Die digitalemigrasie-projek wat onder meer die afskakeling van analoogtelevisie en die registrasie van dekodeerders behels, is weer uitgestel.
Die gesloer met die projek het belastingbetalers reeds R1,23 miljard uit die sak gejaag weens die gelyktydige transmissie van analoog- en digitale seine.
Digitale migrasie is die proses om van analoog- na digitale uitsaaidienste vir televisie en radio oor te skakel.
Die proses is duur en kan nie onbepaald volgehou word nie.
Solly Malatsi, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, het verlede week in 'n verklaring gesê goedkeuring is van die kabinet verkry om die sperdatum vir die afskakeling van analoogtelevisie van 31 Desember vanjaar tot 31 Maart aanstaande jaar te verleng. Dié verlenging sal verseker dat soveel as moontlik arm huishoudings toegang tot uitsaaidienste het.
Uitsaaiers en die relevante rolspelers is verlede Donderdag op 'n vergadering oor die besluit ingelig. Hul verbintenis daartoe om te verseker dat arm huishoudings migreer, is volgens die departement kritiek vir die sukses van die projek.
Die regering sal voortgaan om arm huishoudings te subsidieer.
Die uitstel van die sperdatum vir die afskakeling van analoogtelevisie kom te midde van aansienlike vertragings sedert die aanvang van die projek.
In 'n poging om verdere uitstel af te weer, is die direkteur-generaal van die departement opdrag gegee om gevolgebestuur toe te pas vir amptenare wat versuim om hul plig te doen. Sowat 467 000 arm huishoudings wat geregistreer is om dekodeerders van die regering te ontvang, het dit nog nie ontvang nie.
"Ons kan nie ontken dat die projek te lank sloer en dit die regering R1,23 miljard kos vir die gelyktydige transmissie van analoog- en digitale seine nie. Die proses is duur en kan nie onbepaald volgehou word nie, nog meer só in 'n tyd waarin die fiskus onder uiterste druk is," lui die verklaring.
Die onmiddellike fokus van die departement van nou tot einde Maart is om die lewering en installasie van dekodeerders aan arm huishoudings as deel van die projek te versnel om te verseker dat soveel as moontlik huishoudings gereed is vir die afskakeling.
"Uitsaaiers is sleutelrolspelers hierin en sal instrumenteel wees daarin om bewusmaking te skep om te verseker dat die res van die huishoudings wat seine gratis ontvang, toegang het tot die noodsaaklike toestelle om die digitale uitsaaiseine te ontvang," lui die verklaring.





















