Landbou

Wind troef nie appelproduksie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Appelprodusente in Ceres en die areas van Elgin, Grabouw, Vyeboom en Villiersdorp (EGVV) is verheug dat die afgelope naweek se reën en wind nie te veel skade aangerig het nie.

Hierdie produsente van Tru-Cape evalueer tans die skade en verliese van die stormweer.

Die afgelope naweek se stormsterkwinde het heelwat appels van die boorde af gewaai, maar in die algemeen is die skade minimaal. Op die foto is die boorde van Calla du Toit in die Koue-Bokkeveld.
Die afgelope naweek se stormsterkwinde het heelwat appels van die boorde af gewaai, maar in die algemeen is die skade minimaal. Op die foto is die boorde van Calla du Toit in die Koue-Bokkeveld.

"Op dié oomblik lyk dit asof ons produksiegebiede nie so hard getref is soos dié van die Helderberg- en die Stellenbosch-area nie," sê Roelf Pienaar, besturende direkteur van Tru-Cape Fruit Marketing.

Appelsoorte soos Pink Lady, Rosy Glow, Granny Smith en Sundowner word tans geoes of is reeds geoes.

Chris Knoetze, besturende direkteur van Link Supply Chain Management, sê dinge by die Kaapstad-hawe staan sedert verlede Donderdag stil weens die wind. As die wind meer as 80 km/h is, kan die hawe nie operasioneel wees nie. "Dit word verwag dat die werking van die hawe vir eers aan en af sal wees, soos toegelaat deur die wind," sê hy.

Wind waai appels weg

Vir Laastedrif Agri in Ceres was hierdie seisoen uiters moeilik. Eers is hy in Februarie deur hael getref, toe het sterk winde die afgelope naweek verwoesting in sy boorde gesaai.

"Ons is steeds besig om die omvang van die skade te bepaal, maar op dele van die plaas is Pink Lady- en Rosy Glow-appels van die bome afgewaai. Ons het ook lammers weens die koue en reën verloor. Maar ons boer onder die ope lug en moet maniere vind om met hierdie uitdagings te leef," sê Rossouw Cillié, eienaar van Laastedrift Agri.

"Hopelik lyk die skade erger as wat dit is en gelukkig is sowat 80% van ons oes reeds afgehaal."

Daar was ook geringe infrastruktuurskade aan 'n paar dakke by Laastedrif Agri.

Pink Lady- en Rosy Glow-appels is ook van die bome afgewaai op Sakkie Hanekom se plaas Slagboom in die Witzenbergvallei. Golden Delicious-appels wat sapgraad is, is ook deur die wind beskadig.

"Die skade behoort nie meer as 5% te wees nie, maar ek vermoed ons sal eers die werklike skade sien wanneer ons begin om die vrugte te pluk, aangesien kneusing beslis sal voorkom," sê hy.

Sy broer, Hannes, van Welgemeen Boerdery, ook in die Witzenbergvallei, stem saam dat die skade minimaal is. "Gelukkig het die wind uit die ooste gekom en ons boorde is in 'n noord-suid-rigting geplant, wat gehelp het om die sterk wind te breek."

Hanekom raam die windsnelheid was soms meer as 100 km/h.

Beperkte skade is aangerig in die Elginvallei, waar die Two-A-Day-produsent Arno Reuvers op Heideland boer. "Minder as 5% van ons vrugte is van die bome afgeblaas. Dit is 'n wonderwerk."

Hul Pink Lady-appels en die res van hul Granny Smith-oes is die hardste getref. "Ons het 'n konstante windsnelheid van 10 m/s (36 km/h) ervaar, maar gelukkig nie die rukwinde wat in Somerset-Wes en Stellenbosch aangemeld is nie," sê hy.

Hy voeg by die wind- en reënskade aan die vrugte en boorde op sy plaas Champagne, in die Greyton-gebied, is minimaal. Geringe kneusing kan verwag word, maar dit sal eers prominent wees wanneer hulle die oes hervat.

Ook goeie nuus

Aan die positiewe kant gaan reën en koue weer hand aan hand in die Wes-Kaap. "Ons het die koue nodig vir die regte kleurontwikkeling op ons Pink Lady-appels. Die enigste negatiewe is dat ons 'n paar dae moet wag vir die boorde om uit te droog voordat ons weer vrugte kan pluk," sê Reuvers.

Ben van der Merwe van die plaas Fortuin in die Vyeboomstreek, nog 'n Two-A-Day-produsent, het ook die koeler weer verwelkom. "Die koue weer is goed vir die kleur van ons Pink Lady- en Sundowner-appels. Kleurontwikkeling was die seisoen 'n uitdaging weens die droë tydperk wat ons onlangs ervaar het."

Hy het nie enige skade die naweek aan vrugte of infrastruktuur gehad nie. "Ons was baie gelukkig om geen skade te ervaar nie. Die reën is ook nie 'n probleem nie, maar dit sal wel ons plukwerk vertraag. Ons is tans besig met Granny Smith, gevolg deur Pink Lady en Sundowner," sê Van der Merwe.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM