Die bedryf ondervind uitdagings wat sy wins en uitvoergetalle negatief raak. Dit sluit in volgehoue hoë vlakke van beurtkrag wat boere se vermoë om sitrus te besproei, bemes, verpak en af te koel, geraak het.

Die styging in boerdery-insetkoste het in die 2023-seisoen voortgeduur en druk op produsente geplaas.

Verwoestende vloede in die Wes-Kaap in Junie het plase in dié provinsie geraak. Die vloede het skade van minstens R500 miljoen aan sitrusplase in die Citrusdal-vallei aangerig.

Nog 'n "wesenlike uitdaging" was die verergerende logistieke krisis, wat 'n "verlammende" uitwerking op uitvoer gehad het, sê die vereniging.

Opeenhoping by hawens en die wanfunksionele spoornetwerk het boere duur te staan gekom en stuit groeigeleenthede vir die sitrusbedryf.

Die grootste uitdaging wat die bedryf in dié seisoen beleef het, was 'n verskerping van die "ongeregverdigde" fitosanitêre regulasies wat deur die Europese Unie (EU) op die produsente afgedwing is, aldus die vereniging.

Volgens die vereniging kos die "onnodige" protokol en proaktiewe maatreëls teen swartvlek en die valskodlingmot die plaaslike sitrusbedryf jaarliks R3,7 miljard.

Die EU het verlede jaar skielik besluit dat lemoene uit Suid-Afrika langer en teen 'n laer temperatuur koel gehou moet word.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM