Landbou

FOKUS | Graanboer se sukses deur volhoubaarheid

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
MBL
MBL

Vir Pieter de Jager is die bewaring van hul familieplaas Wiehmansfontein in Albertinia die rede waarom hy boerderypraktyke toepas om die grond gesond te hou. Suzaan Potgieter het met hom gesels nadat hy as Graan SA se Graanboer van die Jaar 2023 aangewys is.

As iemand wat van nature 'n optimistiese mens is, is hierdie Graanboer van die Jaar beslis in die regte beroep.Foto's: GRAAN SA
As iemand wat van nature 'n optimistiese mens is, is hierdie Graanboer van die Jaar beslis in die regte beroep.Foto's: GRAAN SA

Om die besigheid meer winsgewend te maak, het Pieter de Jager besluit om graan te plant - en nou is meer as 80% van die plaas met graan beplant.

As vierde geslag boer op die plaas Wiehmansfontein boer hulle grootliks met koring en kanola, maar daar is ook 'n bietjie gars, lupiene, radys en lusern vir weiding. Die res van die boerdery het 'n veekomponent wat deur sy broer André bestuur word.

Die kern van sy besigheid is geenbewerking, wat geen voorbereiding van die grond behels nie.

Geborg deur:

M Briers Landboudienste

By MBL vier ons nie net ons kliënte se sukses nie, maar bou ons aan 'n toekoms van uitnemendheid. As trotse vennote van bekroonde boere, kombineer ons gevorderde tegnologie met ongelooflike kennis van jou landboubehoeftes. Ons span, gevestig in George en Riversdal, lewer diens wat jou verwagtinge sal oortref. Sluit aan by die MBL-familie, waar innovasie en topgehalte produkte jou boerdery na nuwe hoogtes neem.

Besoek www.mbrierslandboudienste.co.za of hul Facebook of Instagram vir meer inligting.

De Jager volg ook 'n kleingraanstelsel met die lande wat twee jaar met koring geplant word en tussendeur met kanola. Dit help onder meer om wortelsiektes te verminder.

Sy graansukses het vir hierdie boer van Albertinia vanjaar die titel van Graan SA se Graanboer van die Jaar besorg.

"Ek het nie gedink ek gaan wen nie, maar ek is so trots op die titel.

"Dit verander egter niks aan my menswees nie - ek gaan steeds hard boer.

"Ek het nog nooit ervaar dat mense van buite 'n invloed op my lewe het nie, maar nou kyk ander na my en ek moet in my spore trap. Ek moet 'n goeie voorbeeld stel," sê hy laggend.

Die sleutel tot die plaas se graansukses lê in die gebruik van geenbewerking, wat gesonder grond en ekonomiese voordele tot gevolg het.
Die sleutel tot die plaas se graansukses lê in die gebruik van geenbewerking, wat gesonder grond en ekonomiese voordele tot gevolg het.

Lang pad na graan

De Jager het altyd 'n belangstelling in finansies gehad en beplan om dit ná skool te studeer.

"Ek wou 'n rekenmeester word, maar ek het nie slim genoeg daarvoor gevoel nie," skerts hy.

Ek is van nature 'n optimistiese mens. Ek kyk nie vas in uitdagings nie, ek probeer dit tot my voordeel gebruik.

Hy het besluit om in die landbourigting te studeer en het 'n MTech in agribestuur verwerf, en in sy laaste jaar het hy op vee gefokus en nie graan nie.

"Ek het altyd as kind gehou van vee. In daardie tyd was daar nie eintlik 'n toekoms in die groei van graan nie.

"In die 1990's het mense minder geplant, want hulle het nie goeie oeste gekry nie. Ek dink egter dit was 'n geval van die grond wat baie oorwerk en afgeskeep was."

Sy belangstelling in finansies en entrepreneurskap het handig te pas gekom, aangesien finansiële bestuur deel is van die sukses van die plaas.

