Voorlopige aanduidings is dat ongeoorloofde optrede by Impala Platinum (Implats) se Rustenburg-myn veroorsaak het dat die remme van 'n mynhyser ontkoppel is sonder dat die hysermotor krag gehad het.
Dit het daartoe gelei dat die hyser in die nr. 11-skag in November verlede jaar na benede gestort en die dood van 13 werkers veroorsaak het.
Drie afsonderlike ondersoeke na die mynramp is gedoen, met dié van die departement van minerale bronne en Implats se interne ondersoek wat reeds afgehandel is.
'n Derde ondersoek deur 'n eksterne entiteit word tans afgehandel, het Patrick Morutlwa, bedryfshoof van Implats, Donderdag gesê op 'n mediakonferensie oor die myngroep se resultate vir die boekjaar tot einde Junie.
Volgens Nico Muller, uitvoerende hoof van Implats, sal 'n geregtelike ondersoek ook vanjaar of volgende jaar na die voorval gedoen word.
Met myne wat veiligheid as hul eerste prioriteit beskou, het Implats in die afgelope jaar sy slegste jaar nog beleef met 19 mynwerkers wat gesterf het. Verlede jaar was daar vyf mynsterftes by die platinumgroep.
Volgens Muller is verskeie veiligheidsveldtogte onder Morutlwa se toesig oor die groep heen aangepak om die veiligheidskultuur in die maatskappy te verskerp.
Hy glo die geregtelike ondersoek sal ook tot voordeel van die hele bedryf wees.
Hoewel Implats in die boekjaar sy produksievolumes verhoog het, het volgehoue lae pryse van die platinumgroepmetale sy verdienste geknou.
Implats se inkomste was dus 19% laer op R86,4 miljard ondanks verkoopsvolumes van ses platinumgroepmetale wat met 16% tot 3,44 miljoen ons gegroei het.
Sy wesensverdienste was 87% laer op R2,4 miljard.
Volgens Muller is die beste verdediging vir 'n kommoditeitsprodusent in 'n omgewing van lae pryse om koste te verlaag. En om koste te verlaag moet produksie verhoog word sodat oorhoofse koste oor meer produksie-eenhede versprei kan word.

Hy verduidelik die platinumbedryf is nie soos die Organisasie van Petroleumuitvoerlande waar daar om 'n sigaartafel rondgesit kan word om saam oor produksiebesnoeiings te besluit nie. As Implats sy produksie verlaag om pryse te probeer opstoot, sal dit bloot sy mededingers in 'n beter posisie plaas en sal sy eenheidskoste styg.
Muller glo daar is wel dinge wat die bedryf as geheel kan doen om groter vraag te stimuleer. Die meeste maatskappye is aktief betrokke in verskeie inisiatiewe, byvoorbeeld die veldtog om juwelierswareverkope te bevorder.
Daar is ook 'n inisiatief om waterstoftegnologie te bevorder wat meer platinumgroepmetale gebruik, en Implats is saam met Sibanye Stillwater betrokke in 'n projek om palladium in sekere tegnologie met platinum te vervang.
Dis nog onseker hoe veranderinge in die motorbedryf die vraag na platinumgroepmetale presies kan raak. Suiwer battery-elektriese voertuie het tot dusver meer aandag gekry, met waterstoftegnologie "die stil boetie in die hoekie".
Volgens Muller sal arbeidsherstrukturering en 'n meer gedissiplineerde kapitaalbesteding die groep help om koste te verlaag.
Sekere uitbreidingsprojekte is opgeskort of vertraag. In die boekjaar is 4 200 poste in totaal by Implats se totale internasionale werkmag van sowat 60 000 mense besnoei. Lee-Ann Samuel, groephoof vir mensehulpbronne by Implats, het bevestig in Suid-Afrika alleen is net onder 4 000 poste besnoei, maar geen gedwonge afleggings was nodig nie.
Muller sê dis hoogs onwaarskynlik dat daar in Suid-Afrika enige wesenlike belegging in nuwe platinummyne sal wees as daar nie ook waardetoevoeging kom nie.
Dit duur 10 tot 20 jaar om 'n nuwe platinummyn in produksie te bring, want dit is meestal ondergrondse myne.
Met die huidige lae pryse en die volgehoue kommer oor langtermyn-kragverskaffing in die land, betwyfel Muller dit dus dat beleggers of maatskappye aanloklike aandeelhoueropbrengs in nuwe bates sien.
Uitbreidings kan miskien plaasvind by bestaande myne, maar vars nuwe projekte is hoogs onwaarskynlik.
Oor of verwagte internasionale rentekoersdalings - soos dié in Amerika en Europa - die bedryf positief kan raak, sê Muller die laer rentekoerse sal tot verbeterde sentiment lei wat vraag kan aanspoor en prysstygings kan ondersteun.
Op 'n vraag oor wat tans nog tot arbeidsonstabiliteit in die groep lei, het Samuel gesê by die Bafokeng Rasimone-platinummyn (BRPM), wat bygevoeg is toe Royal Bafokeng Platinum deur Implats oorgeneem is, is daar 'n geslote ooreenkoms met die mynwerkersvakbond NUM.
Dit beteken slegs die NUM word as vakbond erken, terwyl daar ander vakbonde en groeperings is, soos 'n wegbreekfaksie van die NUM, wat ook daar erkenning wil hê. Volgens Samuel praat Implats tans met die NUM oor die situasie. Daar was die afgelope twee jaar verskeie van dié soort situasies. "Ons probeer die terrein navigeer," sê sy.
Moses Motlhageng, hoof van Impala Rustenburg, het gesê hulle het verskeie forums geskep waar werkers oor hul probleme kan praat.
Deel van die onstabiliteit gaan ook oor Implats se oornametransaksie van RBPlat en hoe werkerbelange en hul aandeelhouding in die werknemertrust beskerm word, het Muller laat blyk.
Volgens Samuel was daar in Desember 'n onbeskermde staking by BRPM, maar "ons kan die konflik binne die vakbond en ander vakbonde oplos en ons is op koers".





















