Die buitensporige vergoeding wat deur uitvoerende direkteure en die topbestuur van die Steinhoff-groep verdien is, het tot gevalle gelei waar sommige hul pligte versaak het, lui die verslag oor die forensiese ondersoek na Steinhoff se sake wat in Desember aan die media beskikbaar gestel is.
Van 2013 totdat Steinhoff se kaartehuis ineengestort het, het Markus Jooste, wat aan die stuur van die groep was, en sy topbestuur naby aan R3 miljard se salarisse en bonusse verdien.
Die verslag oor die forensiese ondersoek staan 'n hele hoofstuk aan die buitensporige vergoeding af.
Dit wei ook uit oor 'n bonus wat Jooste sonder die kennis van die direksie aan homself betaal het en hoe hy 'n bonus laat uitbetaal het maande voordat hy daarop geregtig was.
Netwerk24 het reeds daaroor berig, maar die verslag wei nou uit oor hoe hy dit bewimpel het en diegene wat die goedkeuring daarvoor moes gee, om die bos gelei het.
LEES OOK | Markus Jooste betaal self bonus van R33 m. vroeg
Luidens die verslag is die vergoeding van Jooste en sy topbestuur ondersoek weens die bewering dat die "buitensporige vergoeding aanleiding gegee het tot partydigheid en 'n kultuur waarin verdagte transaksies nie bevraagteken is nie".
"Dit kon daartoe gelei het dat die individue nie hul fidusiêre pligte nagekom het nie en nie in die beste belang van die Steinhoff-groep opgetree het nie," lui die verslag.
Die ondersoekers kom tot die gevolgtrekking dat "beduidende bedrae geld, meestal van 'n diskresionêre aard, aan sekere personeellede betaal is".
Diskresionêr verwys in dié geval na betalings of bonusse wat nie vasgestel of gewaarborg is in 'n kontrak nie, maar eerder toegeken word op grond van die diskresie of oordeel van die groep se bestuur.
Nalatig in uitvoering van pligte
Die ondersoekers kom ook tot die gevolgtrekking dat daar "spesifieke gevalle is waar sommige van die individue nalatig was in die uitvoering van hul pligte en waar hulle nie in die beste belang van Steinhoff opgetree het nie".
Die meegaande tabel is PricewaterhouseCoopers (PwC), wat die forensiese ondersoek uitgevoer het, se opsomming van die ondersoek na wat die uitvoerende direkteure en topbestuur se vergoeding beloop het. Die individue is gekies op grond van hul senioriteit en pos, die ongewone vergoeding wat ontvang is, hul verhouding met Jooste en beweerde betrokkenheid by die rekeningkundige ongerymdhede wat ondersoek is, lui die verslag.
Dit wys PwC se berekening van die jaarlikse totale koste van indiensneming, prestasiebonusse, strategiese bonusse en die waarde van aandele wat toegeken is en gevestig het (dus eienaarskap van geneem is). Die waarde daarvan word in rand aangedui.

Die strategiese bonusse is betaal vir projekte wat afgehandel is, soos die suksesvolle notering van Steinhoff in Frankfurt en goedkeuring van die Reserwebank vir die buitelandse notering.
Netwerk24 het op grond van die tabel en gemiddelde wisselkoerse in die gegewe jare bereken die 19 mense se vergoeding oor die vyf jaar het sowat R2,8 miljard beloop.
Jooste is die beste vergoed (R700 miljoen), gevolg deur Danie van der Merwe, voormalige bedryfshoof (R340,3 miljoen) en dan Ben la Grange, voormalige finansiële direkteur, wat reeds gevonnis is weens sy rol in die bedrog by Steinhoff (R255 miljoen).
Steinhoff het reeds jare gelede siviele eise teen Jooste en La Grange ingestel weens die vergoeding wat hulle van 2009 tot 2017 ontvang het.
Volgens PwC handel die ontleding in die verslag oor die salarisse en bonusse van 2013 tot 2017 omdat 'n beduidende toename vanaf 2014 gesien is.
Jooste het in die laaste twee jaar vergoeding van meer as R100 miljoen per jaar verdien.
Ongeag die yslike vergoeding, het hy dit nodig geag om vroeg in 2017 'n betaling aan homself goed te keur en boonop nog 'n bonus waarop hy baie later eers geregtig sou wees. Die betaling van R23,3 miljoen is in Mei uitbetaal. Hy moes dit eers in drie dele in Oktober en November 2017 en Oktober 2018 kry.
Terugskouend het Steinhoff al begin wankel toe Jooste in Mei 2017 dit bewimpel het.
So ook met 'n betaling van €500 000 wat hy op 1 Maart 2017 op sy opdrag ontvang het. "Dit kom voor of Jooste nie geregtig was op die betaling nie omdat geen bewyse gekry kon word dat die vergoedingskomitee of die toesighoudende direksie die bonusbetaling aan hom goedgekeur het nie."
Lys van nog mense
Die ander in die tabel sluit die volgende mense in. In die verslag word daar ter wille van maklike verwysing slegs die pos getoon wat relevant is tot die kernentiteit waarin die individu betrokke was:
• Piet Ferreira, voormalige direkteur van korporatiewe dienste van Steinhoff Africa Holdings (SAH);
• Stéhan Grobler, voormalige hoof van die tesourie van Steinhoff International wat verhoorafwagtend op strafregtelike klagte in verband met Steinhoff is;
• Dirk Schreiber, hoof van verskeie Steinhoff Europe-filiale. Hy is reeds in Duitsland gevonnis weens oortredings wat met Steinhoff te doen het;
• Mariza Nel, voormalige direkteur van korporatiewe dienste van Steinhoff International;
• Alexandre Nodale, uitvoerende hoof van Conforama;
• Frikkie Nel, finansiële direkteur van SAH;
• Philip Dieperink, finansiële hoof van Steinhoff UK;
• Michael Egan, Steinhoff UK se hoof van samesmeltings en verkrygings;
• Hein Odendaal, oudithoof van die Steinhoff-groep;
• Hendré Ackermann, bedryfs- en finansiële hoof van Mattress Firm;
• Nadine Bird, voormalige finansiële hoof van SAH en direkteur van Wands Investments;
• Hans-Ulrich Bussas, hoof van die regsafdeling van Steinhoff Möbel Holding Alpha;
• Carol-Ann Morison, persoonlike assistent van Grobler;
• Johannes van der Merwe;
• Siegmar Schmidt, reeds oorsee gevonnis in verband met Steinhoff. Hy was 'n direkteur van talle maatskappye wat Steinhoff as onafhanklik voorgehou het; en
• Frank Deshayes, adjunk- uitvoerende hoof van Conforama.


















