Met hul bydraes tot die land se bruto binnelandse produk (BBP), indiensneming, toerisme en algehele ekonomiese veerkragtigheid, is daar geen twyfel dat die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynbedryf op groot skaal tot die land se ekonomie bydra nie.
South Africa Wine (SA Wine) het onlangs 'n mediadag in Stellenbosch aangebied waartydens meer oor die Makro-ekonomiese Impak-verslag van FTI Consulting, wat die wyn- en brandewynbedryf se impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie vir 2022 gemeet het, gedeel is. 'n Studie deur I and M Futureneer Advisors van 2022 wat die ekonomiese bydrae van wyntoerisme gemeet het, het die impakstudie vergesel.
Finansiële bydraer
Die wyn- en brandewynbedryf se waardeketting speel 'n groot rol in die land se ekonomie en sluit in 'n uitgebreide landelike voetspoor, toerisme, buitelandse inkomste deur die uitvoer van wyn na meer as 120 lande en die gepaardgaande handelsmerkreputasie vir die land.
"Te midde van die uitdagings wat die wêreldwye pandemie meegebring het, het wyntoerisme bewys dis 'n veerkragtige lewenslyn vir die bedryf. Dit beklemtoon die ekonomiese betekenis en aanpasbaarheid van wyntoerisme," sê Rico Basson, SA Wine se uitvoerende hoof. "Die groei van 14,7% in 2019 van die totale kelderomset wat aan wyntoerisme toegeskryf word, tot 17,3% in 2022, beklemtoon wyntoerisme se deurslaggewende rol as inkomstebron. Wyntoerisme het in 2022 R9,3 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie bygedra. Dit oortref voor-Covid-19-vlakke en is aansienlik beter as die 2019-bydrae van R7,2 miljard.
"Die diepgaande impak op die bedryf se ±400 mikro- en klein wynkelders (van 523 wynkelders in totaal) is veral opmerklik, met 'n aansienlike 36,3% van die totale omset wat gewortel is in wyntoerisme se polsende ervarings. Te midde van moeilike omstandighede bevestig hierdie getalle die blywende aantrekkingskrag van Suid-Afrika se wynkelders en wyntoerisme se integrale rol in die handhawing van die hartklop van ons bedryf."
In 2022 het die wyn- en brandewynbedryf 'n ekonomie-wye bydrae van R56,5 miljard gehad - dit het bygedra tot 0,9% van die land se BBP teen markpryse verteenwoordig.
Verder lewer die bedryf se aktiwiteite 'n fiskale bydrae van R19,26 miljard en 1,23% van die land se totale belastinginkomste vir die 2022-boekjaar.
Wat sê die verslag?
Die effek van die alkoholverbod van meer as 200 dae tydens die Covid-19-pandemie, beleidsonsekerheid, die gebrek aan wetstoepassing op onwettige alkoholhandel, logistieke uitdagings by hawens, beurtkrag en ontwrigting weens geopolitieke faktore, het volgens die verslag algehele groei belemmer.
Al die faktore wat 'n negatiewe uitwerking gehad het, het veral ook finansiële druk op produsente en wynkelders geplaas. Herinvestering vir toekomstige groei se tempo is as gevolg hiervan belemmer.
Die 2022-studie het die bekendstelling van die gemeenskapsekonomiese veerkragtigheidsindeks (CERI) bekend gestel. Hierdie indeks is ingesluit om die bedryf se verbintenis tot die begrip en die aanspreek van kwesbaarheid in gebiede soos die Kaapse Wynlande te beklemtoon, met die klem op die behoefte aan geteikende ondersteuning om toekomstige volhoubaarheid te verseker.
"Die gemeenskapsekonomiese veerkragtigheidsindeks wat in die 2022-studie onthul is, weerspieël ons verbintenis om uitdagings met akkuraatheid en doelgerigtheid te navigeer.
"Terwyl ons CERI-tellings ontleed, veral binne die Kaapse Wynlande, beklemtoon die verskille die genuanseerde ekonomiese landskappe binne ons bedryf. Dit vereis 'n pasgemaakte en doelgerigte benadering, wat die noodsaaklikheid van strategiese samewerking met nasionale, streeks- en plaaslike regeringsinisiatiewe beklemtoon," sê Basson.
Werkskepping groot deel van bedryf
Nog 'n bydrae wat die wyn- en brandewynbedryf lewer, is tot die werkloosheidsyfer van die land.
Oor die verskeie sektore in die bedryf is daar 270 364 werksgeleenthede geskep. Dit is 'n totaal van 1,8% van die nasionale indiensneming.
In die geval van wyndruiweproduksie en wynmaak-aktiwiteite, wat oor 89 000 ha strek, is die twee saam verantwoordelik vir 85 962 werksgeleenthede.
Die bedryf se uitsetgebaseerde BBP-vermenigvuldiger van 1,57 oortref die nasionale gemiddelde, wat R1,57 miljoen se toegevoegde waarde tot die nasionale ekonomie ondersteun vir elke R1 miljoen se verkoopsinkomste in die wynbedryf. Die bedryf se uitsetgebaseerde indiensnemings-vermenigvuldiger van 7,51 oortref ook die Suid-Afrikaanse gemiddelde van 6,58. Dit beteken elke R1 miljoen se verkoopsinkomste in die wynbedryf ondersteun 7,51 formele en informele werksgeleenthede. Die indiensneming-tot-diensvermenigvuldiger van 3,15 dui aan dat vir elke werk in die wynbedryf 'n bykomende 2,15 poste deur die res van die ekonomie ondersteun word, vir 'n totaal van 3,15 poste as die aanvanklike werk in die wynbedryf ingesluit word.
"Die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynbedryf is 'n baken van ekonomiese veerkragtigheid wat aansienlik bydra tot die BBP, indiensneming, toerisme en staatsinkomste.
"Terwyl ons die uitdagings en geleenthede vorentoe stuur, sal strategiese samewerking en volgehoue ondersteuning hierdie belangrike sektor se volgehoue groei en lewenskragtigheid verseker," sê Basson.
Bedryf se waarde
Hier volg die bydraes van die wyn- en brandewynbedryf tot die land se ekonomie in 2022. Die totale ekonomiese waarde van wyntoerisme vir die land se bruto binnelandse produk (BBP) is R9,3 miljard.
Wes-Kaap
511 kelders
- Tonne geproduseer: 1315743
- Totale hektaar: 86544
- BBP-bydrae teen markprys: R50,9miljard
- Werksgeleenthede: 245128
Noord-Kaap
12 kelders
- Tonne geproduseer: 59882
- Totale hektaar: 2840
- BBP-bydrae teen markprys: R1,4miljard
- Werksgeleenthede: 7333
Res van die land
- Tonne geproduseer: 311
- BBP-bydrae teen markprys: R4,2miljard
- Werksgeleenthede: 17902





















