Maatskappye

Transnet: Groot belangstelling vir private treinvrag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Argieffoto van 2017 met die bekendstelling van Transnet Engineering se Trans Africa Locomotive, ’n diesellokomotief wat deur Transnet self ontwerp en gebou is vir Afrika-toestande.Foto: GCIS
’n Argieffoto van 2017 met die bekendstelling van Transnet Engineering se Trans Africa Locomotive, ’n diesellokomotief wat deur Transnet self ontwerp en gebou is vir Afrika-toestande.Foto: GCIS

Transnet vorder met die vestiging van 'n treinverhuringsmaatskappy as deel van die proses om private deelname op sy spoorlyne bekend te stel.

Byna 100 voornemende private spooroperateurs het al aangedui hulle stel belang om treine op Transnet se spoornetwerk te bedryf, blyk uit 'n tenderdokument van Transnet.

Transnet het Dinsdag 'n versoek om kwalifikasie uitgestuur sodat hy 'n vennoot kan kies saam met wie hy die beplande huurmaatskappy (LeaseCo) kan bedryf.

Die plan is dat LeaseCo treinwaens en lokomotiewe sal aankoop, bestuur en uitverhuur in die binnelandse en streekmark.

Volgens Transnet is dit deel van sy spoorhervormingsprogram om mededinging in die vragstelsel te verbeter en private investering te lok.

Transnet het reeds vroeër sy filiaal Transnet Freight Rail (TFR) geskei in die Transnet Spoorinfrastruktuurbestuurder (Trim) en TFR as spooroperateur wat mettertyd met private spooroperateurs op sy spoorlyne sal meeding.

LeaseCo se rol sal wees om Transnet se bestaande rollende bates (treinwaens en lokomotiewe) beter te bestuur en uit te brei. Dit is ook sodat private treinoperateursmaatskappye toegang kan hê tot 'n poel van treinwaens en lokomotiewe wat hulle by LeaseCo kan huur as hulle nie self hul eie rollende bates aanskaf nie.

Die versoek om kwalifikasie is oop tot 4 Julie. 'n Kortlys van suksesvolle bieërs sal dan opgestel word wat na verwagting teen Augustus kan deelneem aan die fase waar 'n versoek om voorstelle uitgereik sal word.

Die versoek om kwalifikasie is bedoel om uit te vind watter maatskappye wel sou belang stel om deel te wees van LeaseCo.

Transnet hou op 6 Mei 'n inligtingsessie oor die proses.

Hy verwag die vraag na treinwaens en lokomotiewe sal sterk groei namate nuwe treinmaatskappye op die been kom. Die konserwatiewe skatting is dat tussen 250 miljoen en 300 miljoen ton se vrag per jaar per spoor vervoer kan word. Dit is vergeleke met TFR wat tans sukkel om meer as 150 miljoen ton per jaar te vervoer. Die raming is gegrond op vrag wat tans per pad vervoer word wat eerder per spoor vervoer behoort te word, asook verlore volumes spoorvrag weens Transnet se logistieke probleme.

Groot vraag verwag uit streek

Die potensiaal vir groei in spoorvolumes word volgens Transnet gesteun deur die byna 100 aansoeke wat deur Trim ontvang is van voornemende treinoperateursmaatskappye wat byna 100 miljoen ton vrag per spoor wil vervoer.

'n Markstudie wat Transnet in 2021 onder buurlande se spoorvervoermaatskappye laat doen het, het bevestig daar is 'n sterk vraag na rollende bates van sy eweknieë in die buurlande, waaraan daar nie tans voldoen word nie. Die studie het geraam daar sou teen verlede jaar 'n totale vraag na byna 13 000 treinwaens en 80 diesellokomotiewe in die Suider-Afrika-streek wees, wat teen 2030 tot meer as 17 000 treinwaens en byna 170 diesellokomotiewe kan styg.

Hoewel van die spoorowerhede planne het om bates aan te koop, is daar steeds 'n aansienlike tekort wat op ander maniere soos verhuring aangepak sal moet word.

Aanvanklike vloot

Volgens Transnet het hy 'n vloot van sowat 600 lokomotiewe en 21 000 treinwaens geïdentifiseer uit sy eie bates wat as beginpunt vir LeaseCo se vloot kan dien. Teen die tyd dat LeaseCo op die been is, skat Transnet dat sowat 50% van die rollende bates reeds op lang termyn aan binnelandse en streekkliënte verhuur sal wees. Die huurkontrakte sal dan aan LeaseCo oorgedra word sodat die onderneming van die begin af inkomste kan genereer.

Transnet skat die res van die vloot sal eers deur LeaseCo opgeknap en herstel moet word. Tog verwag hy die bestaande bates sal nie voldoende wees vir die markvraag nie, en nuwe voorraad sal aangekoop moet word.

Bou eie lokomotiewe

Volgens Transnet se tenderdokument sal Transnet Engineering, sy filiaal, tegniese kundigheid lewer om LeaseCo te steun wat betref die vervaardiging, herbou of montering van rollende spoorbates.

Transnet Engineering het self die Trans Africa Locomotive (TAL) ontwikkel en gebou wat tans op die ysterertsspoorlyn na Saldanha gebruik word, en het dus bewese vermoë om lokomotiewe te vervaardig.

- francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM