Amerikaanse banke word nou in staat gestel om kriptogeldeenhede te hou, sonder veel regulasies, buiten dat hulle onder meer steeds die nodige noulettendheid oor risiko toepas, het die Amerikaanse valutabeheerder bevestig.
Dit kom ná die Withuis se eerste kriptoberaad, wat Vrydagaand deur pres. Donald Trump gelei is.
Verskeie leiers en groot name in die bedryf was teenwoordig om te hoor hoe Trump sy steun vir die bedryf beklemtoon en om uitvoerende beamptes se idees vir regulasie en wetgewing te hoor.
"Van vandag af sal Amerika die reël volg wat elkeen wat bitcoin besit, goed weet: Moet nooit jou bitcoin verkoop nie," het Trump by die beraad gesê, berig Reuters.
"Wie weet, maar tot dusver was dit reg, en wel, kom ons hou dit só."
Trump het Donderdag 'n uitvoerende bevel onderteken om 'n strategiese bitcoin-reserwe en 'n bykomende voorraad van ander digitale bates vir die land op te bou.
LEES OOK | Trump skep bitcoin-reserwe - maar mark reageer met teleurstelling
Biden se ‘antikripto-houding'
Sergey Nazarov, medestigter van Chainlink, sê aan Time die negatiewe houding van die Amerikaanse regering teenoor die kripto-bedryf is besig om tot 'n einde te kom.
Oudpres. Joe Biden se administrasie het volgens Trump 'n anti-kripto-houding gehad.
Dié administrasie het wette geskep in 'n poging om kriptomaatskappye, wat volgens hom sekuriteitswette oortree, te onderdruk en beleggers te beskerm teen die massiewe swendelary en bedrog wat algemeen in die kriptowêreld voorkom.
Dit het gelei tot regsgedinge teen groot en klein maatskappye.
Nadat Trump verkies is, het hy verskeie kabinetslede met noue bande met die bedryf aangestel en regsgedinge laat vaar.
Deel van gesprek
Les Borsai, medestigter van Wave Digital Assets, 'n kripto-beleggingsadviseur, sê leiers in die bedryf voel vir die eerste keer asof hulle deel van 'n samewerkende bespreking vorm.
Nazarov sê hy het nie so baie senior amptenare by die beraad verwag nie.
"Almal wat van die bedryf se kant af gekom het, kon praat en hul mening lug. En al die amptenare, dink ek, was baie oop en ontvanklik."
David Sacks, die Withuis se hoof van kunsmatige intelligensie (KI) en kriptogeldeenhede, Howard Lutnick, minister van handel, en Scott Bessent, minister van finansies, was van die senior amptenare wat by die Withuis teenwoordig was.
Trump het op die beraad die kongres gevra om 'n raamwerk vir digitale bates voor die Augustus-reses deur te voer.
"Dit is 'n geweldige geleentheid vir ekonomiese groei en innovasie in ons finansiële sektor. Ons voel op 'n manier soos pioniers," het Trump gesê, berig Amerika se nasionale openbare radiostasie (NPR).
Botsende belange
Van die ander kripto-ringkoppe wat by die beraad was, is Brian Armstrong van Coinbase, Michael Saylor van MicroStrategy, Cameron en Tyler Winklevoss, miljardêrs en medestigters van Gemini, Google se KI-app, en Zach Witkoff, medestigter van Trump se eie kripto-maatskappy, World Liberty Financial.
Hulle het gesamentlik meer as $11 miljoen aan Trump se inwydingskomitee gegee.
Robert Weissman, medepresident van die verbruikerswaghond Public Citizen, sê toe kripto-maatskappye meer as $100 miljoen in die verkiesing vir Trump bestee het, het hulle 'n nuwe reëlboek geskep vir die koop van politieke mag in Amerika.
Avik Roy, medestigter en voorsitter van die dinkskrum Foundation for Research on Equal Opportunity, sê hy kan homself indink dat dit vir Trump moeilik is om te weet wie van die kripto-ringkoppe is besig om bloot steun te werf en wie werklik die publiek se belange op die hart dra.
Trump se meme-munt
Trump is self in die kripto-wêreld betrokke.
World Liberty Financial is in September deur Trump en sy familie gestig en het sy eie "memecoin" gemunt.

Dit het aanvanklik miljoene dollars in handelsfooie ingesamel, maar dit is nou slegs $12 per eenheid werd, teenoor die hoogtepunt van $75.
Volgens Trump se assistente het hy die beheer van sy sakeondernemings oorhandig, wat deur eksterne prokureurs hersien word.
Kriptomark reageer sleg op Trump se bevel
Die nuus dat die Amerikaanse regering geen bitcoin of ander kriptogeldeenhede vir die strategiese bitcoin-reserwe gaan koop nie, maar eerder kriptogeld daarin gaan deponeer waarop daar reeds in strafregtelike en siviele sake beslag gelê is - asook dat die regering boonop geen plan het om sy bitcoin-voorraad aktief te verhandel nie - het die bedryf teleurgestel, berig CNN.
Die waarde van bitcoin het Donderdag in 'n stadium met tot 5,7% geval, en dié van ander kriptogeldeenhede met sowat 3%.
- stefani.terblanche@media24.com















