China het 'n enorme belegging in tegnologie gemaak om die vooruitgang in kunsmatige intelligensie (KI) en kwantumtegnologie te versnel.
Die regering het in die afgelope week op sy volkskongres 'n staatsfonds vir beginnerondernemings van 1 000 miljard yuan, meer as R2 500 miljard, bekend gemaak.
Zheng Shanjie, hoof van China se nasionale ontwikkeling-en-hervormingskommissie, sê die nasionale waagkapitaalfonds sal 'n langtermynbeleggingsbenadering volg en groter risiko aanvaar, berig Reuters.
Wu Qing, voorsitter van die Chinese reguleringskommissie vir effekte, het op 'n inligtingsessie gesê tegnologie soos die nuwe KI-model DeepSeek sal 'n prominente rol speel en het 'n herwaardasie van Chinese bates aangedryf.
Tegnologiereuse is hoogs beïndruk met DeepSeek, wat in Januarie uitgereik is, omdat dit goedkoper en vinniger as ander KI-modelle ontwikkel is. Dit het ook die idee uitgedaag dat Amerika die beste ontwikkelaar van KI is.
LEES OOK | Wat jy moet weet oor DeepSeek, die nuwe KI wat opslae maak

Streeksmededinging
Verskeie streke in China ding aktief mee om die land se volgende KI-sentrum te word. Hulle stel inisiatiewe voor om KI-onderrig te verbeter, apps uit te brei en die impak op die samelewing te bestuur.
Streke soos Beijing en Shenzhen in Guangdong het self ook fondse van 10 miljard yuan gevestig om KI en robotika-innovasie te bevorder. Maandag het Guangdong sy subsidieplan bekend gemaak. Wuhan, hoofstad van die provinsie Hubei, het ook 'n plan aangekondig om KI-produkte vir gesondheidsorg, onderwys en die regte te ontwikkel.
Struikelblokke vir kleiner maatskappye
Die regering moet vermy om "verborge hindernisse" vir private maatskappye op te rig, veral wat nuwe tegnologie en sakemodelle betref, het Zhou Tongyu, visepresident van die Shanghaise federasie van handel en nywerheid, op die konferensie gesê.
Byna 80% van klein en mediumgrootte tegnologiemaatskappye sukkel om banklenings te kry weens 'n gebrek aan fisieke bates om as waarborg aan te bied, sê sy. 'n Oplossing is om bedryfsdata as 'n basis vir sekuriteitskrediet te aanvaar.
Verdere uitdagings sluit in dat ofskoon die regering kleiner tot mediumgrootte gedesentraliseerde ontwikkeling idealiseer, hy steeds voorkeur gee aan grootskaalse gesentraliseerde ontwikkeling.
- stefani.terblanche@media24.com





















