Tegnuus

CrowdStrike-fiasko: Als wat nou reeds bekend is

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die sogenaamde “blue screen of death” was orals te siene verlede Vrydag weens die CrowdStrike-fiasko.  Foto: Getty
Die sogenaamde “blue screen of death” was orals te siene verlede Vrydag weens die CrowdStrike-fiasko. Foto: Getty

Terwyl die wêreld weer asem skep nadat talle bedrywe verlede Vrydag moes skarrel om kop bo water te hou weens moontlik die mees wydverspreide IT-onderbreking tot op hede, wonder baie mense steeds: Wat op dees aarde het gebeur - en wie se kop moet rol?

Menige Suid-Afrikaner het eerstehands ervaar hoe 'n "eenvoudige" opdatering van antivirus-sagteware talle bedrywe kon verlam.

Van hulle kon nie betaal vir hul FlySafair-vliegkaartjies nie, ander kon nie uit hul Capitec-rekeninge kontant onttrek nie, en Stanlib en Ninety One het gesukkel om vir pensioenfondse en beleggings te verhandel.

Ontwikkelde ekonomieë se probleme was aansienlik meer omvattend.

Vier vooraanstaande Amerikaanse lugdienste moes hul vlugte kanselleer, die VSA se 911-nooddiens het miljoene mense se veiligheid en gesondheid in die weegskaal geplaas, hospitale se databasisse was vanlyn, Australiese treindienste se sinjale het nie gewerk nie, en die Britse nuuskanaal Sky News kon nie eens regstreeks uitsaai nie.

CrowdStrike, 'n kuberveiligheidsmaatskappy wat in Texas in die VSA gesetel is, is spoedig as die sondaar uitgewys.

Hoe het een firma die wêreld tot stilstand gebring en wat is die pad vorentoe?

Netwerk24 probeer 'n paar kernvrae beantwoord.

Wat presies het Vrydagoggend (SA tyd) met rekenaars oor die wêreld heen gebeur?

Mense met rekenaars wat van Microsoft se Windows-bedryfstelsel gebruik maak, het dit aangeskakel en is amper dadelik met die sogenaamde "blue screen of death" begroet.

Dit beteken Windows kon nie ordentlik laai nie en die rekenaar was in 'n eindelose sirkel van weer aanskakel vasgevang, of het op die "Recovery"-skerm gaan vashaak.

Gelukkig is die probleem betreklik spoedig geïdentifiseer.

CrowdStrike het 'n aangepaste weergawe van sy Falcon Sensor-sagteware outomaties op Windows-gedrewe toestelle uitgereik.

Dié sagteware is veral op maatskappye gerig, want dit verhoed dat kuberkrakers indringerware op daardie stelsels kan plaas.

Indringerware word vir verskeie misdadige doeleindes gebruik, van onwettige toegang tot inligting tot die ontwrigting van maatskappye se verwante dienste aan kliënte.

CrowdStrike se opgedateerde weergawe van sy Falcon Sensor is nie ordentlik getoets nie en het dus rekenaars se bedryfstelsels laat fouteer.

Hoeveel toestelle is geraak?

Volgens CNN is bykans 8,5 miljoen rekenaars wêreldwyd deur die foutiewe opdatering beïnvloed.

Dit klink nie juis na baie nie . . .

Inderdaad verteenwoordig daardie getal slegs 1% van alle Windows-gedrewe toestelle oor die wêreld heen, sê Microsoft.

Die probleem is dat al daardie toestelle verbonde is aan maatskappye, spesifiek omdat die Falcon Sensor-sagteware vir korporatiewe gebruik ontwerp is.

Is Microsoft en CrowdStrike verwant aan mekaar?

Nee, dis is twee afsonderlike maatskappye.

Maar die sagteware van CrowdStrike, wat in 2011 gestig is en voor Vrydag se chaos met 'n markwaarde van $83 miljard gespog het, word al jare lank deur Microsoft aangewend om IT-bedryfstelsels in werkplekke te beveilig.

Is die probleem al opgelos?

Half en half.

CrowdStrike het Maandagoggend in 'n plasing op sy X-rekening gesê 'n "aansienlike aantal toestelle wat voorheen geraak is, is weer aanlyn".

Dit gesê, die aanvanklike doepa het beteken elke maatskappy se eie IT-afdeling moes met die hand op elke toestel die opdaterings verwyder en na die vorige weergawe herstel.

Nodeloos om te sê, dit is 'n ondoeltreffende en tydsame manier om die rekenaars weer aan die gang te kry.

CrowdStrike het in dieselfde plasing genoem hy is besig om 'n "tegniek" te toets wat dié proses spoediger laat verloop.

Clare O'Neil, Australië se minister van binnelandse sake, het Sondag gesê Microsoft gaan glo ook binnekort 'n opdatering uitreik wat die probleem outomaties oplos, berig The Guardian.

Is daar al iemand by CrowdStrike in die pad gesteek vir dié duur blaps?

Amptelik, nee.

Nie-amptelik het Vincent Flibustier, 'n satiriese skrywer wat bykans 'n dekade lank al kursusse aanbied om mense oor fopnuus op te lei, sosiale media vir 'n paar uur op hol gehad omdat hy "verantwoordelikheid" vir die probleem aanvaar het.

Gaan CrowdStrike skadevergoeding betaal?

Dis 'n goeie maar moeilike vraag om te beantwoord.

CNN berig dié bedrag kan gesamentlik miljarde beloop, maar dis eintlik onmoontlik om akkuraat te bepaal.

CrowdStrike gaan heel waarskynlik hof toe gesleep word op 'n individuele grondslag deur verskeie maatskappye.

Business Insider noem ook die firma se bepalings en voorwaardes beperk sy aanspreeklikheid tot die fooie wat maatskappye betaal het.

Tensy maatskappye 'n ander ooreenkoms met CrowdStrike aangegaan het, gaan skadevergoeding waarskynlik nie aansienlik wees nie.

Bronne: CNN, The Guardianen Business Insider.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM