Maatskappye

Absa se wins styg ná ‘beduidend beter’ 2de halfjaar

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Agterstallige skuld op Absa se skuldboeke styg steeds weens die laaste jare se hoë rentekoerse en druk op verbruikers. Foto: Reuters
Agterstallige skuld op Absa se skuldboeke styg steeds weens die laaste jare se hoë rentekoerse en druk op verbruikers. Foto: Reuters

'n Baie beter tweede halfjaar het verseker dat Absa sy boekjaar met 'n winsstyging van 10% afsluit.

Charles Russon, tussentydse uitvoerende hoof van die bankgroep, sê die resultate, wat Dinsdag uitgereik is, toon beduidende vordering is in die tweede helfte van sy boekjaar gemaak ná die teleurstellende eerste halfjaar.

Die groep het in 2024 weer 'n leierskrisis ervaar toe Arrie Rautenbach ná skaars twee jaar as uitvoerende hoof bedank het.

LEES OOK | Drama sleep voort by Absa: Hoof waai ná skaars 2 jaar in die pos

Russon was die sesde aanstelling in die pos in ses jaar waarvan drie tussentydse aanstellings was.

Voorsien minder slegte skuld

Die jaarwins het danksy 'n 8%-afname in die voorsiening vir slegte skuld gestyg.

Die verandering in die voorsiening vir slegte skuld op die verskillende soorte lenings van die Suid-Afrikaanse verbruikersbank lyk soos volg:

• Die kredietafskrywingskoste vir huislenings het met 32% tot R1,2 miljard gedaal.

• Vir voertuiglenings het dit met 18% tot R1,9 miljard gedaal.

• Vir persoonlike lenings het dit met 29% tot R2 miljard gedaal.

• Vir kredietkaarte het dit met 1% tot R4,3 miljard gestyg.

Dit het die wins van dié produkte ná die kredietafskrywingskoste skerp verhoog. Op huis- en voertuiglenings het dit met onderskeidelik 31% en 215% gestyg.

In geheel het die groep se koste vir die voorsiening van kredietafskrywings R14,3 miljard beloop vergeleke met die vorige jaar se R15,5 miljard.

Russon het in Desember beleggers toegespreek oor die regrukplan vir die verbruikersbank in Suid-Afrika wat die wins oor die komende twee jaar sal verbeter. Die groep se aandeelprys het sedertdien stewig gestyg en is byna 12% hoër.

Hy het in Desember gesê van die misstappe wat in die laaste jare begaan is, was om te lank te vat om sy aptyt vir risiko met lenings aan te pas wanneer ekonomiese toestande verander en koste te verminder.

Charles Russon, wat as die tussentydse uitvoerende hoof van die Absa-groep dien. Foto: Verskaf
Charles Russon, wat as die tussentydse uitvoerende hoof van die Absa-groep dien. Foto: Verskaf

Russon sê doelbewuste stappe is gedoen om die vertoning te verbeter.

"Ons het ons fokusareas verfyn om te verseker dat die stappe wat ons doen, geteiken en presies is om waarde te skep en die wins te verhoog."

Volgens Deon Raju, die finansiële direkteur, het van die stappe ingesluit meer gedissiplineerde risikobestuur.

Een van die belangrike aandrywers van die sterk herstel in die tweede helfte van die jaar is "volhoubare groei teenoor die uitbreiding van markaandeel" op strategiese vlak. Hy sê dit verseker dat kapitaal meer gedissiplineerd toegewys word aan sektore wat 'n beter wins behaal.

Die strategie met prysbepaling is verfyn om die risiko wat kliënte het, beter in ag te neem.

Die fokus is ook verskuif van die najaag van wins op spesifieke produkte na breër wins.

Praktyke verfyn

Die verbetering in die slegte skuld wat met huislenings verwag word, is toegeskryf aan inisiatiewe met skuldinvordering en kliënte wat baat gevind het by die daling in rentekoerse.

Voertuiglenings aan spesifieke segmente van verbruikers wat groter risiko inhou, is vermy.

Wat betref persoonlike lenings en kredietkaarte is die verskaffing van krediet aan meer riskante kliënte "doelbewus verminder", terwyl die strategieë met skuldinvordering versterk is.

Deon Raju, die finansiële direkteur van die Absa-groep. Foto: Verskaf
Deon Raju, die finansiële direkteur van die Absa-groep. Foto: Verskaf

Agterstallige skuld neem toe

Die verbruikerskuld op Absa se boeke wat meer as drie maande agterstallig raak, het steeds gegroei.

Die wanbetalings het met 7% tot R86 miljard gestyg.

Inisiatiewe wat insluit verdraagsaamheid teenoor kliënte in nood het die tempo van wanbetaling verlangsaam. Die algehele wanbetalings het egter toegeneem. Dit is omdat wanbetalings deur ondernemings wat aan verbruikers blootgestel is, toegeneem het.

Dit is onder meer aan die vertraagde impak van hoë rentekoerse en die druk op verbruikers toegeskryf.

Dit het meegebring dat die deel van die boek vir lenings wat meer as drie maande agterstallig is, vinniger gegroei het as die hele boek met nuwe lenings wat toegestaan is.

Die dividende wat verklaar is, is 7% groter.

- nellie.brand@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM