Apple-aanhangers sal 'n rukkie langer moet wag om die maatskappy se langverwagte nuwe kunsmatige intelligensie (KI)-gedrewe produkte en dienste, wat in sy iOS-bedryfstelsel ingewerk word, te gebruik.
Twee eerstehandse bronne het aan Bloomberg bevestig die tegnologiereus beplan nou om Apple Intelligence (AI) teen Oktober in werking te stel as deel van 'n meer omvattende proses van sagteware-bywerkings.
Dit gee Apple glo ook meer tyd om enige haakplekke te identifiseer en reg te stel.
Gevolglik sal AI eers 'n paar weke ná die aanvanklike uitreiking van die iOS 18- en iPadOS 18-bedryfstelsels, wat in September plaasvind, sy verskyning maak.
Intussen het Apple Maandagaand (SA tyd) reeds AI aan sagtewareontwikkelaars beskikbaar gestel sodat hulle dit kan toets, berig CNBC.
Apple se benadering word as buitengewoon beskou omdat hy nie gewoonlik "voorskou-toegang" tot bywerkings bied totdat sy nuwe sagteware nie ook aan die publiek beskikbaar gestel is nie.
Baie is op die spel vir Apple, wat nie gewoonlik tegnologie wat nog aan die ontwikkel is, soos KI, in sy produkte integreer nie.
Daarom, om te verseker die uitreiking van AI vir verbruikers verloop voorspoedig, benodig Apple die ondersteuning van sagtewareontwikkelaars om probleme te identifiseer en die produkte op 'n groter skaal te toets.
Voorbehoude oor die bestendigheid van AI se produkte het juis daartoe gelei dat hy dit afsonderlik van iOS en iPadOS uitreik.
Apple het verlede maand op sy jaarlikse ontwikkelaarskonferensie verskeie maniere onthul hoe hy KI gaan aanwend met sy nuwe produkte.
Apple het reeds die huidige iPhone 15 Pro se toepaslikheid om AI te gebruik, beperk omdat hy hoop dit kan dien as aansporing vir verbruikers om die nuwe iPhone 16 aan te skaf. - Bloomberg, CNBC
























