Landbou

Tree voorkomend op om snywurms te beheer

Ideaal moet snywurmbeheer begin voor die eerste larwe kop uitsteek, maar as jy reeds te laat is, kan hierdie wenke jou volgende seisoen handig te pas kom.

Die skade wat snywurms in 'n mielieland kan aanrig, is een van 'n mielieprodusent se ergste nagmerries. In uiterste gevalle kan saailinge só verwoes word, dat hele lande oorgeplant moet word.

Dit het natuurlik 'n geweldige direkte koste-implikasie, maar die opbrengspotensiaal wat in die proses opgegee word, is die eintlike skade.

Vroeë aanplantings het die beste opbrengspotensiaal en die vier of meer weke wat verloor word wanneer daar oorgeplant moet word, skep 'n agterstand wat nie maklik ingehaal kan word nie.

Snywurms is 'n seisoenale verskynsel en hul lewensiklus val saam met mielies se planttyd wat tradisioneel in Oktober, ná die eerste reëns, begin. In sommige seisoene is die druk erger as in ander, en druk verskil ook van streek tot streek. Wat egter konstant bly, is die praktyke waarmee snywurms beheer kan word.

Beplan beheer só

Om snywurmpopulasies in toom te hou, moet produsente voorkomend optree.

Die wegspringpunt is 'n analise van vorige seisoene. Verstaan wat in jou lande en die omgewing gebeur het om die snywurmdruk te beïnvloed en herhaal jou suksesse, leer uit jou foute en probeer iets nuuts waar nodig.

Om agter die kap van die snywurmbyl te kom, is dit noodsaaklik om rekord te hou van faktore soos die tipe grondbewerking wat gebruik word, snywurmdruk van die vorige seisoen, teenwoordigheid van wintergewasse of onkruide in onbewerkte of oorlê-lande, omgewingstoestande soos temperatuur en die afwesigheid van vog, saadbehandelings en die nuwe seisoen se aanplanting.

Die tweede element van voorkoming is winterbewerking. Bewaringsbewerkingpraktyke wat wintergewasse en oesreste aanwend om grondvog te behou en grondkwaliteit te verbeter, kan ongelukkig 'n snywurmprobleem vererger, veral wanneer populasiedruk in die vorige seisoen erg was.

Volwasse larwes wat in die land teenwoordig is aan die einde van die seisoen, gebruik hierdie plantmateriaal om in die winter ondergronds te oorleef, met die gevolg dat daar alreeds 'n snywurmprobleem in so 'n land is voor die eerste saad geplant word.

Effektiewe onkruidbeheer (ook bekend as burndown), ten minste 35 dae voor plant, sal die snywurmpopulasie laag hou in die periode wanneer saailinge ontwikkel.

In skoon lande met 'n goed voorbereide saadbed het larwes geen skuilplek nie en is die kanse dus beter dat hulle in kontak met chemiese beheermiddels sal kom. Winterbewerking in Augustus of vroeg in September beskadig ook die papies en stel hulle bloot aan predatore soos miere.

Hoe om in te gryp

Die derde element is chemiese beheer. Piretroïede is een van die pilare van snywurmbekamping - maar dit moet betyds en behoorlik toegedien word.

Die grootste fout wat produsente maak met snywurmbeheer, is om nie die 35-dae-beginsel na te kom nie en dan te probeer om wurms wat reeds groter as 1 cm is, weg te spuit. In baie gevalle is die resultaat superwurms wat ten beste net wisselvallig beheer kan word.

'n Geïntegreerde plaagbeheerstrategie wat al bogenoemde elemente insluit, bly die beste manier om snywurms onder beheer te hou.

Produsente moet bestuursbesluite aktief neem met inagneming van alle relevante faktore, en chemiese gewasbeskerming kombineer met praktyke wat natuurlike predatore beskerm en snywurms se voedselbronne beperk.

Laasgenoemde behels veral die verwydering van onkruid en oesreste.

  • Indien produsente die regte aanvalsplan volg, kan snywurms doeltreffend gekeer word om ekonomies betekenisvolle skade aan te rig. Verwerk uit 'n berig deur Hanlie Geldenhuys, bemarkingsbestuurder by Syngenta.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM