Hy oorhandig die leisels aan die "nuwe fase van leierskap", sê Absa oor die bedanking van Sello Moloko, voorsitter van sy direksie.
Die verandering is die jongste van verskeie leierskapsveranderinge in Absa die laaste paar jaar.
Moloko gee in 'n verklaring te kenne sy bedanking hou verband met die moeilike jaar wat die direksie agter die rug het.
In die jaar het Arrie Rautenbach, vorige uitvoerende hoof, ná berigte in Sunday Times oor beweerde interne ongelukkigheid met hom vroeë aftrede aanvaar.
Bronne is nooit genoem nie, maar TimesLive berig nou 'n ondersoek oor wie die inligting laat uitlek het, het tot Moloko se bedanking gelei.
TimesLive skryf daar was die afgelope twee week gerugte oor 'n ondersoek deur die regsfirma ENS na wie die nuus oor Rautenbach en interne probleme by Absa uitgelek het.
TimesLive sê luidens die gerugte is Moloko "verstrengel" in die ondersoek.
Bekende neem oor
'n Bekende in die bankbedryf, René van Wyk, voormalige registrateur van banke en hoof van toesighouding oor banke van die Reserwebank, word nou Absa se voorsitter.
Moloko se aankondiging kom kort nadat Absa aangekondig het 'n nuwe uitvoerende hoof is uit Standard Bank se geledere by hom aangestel.
Die aanstelling van Kenny Fihla, adjunkhoof van die Standard Bank-groep, as Absa se nuwe uitvoerende hoof is onlangs aangekondig.
Luidens 'n verklaring tree Moloko op 15 Julie af as voorsitter en as 'n direkteur.
Talle probleme
Moloko verwys in 'n verklaring na die moeilike omstandighede in die groep verlede jaar en talle probleme wat die direksie moes behartig.
"Die probleme het my laat nadink oor wat dit van my en my tyd verg. Ek voel die tyd is nou ryp vir my om my aandag te herfokus op my familie, my betrokkenheid in die gemeenskap en my persoonlike sakebedrywighede."
LEES OOK | Absa besin oor reputasie ná skielike vertrek van hoof
"Arrie se vertrek het Moloko saam met hom afgetrek," het 'n bron aan TimesLive gesê.
Betrek Moloko
Die aanstelling van 'n wit voorsitter in Absa is moontlik omstrede.
Met Rautenbach se aanstelling het Netwerk24 berig die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het "diepe teleurstelling" uitgespreek omdat die nuwe uitvoerende hoof wit is.
Rautenbach is aangestel nadat Daniel Mminele, voormalige adjunkpresident van die Reserwebank, as uitvoerende hoof bedank het. Die OBK het sy aanstelling destyds as 'n "langverwagte swart aanstelling" beskryf.
Rondomtalie
Die groep sukkel al sedert 2019 om iemand vas in die belangrike pos van uitvoerende hoof te hou.
Fihla is die derde permanente uitvoerende hoof sedert 2019, toe Maria Ramos die groep verlaat het.
Van Wyk het reeds waargeneem in die pos toe Ramos weg is.
Ná 'n afkoelperiode is hy in Augustus 2020 as 'n nie-uitvoerende direkteur aangestel en hy het 'n jaar later 'n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur geword.
Van Wyk se aanstelling moet nog deur die Omsigtigheidsowerheid (PA) van die Reserwebank goedgekeur word.
Hy het in Mei 2016 afgetree as registrateur van banke.
Van Wyk was ook van 1993 tot 2011 by die Nedbank-groep betrokke, onder meer as die uitvoerende hoof van Imperial Bank, wat 'n filiaal van Nedbank was.
Van Wyk sê hy neem die leisels oor in 'n "opwindende tyd" in Absa se geskiedenis.
Fihla sluit in Junie by Absa aan.
Hy is in September as die adjunkhoof van Standard Bank aangestel en sy bedanking by dié bankgroep is as 'n swaar slag beskryf.
- nellie.brand@24.com





















