Die Old Mutual-groep se finansiële adviseurs wat op ryker kliënte fokus, het in die afgelope jaar 28% meer kliënte bygekry.
Die groep sê in sy jaarverslag oor die vertoning van dié bedryfsegment die saamgestelde groei in sy kliënte wat dollarmiljoenêrs is (mense wat in rand minstens R18,1 miljoen werd is), beloop 31% die afgelope vyf jaar.
Dit is toegeskryf aan die teenwoordigheid van Old Mutual se handelsmerk en aanbod aan die mark wat verbeter het.
Die wins uit bedrywighede van Old Mutual Wealth het met 27% tot meer as R1 miljard gestyg.
In geheel het die bedryfsegment vir persoonlike finansies en welvaartbestuur nie waffers vertoon nie omdat die wins uit bedrywighede vir Old Mutual Personal Finance met 41% tot R1,7 miljard gedaal het.
Dit is toegeskryf aan meer groot doodseise wat in die eerste helfte ontvang is.
Old Mutual Personal Finance verkoop sy lewenspolisse en spaarprodukte deur adviseurs wat net sy produkte verkoop, asook onafhanklike finansiële adviseurs.
Hoewel die ekonomiese toestande in die laaste deel van 2024 begin verbeter het, bly Old Mutual se kliënte onder finansiële druk en is hulle ongewillig om geld op herhalende premies te bestee.

Groot uitvloei van geld
Die netto kontantvloei van kliënte af het beduidend gedaal weens 'n toename in die disinvestering uit spaarprodukte, hoër annuïteitbetalings en eise. Dit het die impak van die nuwe tweepotbedeling vir die aftreebedryf ingesluit.
Old Mutual Wealth, wat dienste aan private kliënte lewer, bied welvarende kliënte beleggingsoplossings wat deur finansiële tussengangers gebied word. Die netto kontantvloei vanaf kliënte het beduidend verbeter teenoor die onttrekkings van groot kliënte wat in die vorige boekjaar 'n negatiewe impak gehad het.
Die Private Clients-aanbod gaan in die komende jaar uitgebrei word.
Iain Williamson, uittredende uitvoerende hoof van die Old Mutual-groep, sê die groei in bates onder bestuur van 14% tot R420,4 miljard is ondersteun deur die uitbreiding van die Private Clients-aanbod.
In geheel het die groep 'n netto uitvloei van R21,5 miljard in die jaar beleef weens beduidende uitvloei wat Old Mutual Africa en Old Mutual Corporate ervaar het. Een groot mandaat is in Afrika verloor, en Old Mutual Corporate het van sy minder winsgewende sake laat vaar en een groot kliënt het 'n kontrak beëindig.
Williamson sê daar is in die jaar ook groter voordele uitbetaal vir aftrede en afleggings, asook vir die nuwe tweepotbedeling.
Die onttrekkings as gevolg van die tweepotstelsel het vir die hele groep R3,4 miljard beloop. Die groep verwag dat die onttrekkings uit die spaarpot stelselmatig vervang gaan word deur 'n verbetering in die bewaring van bates in die aftreepot en dat dit vir kliënte tot 'n herstel in die netto invloei van kontant sal lei.
Kliënte volhard nie
Williamson sê die meeste van Old Mutual se lewenspolis- en spaarprodukte beleef nog probleme met kliënte wat nie volhard met hul polisse nie.
Dit is veral in die sakebedrywighede wat op laerinkomstegroepe fokus - dié wat begrafnispolisse, spaarprodukte en lenings verskaf.
Volgens hom sloer ekonomiese herstel en word daar nog nie 'n verbetering in die besteebare inkomste van kliënte gesien nie.
In die lopende boekjaar word maatstawwe vir bestuur geteiken om die volharding met produkte te verbeter. Die probleem met volharding is grootliks met spaarprodukte.
Wins styg stewig
Volgens Williamson het die groep ten spyte van die beduidende belegging in nuwe afdelings soos Old Mutual Bank sy bedryfswins met 4% tot R8,7 miljard verhoog.
Die groep het in die jaar sy wins voor belasting met byna 11% van R13,9 miljard tot R15,4 miljard verhoog.
Uitgesluit sekere eenmalige items het die kernwins met 14% gestyg.
Sterk kontantskepping, wat R1 miljard insluit wat uit Old Mutual Africa ontvang is, het bygedra tot die dividend wat met 6% verhoog is. 'n Finale dividend van 52c per aandeel is verklaar teenoor verlede jaar se 49c.
Williamson sê sedert Old Mutual se primêre notering in 2018 na die JSE verskuif is, is R89 miljard aan aandeelhouers uitgekeer. Dit sluit in 'n spesiale dividend van R4,9 miljard, Nedbank (wat R49,5 miljard werd was) wat ontknoop is, en R7,2 miljard se aandele wat teruggekoop is.
Boonop het Old Mutual altesaam R27,4 miljard se gewone dividende sedert 2018 uitbetaal.
- nellie.brand@24.com





















