Aandeelhouers van die Australiese mynreus BHP is verheug dat hy nie voortgaan met sy poging om Anglo American oor te neem nie.
Beleggers in BHP wou bewyse sien dat die myngroep transaksies nie teen enige koste najaag nie.
Mike Henry, uitvoerende hoof van BHP, het Woensdagaand besluit om die ambisieuse bod te laat vaar om Anglo oor te neem nadat hy nie daarin kon slaag om die teikenmaatskappy by die onderhandelingstafel te kry nie.
Henry was genoop om sy oornameplan om 'n nuwe internasionale koperreus te vorm, te laat vaar nadat Anglo reeds 'n paar vorige voorstelle verwerp het tydens die stryd van sowat vyf weke.
'n Suksesvolle transaksie sou sowat $49 miljard beloop het en sou die grootste mynboutransaksie in meer as 'n dekade gewees het.
Maar BHP se Australiese aandeelhouers het die mislukte poging as goeie nuus beskou.
"Ek is verras, op 'n positiewe manier," het Jun Bei Liu, portefeuljebestuurder van Tribeca Investment Partners in Sydney, gesê.
"Wat hulle (BHP) gedemonstreer het, is prysdissipline, en dit word eintlik verwelkom."

Die bod van BHP vir die oorname van 'n kleiner mededinger het die mynbousektor se verbeelding aangegryp in 'n tyd waarin daar 'n lang droogte van samesmeltings en oornames was.
Mynboubase het hul vingers verbrand deur tydens vorige siklusse van stygende kommoditeitspryse te veel vir bates te betaal. Hulle het daarom jare lank weggeskram van die soort reuse-transaksies wat Henry voorgestel het.
Beleggers verstaan die strategiese logika agter BHP se plan om Anglo oor te neem sodat hy sy hande op Anglo se topklas-kopermyne in Suid-Amerika kan lê, maar daar was uit die staanspoor kommer oor die ingewikkeldheid van die voorgestelde transaksie. Daar was die risiko dat Henry te ver sou gaan om 'n oorname te beklink.
Matthew Haupt, portefeuljebestuurder by Wilson Asset Management in Sydney, sê hy sou daarvan gehou het dat die transaksie voortgaan, maar is gelukkig dat BHP dissipline en selfbeheersing toegepas het in sy hantering van 'n onwillige oornameteiken.
Anglo het herhaalde voorstelle van BHP verwerp om hom gedeeltelik te ontbondel, maar het wel verlede week ingestem om die toegelate tydperk vir 'n finale vaste aanbod te verleng sodat gesprekke gevoer kan word.
BHP het Woensdagoggend in Londen meer besonderhede bekend gemaak oor wat hy sou doen om kommer oor die kompleksiteit van die transaksie te besweer. Anglo was egter nie oortuig nie en BHP het nie veel van 'n keuse gehad om sy voorstel te laat vaar voor die Britse regulatoriese spertyd verstryk het nie.
Oornamereëls bepaal dat BHP nou eers ses maande moet wag voordat hy weer 'n poging aanwend. Dit is tensy Anglo 'n aanbod van 'n ander mededinger ontvang. Anglo sal ook nou moet voortgaan met sy eie plan om te herskik, wat behels dat hy ontslae wil raak van sy belange in steenkool, platinum en diamante.
'n Gekombineerde BHP-Anglo sou 'n markaandeel van 10% in die wêreld se koperproduksie gehad het. Dit is meer as wat enige mededingers het in 'n tyd waarin mynmaatskappye skarrel om meer blootstelling aan koper te kry. Ontleders sê daar gaan nog vir baie jare stygende pryse en beperkte voorraad van koper wees.
'n Ontleder van Jefferies, Christopher LaFemina, sê hoewel hulle glo 'n oorname van Anglo sal op lang termyn positief vir BHP wees, is dit positief vir sy aandeelprys op die kort- tot mediumtermyn dat BHP gedissiplineerd is in sy benadering. - Bloomberg





