Met sy studie in landbou­bestuur by die PE Technikon (nou die Nelson Mandela-Universiteit) het hy besluit om sy meesters in kommersiële kwartelboerdery te doen.

"Ek het gehou van navorsing doen en om vrae te vra. Kwartelboerderye was interessant én ek het gedink dit sal goed wees om 'n nismark te ontgin."

Met sy terugkeer na die plaas ná sy studie in 2003 het hy met kwartels geëksperimenteer vir 'n paar jaar, maar dit uiteindelik gelos aangesien dit baie werk vir min geld is. Met die verbreding van sy horisonne, het graanboerdery opgeduik.

Presisieboerdery is vir De Jager belangrik, veral as dit kom by die toediening van voedingstowwe, want dit spaar tyd en geld.
Presisieboerdery is vir De Jager belangrik, veral as dit kom by die toediening van voedingstowwe, want dit spaar tyd en geld.

Benadering tot boerdery

Op die plaas Wiehmansfontein maak De Jager gebruik van geenbewerking wat behels dat die grond so min as moontlik versteur word.

"Ek het gou agter gekom dat die grond in 'n swak toestand is weens al die bewerking van vroeër jare en het toe dadelik met die minimum bewerkingstelsel begin."

Volgens De Jager is die reënval in Albertinia deurlopend deur die jaar. Hulle het ook nie besproeiing nie en alles is droëlandboerdery.

"Dit is juis waarom geenbewerking so belangrik is, want die ondergrondse vog is belangrik vir die graan. Die oesreste wat op die grond as deklaag dien, behou die vog wat ons tydens reënval kry tot die volgende oes," sê hy.

Ons het vanjaar baie reën gehad en die weidings lyk mooi. So ons gaan die somer goed in!

Hy voel ook sterk oor presisieboerdery en pas dit veral toe as dit kom by die gebruik van kunsmis.

"Ons probeer om elke vierkante meter afsonderlik te bestuur. Sodoende word net die regte hoeveelheid voedingstowwe toegepas waar nodig om die graan op 'n sekere vlak te kry. Dit maak ons nie net produktief nie, maar is ook meer winsgewend," sê De Jager.

Vir Pieter de Jager is die bewaring van hul familieplaas Wiehmansfontein in Albertinia die rede waarom hy boerderypraktyke toepas om die grond gesond te hou. Suzaan Potgieter het met hom gesels nadat hy as

Graan SA se Graanboer van die Jaar 2023 aangewys is.Dit is vir hom belangrik om volhoubaar te boer sodat hy oor die jare steeds op die plaas kan wees én dat hul kinders eendag die plaas kan oorneem.

Die meerderheid van Wiehmansfontein in Albertinia se graanproduksie is koring, maar hulle wissel dit elke tweede jaar af met kanola om wortelsiektes te verminder.
Die meerderheid van Wiehmansfontein in Albertinia se graanproduksie is koring, maar hulle wissel dit elke tweede jaar af met kanola om wortelsiektes te verminder.

Uitkyk moet reg wees

Dis nie altyd kinderspeletjies om te boer nie en De Jager deel dat daar baie uitdagings in die graanbedryf is.

"Die onstabiliteit van die markte is veral 'n groot probleem. Die Covid-19-pandemie het byvoorbeeld vir landbou 'n hupstoot gegee, want pryse het in daardie tydperk gestyg. Goed soos oorloë is nou weer kwessies buite ons beheer wat die mark negatief beïnvloed.

"Graan vat tyd en die pryse wissel - dit gaan maar so in alle boerderye.

"Vir my fokus ek eerder op die goed waaroor ek beheer het as dit waaraan ek niks kan doen nie," sê hy.

Hy meen dat sy aanpasbaarheid beslis in sy guns tel as dit kom by boerderye.

"Ek slaan maklik 'n ander rigting in! Hoe meer aanpasbaar jy en jou besigheid is, hoe makliker vir jou.

