Tegnuus

Dankie, Donald: Skraal kans vir digitale belasting op tegnoreuse

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Groot kanonne soos Google en Amazon sal nie in die onmiddellike toekoms in SA aan digitale diensbelasting onderhewig wees nie.  Foto: Getty Images
Groot kanonne soos Google en Amazon sal nie in die onmiddellike toekoms in SA aan digitale diensbelasting onderhewig wees nie. Foto: Getty Images

Te midde van die onsekerheid oor hoe sy ekonomiese beleid talle dele van die plaaslike ekonomie wesenlik kan benadeel, is daar wel een beleid waarvoor 'n paar tegnologiereuse met bedrywighede in Suid-Afrika pres. Donald Trump kan bedank.

PwC reken vername spelers in die tegnologiebedryf soos MTN, Naspers, Amazon, Google en Huawei sal nie onderhewig wees aan 'n sogenaamde digitale diensbelasting (DST) ná aanstaande week se begrotingsrede nie, juis weens politieke druk uit die VSA.

DST verwys na die belasting wat gehef word op die inkomste wat multinasionale maatskappye genereer vanuit bedrywighede soos aanlyn advertensies, digitale markpleine en dataverwerking.

Dit word reeds 'n geruime tyd in lande soos Brittanje, Frankryk, Spanje, Italië, Indië en selfs Kenia toegepas en bied aan 'n tesourie 'n bykomende bron van belastinginkomste.

Boonop word daardie belasting volgens 'n maatskappy se inkomste, eerder as sy winste, gehef.

Weerwraak

Maar, ondanks die feit dat Suid-Afrika dringend nuwe inkomstestrome benodig om sy toenemende skuldlas te finansier, sal Enoch Godongwana, finansminister, 'n dapper man wees om DST aan te kondig, veral gegewe hoe hewig die Trump-bedeling daarteen gekant is.

Suid-Afrika se swak diplomatieke betrekkinge tans met die VSA beteken die implementering van DST is heeltemal 'n te groot risiko.

"Die tesourie het die afgelope paar jaar nog slegs die kat uit die boom gekyk," sê Kyle Mandy, PwC se hoof van belastingbeleid in Suid-Afrika.

"Dit is onwaarskynlik dat die tesourie DST in vanjaar se begroting sal aankondig. Die vernaamste rede is dat dit die VSA verder opstandig sal maak, wat ook die moontlikheid verhoog dat weerwraak met verdere ekonomiese beleide teen ons geneem kan word.

"Ek glo al wat ons moet verwag, is dat die minister sê die tesourie sal DST in die toekoms oorweeg."

DST-herlewing

Gesprekke oor DST het eintlik net weer begin opvlam omdat die eerste fase van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) se sogenaamde tweepilaar-stelsel 'n "stilgeboorte" gehad het.

Die eerste fase - of "pilaar" - het die hertoewysing van belastingregte behels, wat beteken multinasionale maatskappye sou belasting betaal in die lande waarin hulle inkomste genereer, eerder as net in die land waar hul hoofkantoor gesetel is.

Maatskappye wat meer as €20 miljard se inkomste genereer en met 'n winsmarge van meer as 10% sou daaraan onderhewig wees.

25% van enige van daardie maatskappye se wins-oorskotte bo die kerf van 10% sou ook belasbaar wees in die lande waarin hulle bedrywighede het.

Dit sou ook DST laat wegval, maar dit is nie meer die geval nie.

"Fase een is dood in die water. Die bekragtiging daarvan het staatgemaak op die VSA se deelname en die verwerping daarvan was een van Donald Trump se eerste uitvoerende bevele," sê Mandy.

"Ons het eintlik selfs voor sy ondertekening geweet die eerste ‘pilaar' sal nie in werking tree nie."

Tweede pilaar

Godongwana en kie kan wel in die toekoms waarskynlik staatmaak op die implementering van die tweede "pilaar".

Dit behels die heffing van 'n wêreldwye minimum korporatiewe belastingkoers van 15% op multinasionale maatskappye wat meer as €750 miljoen (sowat R14 miljard) genereer.

Die stelsel is ook bedoel om maatskappye te verhoed om sy winste te skuif na lande met lae belastingkoerse en laat ook lande toe om bykomende belasting te hef as een van hul eweknieë waarin die maatskappy verhandel se belastingkoers minder as 15% is.

Suid-Afrika het reeds daardie ooreenkoms onderteken en die tweede "pilaar" benodig nie die VSA se deelname nie.

"Trump het ook sy teenkanting daarteen uitgespreek, maar hy het nie veel beheer daaroor nie," sê Mandy.

"Hy het wel genoem die VSA sal lande teiken wat gebruik maak van die bykomende belastingreël. Suid-Afrika pas dit egter nie toe nie, so daar is nie enige risiko dat ons in die spervuur gaan wees nie."

- heinz.schenk@24.com

* Netwerk24 is deel van Media24, 'n filiaal van Naspers.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM