Die ANC-regering was sedert 1994 die grootste vyand van die werkersklas. Die ANC het onder meer die land se ekonomie, infrastruktuur en energie-opwekkingsvermoë verwoes en só werksgeleenthede vernietig. Dit is dan 'n paradoks dat die vakbondfederasie Cosatu, en veral sy grootste filiaal, die National Union of Mineworkers (NUM), die ANC in die algemene verkiesing gesteun het met die doel om die werkersklas te beskerm.

Die ANC se swak verkiesingsvertoning was 'n groot gesprekspunt in NUM-geledere tydens verskeie salarisonderhandelinge ná afloop van die verkiesing, en die verkiesingsuitslag is deur hulle as "pynlik" beskryf.
Tydens die Assmang-onderhandelinge in die Noord-Kaap het die werkgewer sy relatief lae salarisverhogingsaanbod gemotiveer as 'n uitvloeisel van sy uitdagings met Transnet, elektrisiteitskoste en watervoorsiening. Die NUM, met wie Solidariteit ten spyte van ons ideologiese verskille gemaklik saam in 'n alliansie by Assmang onderhandel, kon nie die kloutjie by die oor kry dat die ANC die werkgewer se probleme veroorsaak het nie. Net so blameer die werkgewer in die Samancor Chrome-loononderhandelinge vir Eskom en trae ekonomiese groei vir sy finansiële uitdagings, en die NUM en die populistiese National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) kon weer eens nie insien wie die probleem veroorsaak nie.
Numsa het voor die verkiesing kiesers juis aangeraai om nie vir "kapitalistiese" en pro-privatiseringpartye te stem nie en eerder vir partye te stem wat hulle beywer om die werkersklas in beheer van die ekonomie te plaas. Numsa, wat homself as 'n Marxisties-Leninistiese vakbond beskryf, het in 2019 onder die vaandel van die Socialist Revolutionary Workers Party (SRWP) aan die algemene verkiesing deelgeneem. Numsa, wat toe 339 000 vakbondlede gehad het, kon slegs 24 439 stemme in die verkiesing kry. Met ander woorde, selfs sy lede glo nie dat Marxisme-Leninisme 'n beter lewe kan skep nie.
Die mynwerkersvakbond Amcu wou ook vanjaar onder die vaandel van die Labour Party of South Africa (Labour) aan die verkiesing deelneem met die doel om neoliberale beleide teen te staan, maar hy kon nie genoeg handtekeninge kry om aan die verkiesing deel te neem nie.
Die NUM verkies dat die ANC eerder as 'n minderheidsregering regeer.
Die Numsa- en Amcu-gevallestudie en die verkiesingsuitslae is 'n boodskap aan populistiese vakbondleiers dat hulle dalk die vakbond van keuse by die werkplek kan wees, maar hul politieke voorkeur is nie die werkers se voorkeur nie. Só begin die werklikheidsbesef onder werkers deurdring dat linkse ideologie nie opgewasse is, of 'n veiligheidsnet bied teen swak ekonomiese groei en 'n maatskappy wat werkers as gevolg daarvan aflê nie.
Cosatu en die NUM het hulle ook sterk uitgespreek teen die insluiting van die DA in die regering van nasionale eenheid (RNE). Die NUM, wat homself as 'n revolusionêre vakbond beskryf, verkies dat die ANC eerder as 'n minderheidsregering regeer sodat daar op die revolusionêre agenda voortgebou kan word. Dit sink dan weer eens nie in dat die ANC én die NUM se ondersteuningsbasisse midde hul revolusionêre agendas gekrimp het nie.
Solank die RNE gaan staande bly, gaan Cosatu se politieke invloed afneem.
Die feit dat die markte en die rand positief reageer op die RNE, onder meer danksy die insluiting van pro-markekonomie-partye soos die DA en VF Plus en beter regering wat gaan volg, gaan ook beteken dat plaaslike en internasionale beleggersvertroue gaan verhoog, wat weer 'n platform bied om werk te skep en ongelykheid te laat krimp. Daarom kan 'n mens verstaan dat die ANC ten spyte van kritiek uit die geledere van sy vakbondvennote voortgegaan het met die vorming van 'n inklusiewe RNE, en só stuur die ANC 'n boodskap aan sy vakbondkamerade dat hy (die ANC) bloot kennis neem van hul sienings, maar eerder nou nugter politieke eerder as ideologiese besluite neem. Die gevolg sal wees dat solank die RNE gaan staande bly, Cosatu se politieke invloed gaan afneem soos wat die ANC se uitvoerende gesag afgeneem het.
Die populistiese vakbonde sal hul ideologiese vyande in die RNE fyn dophou en deurlopend kritiseer en die toename in konflik kan verminder word as strydende RNE-partye met volwassenheid hul verskille agter die skerms en nie in die openbaar probeer oplos nie.
• Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.


