"Ek is ook van nature 'n optimistiese mens. Ek kyk nie vas in uitdagings nie, ek probeer dit tot my voordeel gebruik."

De Jager meen dat Suid-Afrikaanse boere van die beste ter wêreld is: "Ons boere kan bykans enigiets suksesvol produseer. Daar is soveel potensiaal in die landboubedryf en ons lewer 'n groot bydrae om voedselsekerheid te verseker."

Hy prys ook landbouleiers en -organisasies wat boere help om hul besigheid makliker te maak.

"Graan SA is veral 'n bedryfsliggaam wat baie bydra tot die bedryf, want hulle ondersteun ons en help om graan tot nuwe hoogtes te neem. Hulle bou 'n goeie beeld van landbou in die land en is betrokke by ontwikkeling," deel hy.

Verder is De Jager opgewonde oor die seisoen wat voorlê.

"Ons het vanjaar baie reën gehad en die weidings lyk mooi. So ons gaan die somer goed in! Die ondergrondse vog is reeds fantasties vir volgende jaar se planttyd, so ek is opgewonde oor wat voorlê," vertel hy.

Een span, wenspan!

Pieter (heel links) en sy vrou, Marié, ontvang sy Graanboer van die Jaar-eerbewys. By hulle is (tweede van regs) Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, en (heel regs) Christian Giesel, hoof van bemarking vir Syngenta.
Pieter (heel links) en sy vrou, Marié, ontvang sy Graanboer van die Jaar-eerbewys. By hulle is (tweede van regs) Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, en (heel regs) Christian Giesel, hoof van bemarking vir Syngenta.

Nóg wenners

Op Graan SA se prysgeleentheid waar Pieter de Jager as Graanboer van die Jaar aangewys is, is die volgende boere ook vereer:

  • Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar: William Raphoto van Lichtenburg in Noordwes.
  • Potensiële Kommersiële Boer van die Jaar: Philani Khoza van Dukuza in KwaZulu-Natal.
  • Kleinboer van die Jaar: Nkosinathi Hadebe van Newcastle in KwaZulu-Natal.
  • Finansiële Bestaansboer van die Jaar: Busisiwe Portia Msisibi van Volksrust in KwaZulu-Natal.
  • Daar is ook twee individue met die Graan SA Inspirasie-prys vereer. Dr. Reneé Prins van Cengen het erkenning ontvang vir 20 jaar se werksaamhede wat bygedra het tot die sukses van die gars- en koringbedryf as die stigter van Cengen. Jack Human het die prys (postuum) ontvang vir sy baanbrekerswerk in bewaringslandbou - nie net vir die Wes-Kaap nie, maar vir die hele Suid-Afrika.

Wiehmansfontein voor graan

Voor De Jager en sy broer op die plaas aangesluit het, was dit hoofsaaklik 'n veeplaas met die fokus op wolskape, volstruise en beeste.

In daardie jare het die vee 80% van die boerdery uitgemaak en die graan, wat uit dekriet en kleingraan bestaan het, slegs 20%. In 2005 het hulle besluit om meer te saai en die plaas sodoende meer winsgewend te maak.

"Ons het klein begin, maar die saaiboerdery was gesond," sê Pieter.

Om die regte gereedskap en implemente vir De Jager se plan van geenbewerking te kry, moes hulle van die skape verkoop om alles aan te koop.

In 2006 het die plaas sy heel eerste geenbewerkingsplanter aangekoop.

"Om die onkoste te dek, het ons die planter sommer ook uitgekontrakteer," vertel hy.

Die boerdery het van daar af begin groei en in 2008 het hulle nog 'n trekker en planter gekoop. Hulle het ook die plaas self uitgebrei deur nog grond te koop.

Die De Jagers het in 2010 besluit om van hul volstruise ontslae te raak weens die risiko wat dié voëls se boerdery inhou.

Hulle het egter steeds skape op die plaas.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM