E-taxi's en kosaflewering gaan oënskynlik van krag tot krag in Suid-Afrika.
In die vierde kwartaal van verlede jaar was daar 1,4 miljoen aktiewe profiele. Dis mense wat Uber minstens een keer per maand gebruik.
Gaopalelwe Laka, 'n Uber-woordvoerder, het by navraag aan Netwerk24 gesê in dieselfde tydperk was daar 40 000 bestuurders.
Uber het nie uitgewei oor hoeveel ritte maandeliks plaasvind nie.
News24 het vandeesweek berig in dieselfde tydperk het 'n verdere 12 000 mense van Uber Eats gebruik gemaak. Uber het nie bekend gemaak hoeveel mense aktief is op die platform of hoeveel etes afgelewer is nie.

Die nuutste statistieke toon daar is 52 000 mense wat vir Uber en Uber Eats werk.
Dit is 30 000 meer as die getal wat Kagiso Khaole, hoofbestuurder van Uber in Afrika suid van die Sahara, in 2022 gegee het. Meer as 2,1 miljoen Suid-Afrikaners het toe maandeliks van Uber en Uber Eats gesamentlik gebruik gemaak.
Hoe lyk die kompetisie?
Hoewel Bolt se jongste statistieke nie bekend is nie, het hy in 2023 gesê dat hy 40 000 bestuurders gehad het. Dit is nie duidelik of daardie getal sy Bolt Food-bestuurders ingesluit het nie. Bolt Food bestaan nie meer in Suid-Afrika nie.
Mr D het volgens sy webwerf 15 000 bestuurders op die platform, wat 3 000 meer as Uber Eats is. Meer as 2 miljoen Suid-Afrikaners bestel kos of kruideniersware deur Mr D.
Voertuigbestuurders is vryskutwerkers en kan dus vir meer as een aflewerings- of taxi-diens werk. Dit maak dit moeilik om te bepaal hoeveel voertuigbestuurders landwyd vir dié dienste werk.
• Volgens Uber se 2023-verslag oor sy ekonomiese impak dra die maatskappy R17 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie by.
- stefani.terblanche@media24.com















