Ondanks die tesourie se versekering dat die dae van reddingsboeie vir staatsondernemings verby is, gaan die staat (en belastingbetalers) steeds hoes as Transnet nie sy geldknyp kan verlig nie.
Die departement van vervoer sê hy het begin met 'n proses om binnekort verdere staatswaarborge aan die sukkelende staatsvervoergroep te bied. 'n Aankondiging in dié verband sal na verwagting op 25 Julie gedoen word.
R51 miljard reeds gebied
Barbara Creecy, minister van vervoer, het reeds verlede maand aangekondig 'n waarborg van R51 miljard is aan Transnet toegestaan om verskeie onmiddellike finansiële verpligtinge te kan nakom.
R41 miljard daarvan is 'n waarborg vir sy finansieringsvereistes vir die 2026- en 2027-boekjaar, terwyl die oorblywende R10 miljard vir kontantvloeibestuur aangewend moet word.
LEES OOK |Transnet het nog net genoeg geld vir 3 maande, waarsku Moody's
Maar dit blyk nie genoeg te wees nie, want luidens Transnet se huidige sakeplan moet hy R99,6 miljard se skulddelgings binne die volgende vyf jaar nakom. Sy oorhoofse skuldlas beloop amper R140 miljard.
Onvoldoende
"(Die staat) is besig met 'n proses om bykomende waarborge aan Transnet te bewillig om sy skulddelgings (oor die tydperk van sy huidige besigheidsplan) te dek," lui 'n verklaring.
"Die regering is vasbeslote om saam met Transnet te werk en om te fokus op strukturele oplossings wat sy kapitaalstruktuur sal verbeter en skuldvlakke sal verlaag."
Staatswaarborge verskil van 'n regstreekse reddingsboei in die sin dat daar geen bedrag vooraf betaal word nie en dat geld eerder gebruik word deur 'n staatsonderneming om finansiering teen gunstiger voorwaardes te bekom.
Maar die tesourie sal wel moet betaal indien Transnet nie sy verpligtinge kan nakom nie.
Moody's se waarskuwing
Die kredietgradeerder Moody's het verlede maand al gewaarsku daar bestaan 'n wesenlike risiko dat so 'n scenario hom kan uitspeel.
"Transnet se beskikbare geld is net genoeg om die maatskappy se bedryfs- en beleggingskoste, asook komende skulddelgings, vir die volgende drie maande te dek," het die verslag gelui, kort voordat die waarborg van R51 miljard aangekondig is.
Transnet is 'n waarborg van R47 miljard aan die einde van 2023 deur die tesourie toegestaan, maar dit is reeds uitgeput.





















