Tegnuus

Cell C sal dié verwittig wie se data deur kuberskelms gesteel is

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Cell C se hoofkantoor in Johannesburg. Foto: Argief
Cell C se hoofkantoor in Johannesburg. Foto: Argief

Cell C ondersoek nog die kuberaanval wat daartoe gelei het dat van sy kliënte se inligting einde Desember op die donkerweb gepubliseer is.

Op grond van die ondersoek blyk dit tot dusver dat data van 'n beperkte aantal kliënte deur die kuberskelms in die hande gekry is, sê Cell C. Hy het nie die vraag oor watter soort data dit is, beantwoord nie.

Enigiemand wie se inligting geraak is, sal regstreeks ingelig word in ooreenstemming met die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, sê die maatskappy.

Cell C het in Desember van die publikasie van die inligting bewus geword en die Inligtingsreguleerder ingelig.

'n Mediaverklaring hieroor is op 30 Desember uitgereik.

Inligting wat van personeellede gesteel is, is gebruik om ongemagtig toegang tot die kliënte se inligting te kry.

Volgens Cell C het die kubergroep RansomHouse erken hy het die data gesteel.

"Ons forensiese kundiges werk dringend daaraan om meer inligting te kry."

Cell C het sy kliënte aangemoedig om hul wagwoord te verander en op hul hoede te wees vir bedrieërs.

TechCentral.co.za berig volgens die kuberveiligheidsgroep TFI, wat die voorval ondersoek het, het dit gevolg op uitvissingsaanvalle in 2023 om vertroulike inligting van personeellede van Cell C te kry.

Dit het RansomHouse in staat gestel om Cell C se stelsels te infiltreer en het tot die eerste afpersingsvoorval in April 2024 gelei.

TFI sê Cell C het dit geïgnoreer of besluit om nie met die afpersers te skakel nie. Die inligting is toe op 28 Desember op die donkerweb gepubliseer.

Dit sluit glo ook inligting in van kliënte wat veseldienste by hul huis gebruik.

- nellie.brand@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM