Maatskappye

Transnet se lokomotieftender van R8 mjd. tersyde gestel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Een van die lokomotiewe wat Wabtec aan Transnet verskaf het. Foto: Wabtec/Facebook
Een van die lokomotiewe wat Wabtec aan Transnet verskaf het. Foto: Wabtec/Facebook

Die hooggeregshof in Pretoria het een van die tenders van Transnet vir die verskaffing van nuwe lokomotiewe tersyde gestel.

Die waarde van die kontrak was sowat R8 miljard.

Dit is een van die tenders wat deel was van die omstrede kontrak van 2014 om 1 064 nuwe lokomotiewe aan Transnet te lewer. Dit was gedurende die era van staatskaping, en die kontrak is uitvoerig deur die Zondo-kommissie ondersoek.

Die maatskappy genaamd Wabtec South Africa Technologies sou 233 diesellokomotiewe aan Transnet lewer. Wabtec was voorheen die plaaslike filiaal van die Amerikaanse tegnologiegroep General Electric.

Die hof het in sy uitspraak wat Maandag gelewer is, beslis dat Transnet wel die 233 diesellokomotiewe wat Wabtec reeds gelewer het toe hy nog deel van General Electric was, mag behou. Die skikkingsbedrag wat Transnet sal ontvang, is R70,35 miljoen. Wabtec moet ook krediet van dieselfde bedrag aan Transnet voorsien vir die nakoming van uitstaande verpligtinge wat betref verskafferontwikkeling.

Die hof het wel beslis dat Wabtec enige ander bedrae mag behou wat reeds ingevolge die oorspronklike kontrak, asook 'n ondergeskikte kontrak met Transnet Engineering, aan hom oorbetaal is.

SOE verwelkom hofbesluit

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) en Transnet het die hofbeslissing verwelkom. Die kontrak is die eerste van vier lokomotiefkontrakte wat deur die howe tersyde gestel word, en die SOE beskryf dit as 'n deurbraak-vordering in die voortgesette pogings om staatskaping te bestry en integriteit by die land se staatsondernemings te herstel.

Die ander kontrakte as deel van die totale verkryging van 1 064 lokomotiewe sluit in 'n kontrak met Bombardier Transportation vir die lewering van 232 elektriese lokomotiewe, 'n kontrak met China North Rail (nou CRRC SA Rolling Stock) vir die lewering van 240 diesellokomotiewe, en 'n kontrak met China South Rail (nou CRRC E-Logo Supply) vir die lewering van 359 elektriese lokomotiewe.

Zondo-getuienis

In 2019 is omvattend voor die Zondo-kommissie getuig oor verskeie onreëlmatighede wat met dié tenders plaasgevind het, soos betalings van miljarde rande wat gedoen is voordat waarborge uitgereik is, of deelnemers soos China North Rail wat nie aan tendervereistes voldoen het nie, maar steeds suksesvol was met sy tender. China South Rail het ook nie aanvanklik gekwalifiseer nie, maar het wel nadat die oorspronklike kriteria gewysig is.

Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, was in die jare in aanloop tot die reuse-kontrak vir die 1 064 lokomotiewe die hoof van Transnet, en Siyabonga Gama, wat later hoof van Transnet geword het, was hoof van Transnet Freight Rail.

Toe stappe later gedoen is teen van die Chinese tenderaars het hulle begin weier om onderdele vir die reeds afgelewerde lokomotiewe te verskaf.

Pravin Gordhan, destydse minister van openbare ondernemings, het in 2023 tevergeefs na China gegaan om 'n oplossing te probeer vind, want honderde van die lokomotiewe het mettertyd by Transnet gaan staan en kon nie gebruik word nie. Dit het bygedra tot die agteruitgang van Transnet se spoordienste en die gevolglike logistieke krisis.

Transnet se nuwe bestuur het toe ander vervaardigers gevra om van die komponente te lewer.

-francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM