Landbou

Tekort aan koelvraghouers knel haweproduktiwiteit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die skip-tot-kaaikrane by die Kaapse houereindpunt.Foto: TRANSNET
Die skip-tot-kaaikrane by die Kaapse houereindpunt.Foto: TRANSNET

Met Oscar Borchards, 'n veteraan by Transnet Port Terminals (TPT), aan die stuur, lyk dit asof die Kaapse hawe met rasse skrede sy produktiwiteit verbeter.

Maar dit lyk asof 'n internasionale tekort aan verkoelde vraghouers bydra tot hawens se probleme.

Te midde van volgehoue frustrasie onder vrugte-uitvoerders oor vertragings en bottelnekke tydens die uitvoerseisoen het die Kaapstadse houerkaai die naweek drie vragskepe binne 'n enkele skof weggehelp, en is die aantal skepe wat voor anker lê van vier tot een verminder.

Dit was ondanks drie ure se werktyd wat weens mistige toestande verlore gegaan het.

TPT spog die merkbare verbetering in produktiwiteit wys die planne wat in plek gestel is om die agterstande weg te werk, werp vrugte af.

Volgens Borchards, wat as die waarnemende bestuurder van TPT in die Wes-Kaap aangestel is, gaan die houerkaai voort om planne op te stel en met belanghebbers soos skeepsrederye en vrugte-uitvoerders saam te werk om seker te maak dat al die beplande vraghouers betyds by die houereindpunt aankom terwyl die skip nog besig is om vrag te laai. "Dit is belangrik dat ons soveel moontlik verkoelde vraghouers inneem," het Borchards in 'n verklaring gesê.

Die redery Hamburg Süd se houerskip Santa Rita, genoem na 'n Middeleeuse Italiaanse non, is 'n voorbeeld van die tekort aan leë koelhouers.

Volgens Borchards is Santa Rita van plan om teen Woensdag of Donderdag die Kaapse hawe met 'n beplande totaal van 1 750 koelhouers vol vrugte te vertrek.

Maar die bevestigde aantal houers wat teen Dinsdag by die hawe aangekom het, is 1 730.

Hawekliënte sukkel met 'n internasionale tekort aan leë koelhouers. Dit is al lank 'n probleem gedurende die besigste tye van die uitvoerseisoene en dit plaas druk op sowel die hawe as die voorsieningsketting, sê Borchards.

'n Koelvraghouer met uitvoervrugte word in die  Kaapse hawe hanteer. Daar is jaarliks 'n seisoenale tekort aan leë koelvraghouers wêreldwyd, wat bydra tot vertragings en bottelnekke in uitvoerhawens. Foto: Transnet Port Terminals
'n Koelvraghouer met uitvoervrugte word in die Kaapse hawe hanteer. Daar is jaarliks 'n seisoenale tekort aan leë koelvraghouers wêreldwyd, wat bydra tot vertragings en bottelnekke in uitvoerhawens. Foto: Transnet Port Terminals

Pogings om die wagtye te verkort, vorder volgens hom goed. Dit sluit ekstra oortyd in en groter sigbaarheid van bestuurders op die kaai. Die vragvolumes wat hanteer word, neem week ná week toe, wat volgens Borchards die versekering bied dat die volgehoue verbeterings resultate oplewer.

Die vakbond Untu het intussen skerp teruggekap oor kritiek dat dit die arbeidsektor se skuld is dat die hawe in Kaapstad so swak vaar.

Cobus van Vuuren, hoofsekretaris van Untu, sê die vakbond het juis al verskeie verklarings uitgereik oor die hawekrisis en het by verskeie vergaderings met die regering en Transnet tussen Oktober 2022 en November verlede jaar gewaarsku dat 'n logistieke krisis op pad is.

Sowel die regering as Transnet se bestuur was bewus van die bedryfsuitdagings, soos toerusting wat onklaar raak en onderdele wat nie beskikbaar is nie, sowel as toerusting wat langer gebruik word as wat hul ontwerpleeftyd bepaal. Tog is steeds nagelaat om dié kwessies betyds aan te pak sodat die krisis by die hawens vermy kon word, sê Van Vuuren.

Die vakbond is nie bewus van enige sloerstaking by enige van die hawens nie. Benewens die betroubaarheid van toerusting, is een van die groot uitdagings volgens Untu die bekendstelling van 'n nuwe Navis-stelsel by Transnet om produksie in die Kaapse hawe te verbeter. Dit is 'n digitale vragbestuurstelsel. Soos met enige nuwe stelsel was daar aanvangsprobleme, maar werknemers word tans heropgelei om die stelsel optimaal te benut om houerhantering te verbeter, sê Van Vuuren.

Hy beskou die aanstel van Borchards as die waarnemende bestuurder by die Kaapse houerkaai as 'n positiewe stap, aangesien hy gereeld met Untu en Satawu, die ander vervoerwerkersvakbond, skakel.

Die gereelde skakeling sal werknemermoreel in die hawe verbeter, sê Untu.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM