Die ysterertsgroep Kumba het 'n tussentydse dividend van R16,60 per aandeel aan aandeelhouers verklaar.
En dit kon selfs 'n ruimer dividend gewees het, maar Kumba het effe teruggehou, het Mpumi Zikalala, uitvoerende hoof, Dinsdag gesê.
Die dividend is danksy goeie inkomste by Kumba oor die halfjaar tot einde Junie vanweë groter produksievolumes ondanks laer ysterertspryse, wat uitgeloop het op netto kontant van R16,1 miljard aan die einde van die halfjaar tot 30 Junie.
Die halfjaardividend is wel 12% laer as 'n jaar gelede se R18,77 per aandeel.
Transnet se vertoning op die Sishen-Saldanha-ysterertsspoorlyn het gestabiliseer, wat volgens Zikalala gehelp het dat Kumba se verkope met 3% kon groei.
Maar daar is volgens haar steeds baie werk om die prestasie op die ertsspoorlyn te verbeter.
Daar was wel ontsporings op die lyn in die tweede kwartaal. Tog het ertsvolumes wat na Saldanha vervoer kon word met 4% gestyg, die benutting van die spoor is van 79% na 83% verbeter, en die ystererts wat nou by die hawe by Saldanha opgegaar word, het verdubbel tot 1 miljoen ton teenoor Desember se 500 000 ton.
Kumba kon 'n gemiddelde uitvoerprys van $91 per ton behaal, wat 8% beter is as die maatstafprys.

Nuwe tegnologie verleng mynleeftyd
Zikalala is steeds baie opgewonde oor die projek wat Kumba aangepak het om sy tegnologie om gemynde erts te verwerk, te verbeter. Die nuwe tegnologie genaamd ultrahoëdigtheid-skeidingstegnologie behels dat erts meer doeltreffend verwerk word sodat die ysterinhoud hoër is. Dit beteken Kumba kan groter volumes van sy erts as premium produkte verkoop. Dit haal beter pryse op die internasionale markte.
Die projek word in fases aangepak en dit sal teen 2028 teen volle kapasiteit werk.
Dit sal sowel die Sishen-myn as die Kolomela-myn in die Noord-Kaap opgradeer en die mynleeftyd verleng.
Einde verlede jaar is nog gereken dat sy myne 'n leeftyd tot 2038 het, maar die amptelike mynleeftyd is sedertdien reeds tot 2040 verleng, met 'n moontlikheid om dit tot 2044 te kan verleng.
Die projek beteken ook daar is veel minder afval-erts. Dit verlaag Kumba se koste om afval-erts te verwerk, en sorg vir die meer optimale gebruik van die beskikbare logistieke kapasiteit.
Die nuwe tegnologie sal die volume van Kumba se premium produk verdriedubbel, sê Zikalala.
Danksy die nuwe tegnologie sal Kumba meer van sy ystererts aan die markte buite China kan verkoop wat beter pryse betaal vir die hoër gehalte ystererts, sê Timo Smit, hoof van bemarking en seevaartlogistiek by Kumba.

Kumba se winssyfers
Kumba het in die halfjaar 'n verdienste voor rente, belasting, depresiasie en afskrywings van R16 miljard behaal en 'n marge van 46%. Kumba kon R7,2 miljard aan aandeelhouers uitkeer, waarvan R1,9 miljard aan sy bemagtigingsvennote gaan en R5,3 miljard as tussentydse kontantdividend aan aandeelhouers uitgekeer word.
Kumba verwag steeds hy sal vir die volle boekjaar tussen 35 miljoen en 37 miljoen ton ystererts produseer, waarvan 26 miljoen ton van Sishen kan kom en sowat 10 miljoen ton van Kolomela.
Sy kapitaalbesteding vir die volle boekjaar word op tussen R9,5 miljard en R10,5 miljard geraam.
Die totale tonnemaat wat gemyn is in die halfjaar was 9% laer as 'n jaar gelede op 99,8 miljoen ton. Die totale verkope van ystererts het wel met 3% gegroei tot 18,7 miljoen ton.
Private spelers op spoorlyn
Volgens Zikakala sal Kumba voortgaan om nou saam te werk met Transnet, die regering, die nasionale logistiekekrisiskomitee en ander om die ertsspoorlyn se prestasie te verbeter.
Kumba het 'n onafhanklike tegniese raming laat doen oor presies wat fout is en wat herstel moet word in die hele logistieke stelsel van die myne tot by die hawe. Verlede jaar het Kumba Transnet gehelp om sekere instandhoudingswerk te versnel, en dié vennootskap sal voortduur.
Daar is goed wat herstel moet word nog voordat private rolspelers as operateurs op die ertsspoorlyn betrokke raak.
Kumba is bemoedig dat meer as 50 reaksies ontlok is deur die regering se aanvanklike versoek om inligting, 'n vooraf-fase in 'n tenderproses waar potensiële deelnemers se aptyt en belangstelling getoets word.
Kumba wag nou vir die departement van vervoer om die reaksies te evalueer, en daarna 'n versoek om voorstelle uit te stuur.
Die verwagting is dat dit teen die vierde kwartaal uitgestuur sal word.

Chinese mark en tariewe
Kumba se mikpunt is om sowat 50% van sy uitvoererts aan China te verkoop en die res aan ander markte.
Volgens Smit het China oor die afgelope halfjaar rekordvolumes staal uitgevoer. Dit het met 21% tot 125 miljoen ton per jaar gestyg in die eerste vyf maande van die jaar vergeleke met 'n jaar gelede.
Dit plaas druk op die ander markte, met Europese staalproduksie wat met 4% gedaal het en Japanse staalproduksie wat 5% laer is.
Kumba se ysterertsverkope aan China het dus tot 58% van die totaal gegroei en sy verkope aan ander markte het tot 42% van die totaal gedaal.
Pres. Donald Trump van Amerika se ooreenkomste vir laer tariewe aan lande soos Japan, Indonesië en aan die Europese Unie, neem volgens Smit van die onsekerheid weg en is positiewe stappe.
Staal val egter buite dié handelsooreenkomste, want Amerika hef 'n spesiale tarief van 50% op staal. Dit is baie moeilik vir enigiemand om staal na Amerika uit te voer. Amerika het sowat 20 miljoen ton staal per jaar ingevoer, sê Smit.
Aandeelprys en markwaarde
Kumba se aandeelprys is veel laer aan die einde van die halfjaar tot einde Junie as 'n jaar gelede. Dit het op R285 gestaan teenoor 'n jaar gelede se R440. Gevolglik het sy markwaarde van R141,7 miljard tot R91,7 miljard gekrimp.












